015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Julle is ook die gebou van God

Julle is ook die gebou van God

Sunday, 15 November 2020 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
1 Korintiërs 3 vs 3 - 15

Sien Video opname hier

Lees 1 Korintiërs 3 : 10—15
Liedere

Psalm 107 : 1, 20

Skrifberyming 12-3 : 1, 2

Skrifberyming 14-3 : 2, 3 en 4

Skrifberyming 15-1 : 3, 4

Die feit dat ons vandag in die erediens bymekaar is, is menslik gesproke, ‘n wonderwerk. Die blote gedagte dat gemeentes vandag nog bestáán, is ‘n groot wonder en het niks met die mens se vermoëns of genialiteit te doen nie. Vanaf die vroegste tye het die satan deur mense probeer om God se werk in die wiele te ry. Paulus moes baie keer vir sy lewe vlug. Deur die eeue vind ons dat die mens telkens die pad byster raak, tewens die Kerk sélf, was baie keer aan die voorpunt van hierdie verkeerde paaie. ns Dink maar aan die Kruistogte – gewettige oorloë teen Islam. Die Rooms Katolieke Kerk met sy leer van die aflaat en die siening oor die sakramente en die posisie van die pous. Die Kerk is nie in die hande van mense gelaat nie. Net wanneer die mens dink dat hy al die kennis het om op sy eie aan te gaan en sélf te besluit wat die beste vir God se Kerk is, stuur die Here mense met besonderse gawes en met besonderse insig wat kan onderskei tussen reg en verkeerd. Luther, Calvyn, Guido de Bres. Ons eie kerk se geskiedenis – Dirk Postma en die stryd teen die Kollegialisme van de Mist.
God laat nie sy Kerk oor aan die giere en grille van mense nie, Hyself hou die Kerk in stand. En Hy doen dit deur gereeld die Kerk te toets. Paulus sê die bouwerk van elke lidmaat sal getoets word. Paulus sê: “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Heilige Gees in julle woon nie?” Ons is die bouwerk en ons toets is met vuur. Die kerk is waar God se kinders in die wêreld leef. By ons werk en by ons huis is ons elkeen die verteenwoordiger van God se huishouding in die wêreld. Deur die doop word ‘n kind deel van hierdie huishouding van God, word daardie kind self ook deel van die gebou wat die heilige algemene Christelike kerk genoem word – die gemeenskap van die heiliges. En Paulus sê dat waar elkeen van ons kerk is, daar sal ons deur God se vuur getoets word. Hierdie toets is om vas te stel of ons besig is met bouwerk of brouwerk? Hoe moet ons werk lyk? Wanneer ons ‘n huis bou verg dit baie beplanning. Ons moet saam met die bouer van geestelike huise, God, beplan en bou bid in afhanklikheid. Ons huis se fondasie moet vasstaan op die geloof dat Jesus Christus ons enigste Verlosser is. Hy is die Logos – lewende Woord.

Ons hele Christelike geloof staan of val by die belydenis dat Jesus Christus waarlik die Seun van God is. Ons manier van kerkwees, ons tradisie kan verander, maar ons belydenis van Jesus Christus bepaal die wese van ons geloof. Ons staan geanker op hierdie fondament. Wanneer die fondasie reg is, kan ons saam met God begin om die mure te bou. Die Heilige Gees is die sement waarmee ons huis se boustene aanmekaar gehou word. Die sement is die belydenisse van die kerk – waarheid. Dit bind ons saam tot ‘n sterk eenheid. Die reformasie roep 3x geskrifte teen dwaalleer na vore. Telkens wanneer ons in die erediens byeen kom, word die stene van ons huise verder vasgemessel. Elke keer wanneer ons uit dankbaarheid iets doen in die gemeente, is ons besig om boustene te lê in God se huis. Of dit nou beteken om op die Kerkraad te dien of om Katkisasie aan te bied of om iets te reël. Wanneer hierdie stene aanmekaar geheg word deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees, bly ons huise staan in krisistye.
God is die dak wat oor die huis gebou word. Die dak van die huis beskerm ons teen alle elemente in alle seisoene van die lewe. Koud, warm, sonskyn of maanskyn. Wanneer God ons dak is, kan ons weet dat ons bouwerk die aanslae van die wêreld sal weerstaan. Weet ons sal dit ook die vuur wat God stuur kan weerstaan. God ons Vader, is die beskermer van ons huise. Die vensters en die deure is lidmate. Deur ons kry die wêreld die geleentheid om te sien wat binne God se huishouding aangaan. Kry mense die geleentheid om te sien of hulle ook deel wil wees van God se huishouding. As die vensters vuil is, of as die deure toe is, sal mense nie kan sien wat binne die gebou gebeur nie. Die wêreld sit met groot oë en ore na die Christene en kyk en wag dat ons ‘n misstap begaan. Koerante reageer en blaas ‘n saak op wanneer predikante betrokke is. Dit is asof almal hulle verlustig wanneer Christene iets verkeerd doen of sê. Petrus sȇ dat ons onberispelik moet wees. Dis baie moeilik, want ons is almal sondaars. Ons vensters mag nie vuil wees nie. Mense moet deur dit wat ons doen en sê, so aangespreek word, dat hulle graag deel wil word van ons huis. Dit wat iemand van buite deur die vensters en deure van die gebou sien, moet hulle inspireer om dadelik deel te wees. Vuil vensters en toe deure stoot mense af. ‘n Christen wat nie leef en optree soos die Bybelse voorskrifte nie, jaag mense weg. Daarom het ons as kerke aanmekaar die lig, leiding en bystand van die Heilige Gees nodig. Volgens vers 13 gebruik elkeen verskillende materiaal waarmee ons die huis verder wil versier. Nie almal het dieselfde vermoëns of gawes nie. Sommige kan ouderlinge wees, ander weer diakens, sommige kan onderrig gee, ander kan finansiële beplanning doen, nog ander kan weer evangelisasiewerk doen, orrel speel ens. Verskeidenheid gawes. Elkeen het iets wat hy/sy vir die gemeente kan bied. Sommige bou met goud, ander met silwer en nog ander met edelstene, sommiges sal help bou met hout of gras of strooi. Dit maak nie saak wat ons gebruik nie, solank ons nie die bouwerk afskeep nie, want die dag gaan kom wanneer God elkeen se bouwerk met vuur sal toets. Daarom is die Kerk nie fisiese geboue nie. Dit is nie ‘n instituut of organisasie nie. Die Kerk bestaan uit mense wat in ‘n geloofsgemeenskap saamkom en toegerus word om hulle geloof in die wêreld uit te leef. God toets ons bouwerk waar ons elke dag in die wêreld leef. Wanneer en in watter vorm die toets kom, weet ons nie. Maar dat dit wel sal plaasvind, kan ons nie betwyfel nie. Die vuur sal die bouwerk van ons eie lewe deeglik toets! Die Here stuur Luther om te protesteer teen verkeerde praktyke. Dit leer dat ons deur Jesus Christus uit genade alleen gered sal word, is deur die RK vervang met ‘n leer waarin ‘n mens jou sonde kon afkoop deur ‘n boetedoening voor ‘n priester. Die Kerk was nie meer gebou met God Drie-enig nie, maar boustene wat deur tradisie aanmekaar gebind is.

God se vuur het die Kerk blootgelê vir wat dit was: ‘n eiesinnige en eiewillige organisasie. Die toets raak ons egter meermale op ‘n meer direkte wyse. In my persoonlike lewe sien ek die toets partykeer duidelik. Sal God se vuur wys dat ek stene van naasteliefde het en nie stene van meerwaardigheid nie? Dat ek die gawes van die Gees leef.
Miskien lê my toets in dood van ‘n geliefde. Of wat en hoe ek doen en optree in finansiële krisis. As my huis met God Drie-enig gebou is, sal ek vind dat ek hierdie krisis kan weerstaan, maar as ek met sandstene gebou het, sal ek sien dat hierdie gaping wat deur ‘n geliefde gelaat is, nie maklik herstel kan word nie. My huis is dan geneig om inmekaar te tuimel. Ons huwelike word baie keer deur God se vuur getoets! – Suid Afrika het die hoogste egskeidingsyfer in die wêreld, miskien is die bouwerk wat ons as kerk doen, nie goed genoeg nie. As gemeente moet ons weet, ons staan onder God se toets. Daar sal ‘n dag kom wat God ook hierdie gemeente sal toets en kyk of die bouwerk goed is. die vraa: Is ons bouwerk geanker op Jesus Christus as fondasie? Is die Heilige Gees die sement wat ons boustene aanmekaar bind? Is ons boustene stewig en nie ‘n klomp grille en giere waarmee ons bou nie? Is God die dak oor ons koppe wat ons sal beskerm? Is ons vensters en deure vir God, sodat mense kan sien en met vreugde deel wil word van God se gebou? God se toets, sal ons die antwoorde gee. Daarom moet ons volhard in ons werk. Die oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van die geloof.
Martin Luther het saam met die Here krake in die bouwerk raakgesien. Hy het die handleiding bestudeer. Ons moet eers die moets en moenies van bouwerk leer, voordat ons ‘n huis kan begin bou. Netso werk dit ook met ons geestelike gebou. Ons moet in die handboek van die Lewe kyk waar om te begin en leer hoe om reg te bou. Deur die Bybel te lees het Luther die krake raakgesien en geleer om weer op die regte fondasie te bou. Die Bybel leer ons hoe om te bou sodat ons God se toets sal weerstaan. Sonder die Bybel, kan ons vergeet om bouers vir God te wees. As ons wil sien dat ons gebou God se toets we-erstaan, moet ons die slagspreuk van die Reformasie, ons eie maak: “Sola Scriptura”. Die Bybel alleen. Lees, kyk en leer jouself en jou kinders.