Waar vind ons troos in ‘n mistroostige wereld

Skriflesing

Lees Jesaja 43: 1 – 13

Fokusverse: Jesaja 43:1-3; 9-10

HK Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
Hierdie Bybelverse is sekerlik in die meeste van ons se Bybels duidelik onderstreep. Want as dit moeilik gaan – as dit voel asof die wêreld jóú gekies het om op jou inmekaar te val – is dit die grootste troos om te hoor: “Jy is Myne.”
Ek het jou geskep. Ek het jou gevorm. Ek het jou op jou naam geroep. Ek is by jou. Jy is Myne!
Wie is “Ek”? Ek is die Here jou God. Ewig, onveranderlik: Ek is. Ek het die redding aangekondig. Ek is die lewende God!
Dit gaan natuurlik in die eerste plek oor die volk van die Here wat in ballingskap weggevoer is. Onthou, dis in die tweede hoofdeel van Jesaja dat hoofstuk 43 staan, en die deel is ongeveer 150 jaar nadat Jesaja as profeet in en om Jerusalem opgetree het, geskryf. Toe Jesaja die volk gewaarsku het en aangemoedig het om al hulle vertroue en geloof net in God te stel, was hulle nog in hulle land. Nou het die wiel gedraai. Die volk hét nie in God geglo soos hulle moes nie, hulle hét die spoor byster ger-aak … die tragiese gevolg was dat hulle hulle land verloor het. Hulle is in ballingskap weggevoer en sit in ellende in die vreemde. En is troostelose omstandighede kom hierdie boodskap van hoop en troos nou na hulle toe.
Hoor Israel, verbondsvolk: Jy is Myne. Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Baie van die ballinge het seker skeef opgekyk. Hier sit hulle in hierdie ellende. En nou dié boodskap. Wáár was God toe die magte van Nebukadneser die stad beleër het en hulle van honger gesterf het? Hoekom het Hy nie gekeer dat hulle deur ’n vreemde volk oor-weldig is en uit hulle land verdryf is nie? Wat is die profeet se saak? Die werklikhede lyk so anders. Ons is ver van ons vaderland, weg van ons stad en die tempel af. Ons huise is verwoes. God het van ons vergeet toe ons Hom nodig gehad het. Daarom glo ons nie meer nie.

Toe die Here deur Jesaja gepraat het, het niemand geluister nie: “Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun. Daarom word hierdie sonde vir julle ’n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort” (Jes. 30:12-13). Dit was nie God wat húlle en húlle voorvaders vergeet het nie, diit was húlle wat vir Gód vergeet het. In liefde en sonder ophou het die profeet destyds gewaarsku, maar die volk wou nie die Here vertrou nie. Hulle het op hulleself en op hulle perde staatgemaak. Nou hoor hulle weer ‘n profetestem. Daar is troos en hoop in daardie stem. Dit vertel van ’n God wat nie vergeet het nie. Van God wat redding aankondig. Hy herinner Sy volk aan die verlede en rig dieselfde tyd hulle oë op die toekoms. “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,” sê Jahwe. Israel: Jy is vir my kosbaar. Kosbaar? Kan dit waar wees dat die Here nog aan ons dink? In Psalm 8:6 sê die digter: “U het hom ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.”
Ons is kosbaar vir God. In 1 Petrus 1:18-19 sê God immers dat goud en silwer nie werklik kosbaarhede kan koop nie. Daarom stuur ons troue Vader Sy eie Seun en het Hy ons met sy bloed gekoop. Wanneer ’n mens deur die lewe stap dan sien jy mense wat soos Israel gevoel het. Mense wat alles verloor as gevolg van die pandemie en ander omstandighede. Daarom bly ons enigste troos in lewe en in sterwe juis dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.
Omdat Christus ons verlos het, bewaar Hy ons ook. Die HK bely dan ook dat Christus “my so bewaar dat sonder die wil van my hemelse Vader geen haar van my hoof kan val nie.” Dit beteken nie vrystelling van leed en swaar nie, MAAR toesegging dat geen leed ons sal tref nie, tensy die hemelse Vader dit so tot ons beswil toelaat. En dit troos ons om te weet dat die hemelse Vader se wil altyd goed en reg is. Daarom bely ons “dat alles tot my saligheid moet dien.” Al gaan ons deur ’n woestyn, ons het ‘n Vader wat versorg – brood en vleis. Al gaan ons deur diep waters, hulle vermorsel jou nie teen die rotse nie, maar reinig ons en neem ons vorentoe.Al gaan ons deur gloeiende vlamme, hulle verteer ons nie, maar louter ons om sterk te wees vir die toekoms.
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom. 8:28). Ons Troos! Oor die sekerheid van die enigste troos word gehandel in die woorde waarin die HK dit stel: “daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe.” Die ewige lewe waarvan Hy my verseker is meer as die hemellewe hierna. Ons ewige lewe is reeds in ons besit. Jesus het gesê: “Wie in My glo, het die ewige lewe (Joh. 6:47). By ons geboorte ontvang ons die lewe, by ons wedergeboorte die ewige lewe. Die ewige lewe is die nuwe lewe uit God wat nie kan verdwyn nie. Wie die lewe ken, word nie, maar is reeds ewigheidsmens. Hierdie sekerheid gee die Heilige Gees ons. As outeur van die Skrif spreek Hy hierdie versekering uit in God se Woord. Ons sekerheid lê in die beloftes van die Here en by name die belofte van Sy verbond. Die Heilige Gees wys ons egter nie alleen op die vastheid van die verbondsbelofte nie maar Hy vernuwe ook ons lewe. Die Kategismus bely dan ook: “Hy (Heilige Gees) maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom (die Here) te lewe.” Die ewige lewe wat uit die wedergeboorte voortkom openbaar hom dan, deur die werk van die Heilige Gees, in gewilligheid en bereidheid om voortaan vir die Here te leef. Ons sal nooit tydens ons aardse lewe die volmaakte bereik nie. Ons sal maar altyd saam met Paulus moet sê: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (Rom. 7:19).

Daarom besef ons weer: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom. 7:24).Maar dan voeg hy dankbaar daaraan toe: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom. 7:25). Want deur die getuienis van die Heilige Gees weet hy dat die ewige lewe, wat hy reeds hier besit, eenmaal in volle heerlikheid sal ontplooi.
Daarvan is hy seker, want die Heilige Gees lei hom in al die waarheid. Dit is ons ewige troos. Wat hou die toekoms vir ons in? Wat lê anderkant môre en oormôre? Niemand weet nie. Nie presies nie. ‘n Jaar gelede het ons gehoor van ‘n virus in China. Nou bestaan ons lewe daaruit om nie besmet te word nie en om almal wat siek is, gesond te kry. 2020 was totaal anders as wat ons verwag of beplan het, vir die meeste verrassend en diep ontnugterend. Die afgelope jaar het opnuut weer op ’n pynlike manier die onsekerheid en die broosheid van die mens se bestaan, onderstreep. Dit hang dié dinge waaraan die mens sy hart en hoop in die hede gehang het aan losse skroewe. Ons lewe is inderdaad maar soos ’n damp wat ’n oomblik verskyn en dan weer verdwyn; hy weet nie hoe môre sal wees nie (Jak. 4:14). En tog is ons nie in die duister nie. Ons weet verseker: In 2021 se lewe en in sterwe behoort ek aan die Here.
Mot en roes kan dit nie verniel nie en diewe kan nie ons troos steel nie. Ons ewige lewe is nie afhanklik van die virus, wisseling in rentekoerse of die skommeling van die goudprys nie en is defnitief nie uitgelewer aan die nukke en grille van die noodlot of die onverbiddelikheid van die dood nie. Ons toekoms is veilig, vas en seker. Deur God self gewaarborg in Christus se versoeningsbloed. Kan ons dit regtig glo? Ja! God bewaar my!
Die lewe is op sy beste onveilig. Daarom klink die belofte van veilige bewaring vir die mens so troosryk. God het sy leër rondom die mens getrek, sy lyfwag langs hom gestel.
Hoor weer Ps 91 se woorde: “Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie”.
Dit is jou enigste troos in lewe en in sterwe. Amen