015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | God wys ons hoe Almagtig Hy is

God wys ons hoe Almagtig Hy is

Sunday, 26 July 2020 - 9:00am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Openbaring 12 vs 1 – 6

Lees Openbaring 12 vs 1 – 6

VIDEOOPNAME

Geliefdes in ons Here Jesus Christus die hele brief handel oor stryd en oorwinning. Hoofstuk 12 word allerweë beskou as die belangrikste hoofstuk om die Openbaringe te verstaan. 1 – 12 handel oor die stryd en 13 – 22 oor die oorwinning. Die belofte van Gen 3: 15 word waar - die stryd tussen God en Satan/draak/Duiwel kom hier tot ‘n klimaks. Die stryd tussen die saad van die vrou en die saad van die slang word hier beslis. Johannes sien weer dramaties aangrypende visioene in die hemel.

Hy sien 2 aangrypende tekens. Die van ‘n swanger vrou wat besig is om geboorte te skenk en tegelykertyd ‘n groot vuurrooi draak wat gereed staan om die kind dood te maak. Die vrou word in ‘n groot visioen uitgebeeld – dit is baie belangrik. Sy is aangetrek met hoogheid – son; heerskappy – maan; en oorwinning – die kroon van 12 sterre. Sy is simbolies die moeder van alle gelowiges. Dit is Christus se bruid wat sy lof en heerlikheid moet verkondig. Uit die gelowige saad van die vrou word die kind, Jesus, gebore. Dit wat die Here eeue lank belowe het, word waar. Die kind is gereed om gebore te word. Die spanning is voelbaar, want die vrou gil reeds in pyn.

En dan sien Johannes die onheil wat dreigend gereed staan om die kind dood te maak. ‘n Vuurrooi draak. Hy is vol haat en moord vir die Koningskind in die stal – daarom is hy rooi. Hy probeer soos die Here wees; daarom doen hy hom voor as slim – 7 koppe – en asof hy baie krag en mag het – 10 horings. Hy het ‘n derde van die sterre saam met hom gesleep – dus het hy al groot sukses behaal, want ‘n derde van die engele in die hemel het hom geglo en saam met hom gegaan. Hy het baie aanhangers wat die kerk wil stop.
Die spanning laai op, want die draak wil die kind opvreet. Van die begin van Jesus se geboorte af het Satan baie planne gemaak om Jesus te vermoor en uit te skakel. Herodus maak al die seuntjies jonger as 2 jaar dood. Ons lees hoe dat die Fariseërs planne maak om Jesus dood te maak.

Die Satan kom probeer vir Jesus verlei as die Gees Hom 40 dae in die woestyn invat. As hy honger is kom die Satan met die verleiding - Maak van die klippe brood. Maar Jesus voltooi Sy werk. Hy bly gehoorsaam aan sy Vader en oorwin aan die kruis en verlos ons van ons sonde. Die Duiwel/Satan/draak is ‘n slegte verloorder. Hy het ‘n plan B. Hy verloor die geveg in die hemel, maar op aarde is daar baie wat glo dat hy sterk is en dat hy mag het. Mense verloor vinnig die geveg teen die duiwel, want sedert die paradys tyd, kom hy met ‘n halwe waarheid na die mens toe. Hy wys net die goeie kant. Ons is tans in ‘n debat oor lewe. Watter lewe is belangrik? Alle lewe is belangrik. God is die lewegewer. Die kerk se lewe is belangrik. Maar die kerk is in die midde van die stryd. God bevry almal wat berou het en sonde bely. Die draak hou nie van die kerk se boodskap van dien die Here alleen nie. Hy wil gedien word. Hy val ons aan en maak die boodskap van vertroue in God belaglik. Hy gebruik menseregte om die Bybelse boodskap te verwater. Die grens tussen waarheid en leuen vervaag. Alles is reg. Dit moet die mens eer, nie vir God nie. Die Here bewaar die ware kerk deur hulle na die woestyn te vat. Die woestyn is beeld van god se liefde en trou. In die woestyn is jy 100% op God aangewese. God se sorg en woestyn loop hand aan hand - Israel word vir 40 jaar dag en nag versorg, die kraaie versorg Elia in die woestyn. In die woestyn leer jy dankbaarheid vir God se genade, liefde en trou. Die kerk kan nie die wêreld se vriend wees nie. Daarom stuur die Here vir Migael – Wie is soos God? Die draak verloor die geveg, want hy vra – Wie is soos ek? Die uitslag bring 2 gevolge: die draak is uit die hemel uitgegooi. Prys die Here. Hier op aarde loop hy rond soos ‘n brullende leeu. Hy wil ons reis op aarde ‘n lewende hel maak, want dit gaan sy uiteinde wees - ewig sonder God. Sy tyd is min en hy is desperaat. Ons troos - Kyk na die stryd op aarde teen die agtergrond van die oorwinning van Christus. Die draak beplan en verlei, God hou sy kerk vas. Alles behoort aan ons Here en sy Gesalfde – daarom die grens van 1260 dae. Die volle tyd van God. Hy bly in beheer. Ons verkeer elkeen in ons eie woestyn. Sommige se woestyn is in die pandemietyd droeër en swaarder. Jy ervaar dalk jou woestynreis as oneindig lank as gevolg van siekte. Jy het dalk vandag meer vrae en twyfel as antwoorde, troos en rigting. Bid God om visie, insig en uitsig op die hede en toekoms. Bid Hom vir kalmte en rustigheid om goeie en deurdagte besluite te neem. Die Here gee vir ons arendsvlerke van geloof om van bo af na ons lewe te kyk deur die bril van die HG. Satan is werklik magteloos teen God. Hou vas en bly jy by wat jy geleer het. Mag die Here ons bewaar. Amen.