Kyk VIDEO OPNAME hier
Skriflesing |
Matteus 5: 1 – 16 Fokusteks: Matteus 5:16 |
Liedere |
Psalm47: 1, 4; Psalm 145: 1, 10; Psalm 45: 9, 10; Psalm 33: 6, 10 |
Die pandemie se impak is groot en word by die dag groter. Werkloosheid is besig om ons land lam te lȇ. Rassespanning, korrupsie, moord en geweld is op almal se lippe. Op politieke gebied was ons nog nooit in so ‘n duistere en chaotiese toestand nie. Op finansiële gebied hang ons letterlik aan ‘n draadjie oor ‘n onseker donker afgrond. Misdaad is besig om buite beheer te raak. Wat moet ons doen? Ons moet God se wysheid in ‘n dwase wȇreld bring. As ons nie meer God se wysheid in die wȇreld indra nie, verloor ons ons roeping. Sommige mense meen dat ons maar net kan hoop en bid dat ‘n ander politieke party so gou moontlik aan bewind moet kom. Hoe moet ons die situasie beoordeel? Hoe ‘n mens ook al na die huidige situasie kyk, oor een ding moet ons saamstem: Iemand moet die leiding neem. Ons Here Jesus Christus gee in die gedeelte, wat ons saam gelees het, die antwoord as Hy sê: Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. * Hoe maak ons seker dat ons sout en lig is? * Wat is die regte manier om sout en lig te wees? Wat doen sout en lig? Met die beeld van sout en lig verduidelik ons Here Jesus presies wie ons is en wat ons moet doen. Jy moet jou sout werd wees, kom uit die antieke gebruik om met sout betaal te word. Die Romeinse soldate het sout as betaling ontvang. Ons woord salaris kom van die Latynse woord vir sout. Sout gee smaak aan kos en is ‘n ontsmettingsmiddel. Lig verdryf donker en laat jou sien wat gebeur. Lig word met waarheid geassosieer en ons moet met smaak aan standpunte en lewenswyses wysheid gee. Daarom sê Jesus: “ ‘n Mens steek ‘n lamp op en sit dit op ‘n lampstaander en dit gee lig vir almal in die huis”. Sout verdwyn in die proses om te geur. Olie in die lamp raak op om lig te gee. Vgl die gelykenis van die 10 meisies. Dit is opofferende werk om sout en lig te wees. Sout en lig beklemtoon gelowiges se optrede in die openbare lewe. Sout/kerk is daar vir die kos/wȇreld. Egte liefde kan nie weggesteek word nie. Die lewe op aarde is die lewe van ekstreme: tussen armoede en rykdom (Matt. 5:3), dood en lewe (5:4), sagmoedigheid en arrogansie (5:5), geregtigheid en diskriminasie (5:6), genadeloosheid en barmhartigheid (5:7), onreinheid en reinheid (5:8), oorlog en vrede (5:9) en vervolging en hemelse beloning (5:10-12). Daarom beteken sout vir die aarde dat gelowiges betrokke moet raak by die aarde en sy lewe, omdat hulle hulleself moet beskou as die mees belangrike bestanddeel van hierdie lewe. Die voorwaarde is dat sout sy soutgehalte moet behou. Ons mag nie die kwaad van die wêreld met kwaad vergeld nie. Ons oorwinning is in Christus. Op die manier is ons sout en lig. Op die manier, sien ander mense ons goeie werke. Mense sien wat ons doen, hoor wat ons sê en kom agter wat ons gesindheid is. Hulle verstaan dat ons burgers van God se koninkryk is en dan kry ons Vader wat in die hemel is al die eer. Omdat ons in ware geloof saam met ons Here Jesus leef, skyn Sy lig op ons. Ons is sy weerkaatsers. In hierdie wêreld en hierdie land waarin ons ons tans bevind, is dit die enigste ware lig. As ons niks doen nie, is ons die naam Christen nie werd nie. Dan is ons sout wat verslaan het en lampe onder emmers. Hoor ons opdrag: Wees sout en lig en straal jou identiteit uit!! |