Die brief kom van Paulus, Silvanus (Silas se Latynse naam) en Timoteus. Paulus beskryf die gemeente as een: “wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort”. In die oorspronklike Grieks staan daar letterlik “wat IN God …is”. En in hulle verbintenis aan God is hulle ook verbind aan alle ander gemeentes wat aan God behoort. Hulle bly in ‘n stad wie se hoofstraat deel van die hoofweg tussen die Ooste en die Weste was – die Via Egnatia. Die stad is vernoem na Alexander die Grote se stiefsuster en was een van die vrystede in die Romeinse Ryk – dit beteken dat daar nie in die stad Romeinse soldate gestasioneer was nie. Vir ‘n tyd lank is dit oorweeg of Tessalonika of Konstantinopel die hoofstad van die Ooste sou word.
Agv hulle ligging as ‘n hawestad kon hulle na hulle radikale omkeer ‘n groot invloed uitoefen op gelowiges en ongelowiges na oos en wes. Opvallend in hierdie eerste brief van Paulus waar hy reeds die tema van geloof, liefde en hoop gebruik as beskrywing van ‘n Christelike lewe wat die moeite werd is (vgl 1 Tes 5:8; Rom 5:2-5; 1 Kor 13:13; Gal 5:5-6; Kol 1:4-5). Hier is die klem van Paulus op die hoop, waaroor hy in verband met die wederkoms verder sal uitbrei. Dit is een van die mees fundamentele beskrywings van die Christelike lewe. En wat belangrik is, is dat dit so aksievol en konkreet beskryf word: 1) die werk van julle geloof, 2) die inspanning van julle liefde en 3) die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. Let verder op hoe vers 5-6 met die werk van hulle geloof te make het, vers 7-8 met die inspanning van hulle liefde, en vers 9-10 met die volharding van hulle hoop. ‘n Uitstaande samevatting van wat die Christelike lewe behels.
En deur hulle geloof, hoop en liefde word die Tessalonisense ’n model en klankbord vir al die gelowiges van Griekeland (2 provinsies van Masedonië en Agaje). Daarvoor dank Paulus God, omdat dit ’n kragtige getuienis is van die werk van die Heilige Gees. Dit alles word verbind aan die wyse waarop die evan-gelie tot hulle gekom het: 1) met woorde, 2) met krag van die Heilige Gees, en 3) met volle oortuiging. Hulle het die Woord in baie verdrukking ontvang. Op Paulus se rug het die gėselslae wat hy in Fillipi ontvang het, nog rou op sy rug gelȇ (Hd 16: 22 – 24; 1 Tes 2: 2). Maar hulle verkondig met groot vrymoedigheid die Blye Boodskap. Op 3 sabatte het Paulus vir die Jode uit die Ou Testament gewys dat die Jesus wat hy verkondig, werklik die Christus, die langverwagte Messias is.
En die gelowiges se reaksie bevestig dat God hulle liefhet en uitverkies het vir dié lewe. Let op hoe die uitverkiesing aan God se liefde verbind word. Die uitverkiesing word ook sigbaar in die gelowiges se ontvanklikheid vir die evangelie. Daar is ‘n innige band tussen Paulus en die gemeente. Hy verwys na hulle “as ons eer en blydskap”. Die uitverkiesing is iets waaroor jy kan juig as jy dit sien, nie iets waaroor jy kan spekuleer as jy dit nog nie sien nie. Baie Grieke en vooraanstaande vroue – vroue van leiers in die gemeenskap – is deur die Heilige Gees tot bekering gelei, saam met ‘n groepie Jode. Die Grieke het hulle afgode gelos om die lewende God te aanbid. Geen wonder dit het tot vervolging aanleiding gegee nie, want hulle bekering plaas ander mense voor ’n keuse. Lukas beskryf dit dan ook in Hd 17: 1 – 10. Hy het daar gewerk nadat Paulus moes vlug.
Die Trinitariese beskrywing van God regdeur die gedeelte val ook op. Soos God – Vader, Seun en Heilige Gees – saamwerk so doen Paulus-hulle ook. Die gloeiende beskrywing van hierdie gelowiges se ywer motiveer my in my eie volharding in geloof. As hulle so drasties en dramaties tot bekering kan kom en vir die Here kan begin lewe – na net 3 weke se bediening! – dan spoor dit my aan om meer te doen met wat ek oor die jare van die Here en ander gelowiges ontvang het (sommige meen dat Paulus langer as 3 weke daar gewerk het).
Paulus moes daarom deur middel van die brief aanvul wat nog in hulle geloof ontbreek het. Die evangelie wat op die gemeente gerig was, het in hulle persoonlike lewe en in die lewe van mense oor ’n baie wye gebied ’n geweldige uitwerking gehad. Die evangelie het gekom en het van hulle af weerklink. Paulus plaas “van julle af” met klem voorop, want die gemeente is die sentrum vanwaar die Woord versprei word. Die beeldspraak wat hier gebruik word, dui op ’n harde klank wat oor ’n wye gebied gehoor is en die voortbring of die weerklank van die oorspronklike klank ’n langdurige uitwerking het, want die klank vul nog steeds die lug. Die gemeente het inderdaad ’n klankbord van die evangelie geword, want die blye boodskap is met blywende resultaat voortge-eggo, oral, nie net in Masedonië en Agaje nie. Mense het oral daarvan gepraat sodat Paulus-hulle nie nodig gehad het om iets meer daaroor te sê nie (vgl. 1 Tess. 4:9 en 5:1).
Die gemeente wat die Woord met blydskap ontvang het, kon dit nie krampagtig vir hulleself hou nie, want die verspreiding van die evangelie was die resultaat van ’n dinamiese Christelike lewe. Die inhoud van die verhaal wat oor daardie gemeente vertel is, word in 1 Tessalonisense 1:9 en 10 vertel: hulle gasvryheid in die ontvangs van sendelinge, hulle radikale wegdraai van afgode en hulle draai na God, hulle blymoedige dien van die Here en hulle sterk verwagting van Christus se wederkoms. Paulus het verskeie kere berigte ontvang van die gasvrye ontvangs van predikers, wat ’n bewys was van die gemeente se liefde vir die inhoud van die prediking: Jesus Christus hulle Verlosser. Die verwondering oor die bekering van die gemeente het wye bespreking ontlok: die bekering het ’n negatiewe en positiewe aspek: Die omkeer is ’n finale wegdraai van die afgode en die draai van hulle hele lewe na God. Positief bring “hulle draai na God” hulle in ’n intieme, van-aangesig-tot-aangesig-verhouding met die ware God, sodat hulle die herstelde beeld van God volledig kan uitleef. Want bekering is nie om iets prys te gee nie, maar veral om Iemand – Jesus Christus te ontvang.
Die mens wat tot die lewende en waaragtige God bekeer is, tree uit diens van die afgode en tree toe tot die diens van die ware God. Om te dien is om met alles wat jy is en het tot God se beskikking te wees.
’n Lewe van voortdurende, volledige en volmondige diens aan God is deur die liefde gemotiveer en geïnspireer. Na die bekering is daar ’n “reeds” (diens aan God) en ’n “nog nie” (Christus kom). En daarom gaan diens aan God hand aan hand met blye en groot verwagting. Die verwagting sluit ’n vooruitgryp na dit wat sal kom en impliseer ’n aksie in die hede, naamlik die heiliging van my hart en lewe. Die opstanding van Christus is die bewysgrond en waarborg van sy wederkoms, want sy verlossingswerk met sy eerste koms, wat met sy opstanding op ’n oorwinning uitgeloop het, vorm die basis vir sy werk as Verlosser by die wederkoms. Die gemeente in Tessalonika was vir almal rondom hulle ‘n model (1:7) en boodskapper (1:8) van die evangelie en het met woord en lewe die evangelie versprei.
Wie en wat is ons in 2020?
|