015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Wat is jou hartsbegeerte?

Wat is jou hartsbegeerte?

Sunday, 9 August 2020 - 9:00am
Dominee: 
Teks: 
Psalm 37: 1 – 11 Romeine 8: 31 - 39 Teks: Psalm 37: 4 – 5

Wat gebeur vandag in jou hart? Bang, onseker, benoud of eensaam. Is jou hoop besig om soos water in die woestyn onder die sandsee van sorge te verdwyn? Daar is baie ander vrees en onsekerhede wat ons vreugde kan wegneem. Die Covid-epidemie het ‘n wêreldwye pandemie geword en miljoene ly onder die gevolge. Ons weet nog nie wat gaan die toekoms vir ons gaan inhou in die tyd na die pandemie nie. Die belofte in verse 4 en 5 kan ons op die verkeerde pad plaas as ons met die verkeerde gesindheid daarna luister. Hier staan dat die Here sal vir jou gee wat jou hart begeer. In Ps 37 word twee lewenshoudings teenoor mekaar gestel, naamlik die lewe van die goddelose en die lewe van die gelowige kind van die Here. ‘n Lewe met God en ‘n lewe sonder God. Baie keer lyk dit asog die lewe van die goddelose makliker is as die gelowige se lewe wat sy bes probeer om volgens God se Wet en Woord te lewe. Dit lyk asof die goddelose meer vreugde en voorspoed as die gelowige geniet. Die afgelope week het daar langs die bed waar mense wreedaardig op die plaas aangeval is, ‘n koevert gelê met hulle tiende daarin. Die vraag wat na vore tree is: is dit werklik die moeite werd om die Here te dien? Die Heilige Gees is die skrywer van die Bybel en ons Trooster. Daarom gebruik hy vir Dawid wat al oud geword het toe hy die wysheidslied geskryf het (v 25). Grysheid en wysheid loop mos saam. Dis eers wanneer ons besef dat ons onder en in God se hand is, dat ons kan doen wat ons vers 7 lees: “Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou, en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie”, wat sê vers 18 “die Here sorg vir die lewe van die opregtes.” Die onetiese optrede van skelms laat ons wonder waar die reg en geregtigheid is. Onthou jou van die gedagtes dat hulle lewe maanskyn en rose is. Wie deur geweld lewe, sterf deur geweld. So beleef ons dit in SA. Hulle huise is op sand gebou. Jesus Christus is ons rots. Bid dat die Here ons vandag ons brood sal gee. Hy weet wat jy werklik nodig het. Rom 8 leer ons dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie. Ons is oorwinnaars. Die Here ken die somtotaal van jou woorde voordat jy Hom vra – Hy sorg vir ons. Sorge moet nie jou lewe oorheers nie, maar dankbaarheid moet. Waarin lê jou vreugde? Die feit dat ons die Here kan loof as die Almagtige Skepper van hemel en aarde, moet ons lewe oorheers. Tydelike genot, aansien en voorspoed is wat dit is: Tydelik. Die geloof en vashou aan God het ewige waarde. Dit was die rede waarom Hy sy Seun na die aarde laat kom het. Om ons te leer hoe lyk geloof in aksie. Jesus Christus het sy Vader kom verheerlik op aarde. Hy leer ons om ons Vader te verheerlik. Ons kan God verheerlik as ons groei in ons insig en wysheid in God se Woord. En baie het nou meer tyd om die Bybel te lees en te oordink. Om al meer intiem in gebed met die Here te verkeer. Om in die pandemie ons voor God te buig en te vra wat Hy vir my lewe wil. Om in voorspoed en in teëspoed die pad saam met die Here te bly loop. God begeer dat ons sy Naam sal heilig, dat sy Koninkryk in ons lewe sal kom. Dat ons Hom sal eer vir die gawe van geloof en die Evangelie wat vir ons hoop gee.
God se belofte is: In alles is Ek by jou. As jy val, tel Ek jou op. Ons is nie teen die Bose , kwaad en siekte gevrywaar nie. Ek stap die toekoms in met God aan my sy. Ons is nie die Lig nie – dit is Jesus Christus – ons moet die lig laat skyn. Ons is nie die woord nie – dit is ook Jesus – ons moet Sy woord verkondig. Dit is die ewige troos waarmee die Heilige Gees ons vandag troos. Mag die Here ons almal bystaan en versterk.