015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Jy is sewe maal geseënd as strydende kerk van ons Here Jesus Christus

Jy is sewe maal geseënd as strydende kerk van ons Here Jesus Christus

Sunday, 30 August 2020 - 9:00am
Dominee: 
Teks: 
Op 1: 1 – 8, Op 22: 6 – 7; Mat 5: 3 - 12

VIDEO OPNAME

Lees

Openbaring 1:1-8 

Openbaring 22:6-7

Matheus 5:3-12

Fokus vers Openbaring 1 vs 3

Sang: Ps 100: 1, 4 ; Sk 15-2: 1, 3 (Ps 18 se wysie)

Jesus se prediking op aarde begin met die woorde: Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. In die Evangelies en Handelinge kom die begrip “Koninkryk van God” 61 keer voor en die begrip “Koninkryk van die hemel “ 31 keer. Christus kom vestig ‘n hemelse koninkryk. Daarvan getuig die Openbaring van Jesus aan Johannes. Die aarde met sy sonde is aan die verbygaan. Jesus kom terug, net een keer.

In Op 1 vers 3 lees ons dat die Here die sal seën wat die woorde van die profesie lees en dit glo, want die einde is hier. Die woord vir seën of salig is in die Grieks: makarios. En hiermee saam nog 6 verdere seëninge van die Here. Lees: Op 4: 13; 16: 15; 19: 9; 20: 6; 22: 7; 22: 14. Omdat hierdie saligsprekings soos ‘n goue draad deur die profesie loop, verstaan ons daaruit wat die doel van die skrywe is. Behalwe dat ons mag weet dat Jesus se wederkoms NABY is, mag ons ook weet dat die kerk/bruid deur Christus BEWAAR word tot saligheid. Hy sterf nie verniet nie, Hy bring vergifnis van sonde en gee vir ons die bleikmiddel vir ons vuil klere. Sy bloed maak ons skoon. En net skoongewastes mag ingaan in die nuwe stad en van die vrug van die boom van die lewe eet.

Daarom is dit belangrik om te hoor: lees die Woord. Die Woord verduidelik God se plan en leer jou hoe om by die plan in te pas. Die eerste saligspreking is die basis om die res van die profesie te verstaan. Ons leer hoe Christus die draak oorwin wat die kerk wil vernietig. Deur Hom is ons meer as OORWINNAARS deur Hom en deur die verlossingswerk is ons 7 maal salig.

Christus kom neem die geheim weg en maak aan ons die pad wat die vader met die mensdom volg aan ons bekend. Niemand kan God se kinders uit Sy almagtige hande ruk nie. Adam kry ‘n bewaak en bewerk-opdrag, ons kry ‘n bewaar, glo en versprei-opdrag. Almal moet die Woord hoor. Daar sal spotters wees, daar sal ontkenners wees, maar dit bly ons opdrag om te gehoorsaam. Ons sal selfs doodgemaak word, deur gehoorsaam te wees. Daarom is daar seën vir die wat glo en doen,hulle werke volg hulle. Wat ‘n troos!!

Moenie geestelik aan die slaap gevang word nie, ook in die kerk is daar afgode. Gelowiges moet waaksaam bly teen die veroekings van die tyd. Daar is nie ‘n virus wat ons gesondheid bedreig nie, maar ook die humanisme en bewondering vir sport- en sangsterre wat ongekende sterstatus het. Hulle bepaal die gees in die wȇreld. Kyk die bewegings wat deur hulle aksies momentum kry. Nie net altyd negatief nie, maar dit gebeur vanuit menslike perspektief. Die kerk se werk is om God se reg te verkondig. Ons moet hoorbaar en sigbaar bly, sonder om ons karakter as God se bruid prys te gee. Was Christus radikaal in sy prediking? Ja, bekering is wortelverandering en terugdraai om God in jou lewe te verheerlik. Daarom sal slegs die wat rein bly en hulle roeping uitvoer na die bruilofmaal van die Lam genooi word.

Daarmee skuif ons uit ons tyd uit na die lewe na die terugkeer van ons Here Jesus. Onthou die gelykenis van die 10 meisies – wees altyd gereed, selfs in die middel van die nag. So baie artikels handel oor die tekens van die tyd, pasopmoenie verlei word nie. Paulus se opdrag aan Timoteus geld nou nog: Bly by wat jy geleer het, moenie dat jou fokus skuif nie. So baie dwaalgeeste word aangebied as geloofwaardig, dat juis gelowiges swig en wegkyk van die Here kyk en op ander sake fokus.

God bewaar ons. Babilon wil ons insluk en vernietig. Oor eeue en onder swaar vervolging deur konings en pouse, het die Here Sy bruid bewaar en by die waarheid gehou. Danksy Luther en Calvyn is die beginsel neergelȇ om Skrif met Skrif te vergelyk en om na die grondtale te kyk vir verklaring. Tussendeur hoor ons die halleluja-koor wat jubel en juig, want die fokus is God en dit wat Hy toelaat om te gebeur. Die kerk werk onder die leiding van die Heilige Gees om die trourok klaar te maak. Die oes moet ingesamel word. Oud en jonk, groot en klein het die roeping.

Jy is ‘n gas by die onthaal. Die bruid en haar bruidegom gaan een wees. Die Here het die satan gebind, maar hy wil graag sterk lyk. Ons sterwe is ons opstanding in die nuwe lewe. Dit is ‘n oorgang wat uitloop op die vereniging van liggaam en siel op die dag van die Here. En daarom herhaal die 6de saligspreking die feit dat die woord ter harte geneem moet word. Bid die lig en leiding van die Heilige Gees om by die lees werklik te verstaan wat God ontsluier.

En Op 22: 14 bring ons weer by die wat hulle klere was – die gebooie van God gehoorsaam. Wat luister met ‘n hart wat weet dat ons ten dele ken en verstaan, dat ons volkome afhanklik is van God se genade. Maar dat ons nie moet byvoeg of weglaat nie. Soos die Bybel begin met die mens in die paradystuin eindig die Bybel weer met die mens wat nou vrylik van die vrug van die boom van die lewe mag eet.  

Hoe heerlik sal die hemel nie wees nie, maar daar is ook ‘n buitekant. Diegene wat nie na die Woord wou luister nie. Ons moet die Here reg inwag om saam te roep: Amen! Kom Here, Jesus!   

Mag die Here ons seën in ons daaglikse stryd gedurende die pandemie. Ons is as bruidskerk afhanklik van God se liefde en trou. Seënwense vir almal toegebid.