015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Ons Verbondsgod is ons lewe

Ons Verbondsgod is ons lewe

Sunday, 20 September 2020 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
Teks: Ps 139: 5, 6 ; Mat 28: 20b
Tema: 

VIDEO OPNAME

 

Skriflesing:

Psalm 139

Matteus 28: 16 – 20

Liedere:

Psalm 33: 1, 2

Psalm 38: 1, 17

Psalm 105: 5

Lied 184: 1, 2, 4

Ons Here weet alles van ons af. My hele lewe lȇ voor Hom oop. Ons dank Hom dat ons nie van Hom los is nie. Wanneer jy in ‘n lewende verhouding met God lewe, is jy dankbaar dat Hy jou aan Hom vasgemaak het met die bloedband in Jesus Christus.

Die lied bestaan uit 3 dele: verse 1 - 12, 13 - 18, 19 - 24.  Verse 1 – 12 handel oor God se Alomteenwoordigheid, verse 13 – 18 oor die wonder van menswees en verse 19 – 24 oor God se eer bo alles. Dawid het baie goed geweet dat hy nie vir die Here kan wegkruip nie. Alles is vir die Alwetende God soos ‘n oop boek. Daarom moet ons met vreugde oor die versoening in Christus lewe. Die woorde in vers 5 is ‘n versekering dat ons as gelowiges in ‘n omgewing wat al meer teen die Bybel in opstand kom, altyd in die hande van die Here is. Letterlik is ons van alle kante beskerm deur die handpalms van die Here. As kind en erfegenaam in Christus kan ons hier ons krag ontvang. Ek is deel van sy genadeverbond.

Ek wat ‘n vyand van die Here was, het kind geword. Ek is van nou af tot in ewigheid welkom in my Vaderhuis. Die doop verseker ons van die feit – Jy kry deel aan Christus se kruisgenade. Hy ondergaan die angste van die hel, Hy sterf en red my juis deur die wapen van doodsangs – die kruis. Toe Christus deur almal verlaat is om die stryd teen ons doodsvyand te stry, breek redding aan. Die bewys van liefde is te hoog vir ons begrip. Die apostel Paulus skryf dit ook: Vir ‘n goeie mens sal ons dalk nog bereid wees om ons lewe te gee, maar vir ‘n vyand? Verstaan ons die grootte van die liefde wat God vir ons het?

Ons sien dit in die handeling van die doop. Die simboliese handeling van die afwassing van ons sonde. Die troue Verbondsgod plaas vandag weer Sy merk op ‘n verbonskind uit genade. Geen mens kan dit verdien nie. Ek is duur gekoop met bloed van die eie seun van God. Waarom? Hy het my gemaak. Dawid skryf oor die wonder van God se skepping sonder om deur ‘n mikroskoop te kyk. Sy lens is die Heilige Gees wat aan hom bekend maak dat die Here ons Skepper is. Die 53 vertaling gee vers 13 en 14 so weer: “Want u het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed”. Vir die Jode was die niere die setel van die gewete.

Maar vir Dawid is die belangrikste saak: Die Here ken my van voor my geboorte. Dit vervul hom met absolute verwondering. Die goddelose wȇreld kan my moed en spoed breek. Dit kan maak dat ek dink dat die Here my verlaat het. Dit voel asof die Here afsydig teenoor my is. Hy verhoor nie my gebede nie. Ons vra vir uitkoms en ons kry nie verhoring nie.

Dawid het dit so beleef toe sy vyande teen hom opgestaan het. Sy eie seun wou sy regering omverwerp. Ons groot troos is die Gees van God wat in ons kom inwoon en ons gees rustig maak om uit die verhouding met God te leef. Sy beloftes staan vas. Die Here kom verseker ons vandag weer dat ons aan Hom behoort. Christus se belofte net voor sy hemelvaart oorspan die tyd tussen hemelvaart en wederkoms. Die Here belowe ons: “Ek is by julle, al die dae van julle lewe”. En ons lewe met ons oë op Hom. Hy gee uitkoms op die regte tyd, want Hy het my nuut gemaak om na Sy wil te vra en Hom te vertrou dat Hy getrou is.

Die lewende God wat regverdig is, het ons regverdig verklaar. Daarom is Sy vyande, my vyande. Die verdraaiiers en veragters van die Goddelike woord, sal voor Hom kom staan. Intussen kan ek deur die krag van die Heilige Gees belydend leef dat ek nou genadetyd het. Ek moet God se liefde uitleef. Hy is by my. Elke oomblik is ek in Sy hande. Ek wil op Sy pad van waarheid bly. Hy moet my hart ondersoek. Ek is veilig tot in ewigheid. Hy omsluit my van alle kante. Glo dit.