Leef met die toekoms in sig

VIDEO OPNAME

Liedere

Psalm 18: 1, 14;

Skrifberyming 12-3: 1, 2;

Psalm 20: 1, 2

Lees Prediker 3: 1 – 22 Fokus: Prediker 3: 11

In Prediker 3 hoor ons ‘n vreemde uitspraak. Volgens v 21 is daar nie verskil tussen ‘n dier en ‘n mens se dood nie. Die mens sterf maar soos ‘n dier. Dit lyk asof Prediker 3 skouers optrek wanneer dit gaan oor die vraag wat met ons gebeur ná ons dood. As ons bolangs lees lyk dit of die Bybel sȇ: Mens en dier is min of meer dieselfde en sterf op dieselfde manier. In die tydperk tussen ons ge-boorte en begraafplaas verloop die lewe maar eintlik heel vervelig. Daar’s ‘n tyd vir alles. Tyd vir lag, tyd vir huil, tyd vir stryd, tyd vir vrede. Al wat jy dus kan doen, is om jouself te geniet. Dood jy, dood jy in elk geval nes ‘n dier.
Wanneer ‘n mens net met jou natuurlike oë na die lewe kyk, dan is dit presies hoe dit lyk. Die hele lewe lyk inderdaad soos ‘n sinnelose kringloop. En niemand het enige bewys dat die mens se lot na die dood van die dier s’n verskil nie. Beide se organe gee in, beide se harte gaan staan, beide se oë gaan toe. Beide se asemhaling gaan staan. Niemand kon nog ooit insien/inkyk wat daarna gebeur nie. Maar wat ‘n raak beskrywing is dit nie van hoe die ongelowige mens na die lewe kyk nie? Laat ek eet, drink en vrolik wees, want môre sterf ek tog in elk geval. Wat maak die mens méns? Antwoord. Die Here het die ewigheid in die mens ingestort. Die mens ein-dig nie wanneer sy organe ingee nie. Die mens het die ewigheid in sy binneste. Al kan niemand bewys dat die mens se gees ná die dood voortgaan nie. Al lyk dit of die mens nes ‘n dier sterf. Moenie jou oë glo nie! Glo die Skrif!
Volgens Prediker 11:5 gebeur daar ‘n wonder met ‘n fetus in moederskoot. Die Here plaas “iets” in daardie fetus wat nie tot stand kan kom deur fisiese entiteite wat saamsmelt nie. Die Here plaas ‘n siel binne-in die piepklein fetus. Dit besit en verkry die dier nie. Die mens het die “Olaam” (ewigheid) in sy hart. Die 1983-vertaling vertaal dit met “onbepaalde tyd”. Letterlik: die tyd wat bó die tyd verhewe is. Dit is die tipe tyd waarin God self leef. Wat is die kernkrag van Prediker 3? Dit openbaar vir ons watter dimensie die lewende God in ons lewens kom oopmaak wat van jou ‘n ware mens maak. Jy sal hierdie dimensie nooit raaksien/ontdek indien jy dit nie in die Woord sien nie. En, as jy dit nie sien nie, sal jy altyd voel asof jy ‘n gevangene is van tyd. Jy sal altyd soekende/rusteloos bly.
Ons kan absoluut niks doen aan tyd nie, behalwe om dit reg te gebruik. Jy kan die sterkste man wees, maar jy kan niks doen aan wat tyd met jou doen nie. Daar is ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om nie te plant nie.

Kyk na Prediker 3 se lys. Verse 1-9. Dis poësie. Daar is ‘n tyd wanneer ‘n getroude man & vrou mekaar kan omhels, maar daar kom ook tye wanneer dit nie moontlik is nie. Tyd om te spaar en tyd om weg te gooi. Wanneer jy na die Tehuis vir Bejaardes gaan, moet jy ontslae raak van byna al jou besittings. Tyd om oorlog te maak en tyd om vrede te maak. Tyd om te praat en tyd om stil te bly. Tyd vir geboorte en tyd vir sterwe. En ons kan niks doen aan hierdie tye nie. Geen wonder dat Salomo in vers 9 vra: “Wat kry die mens vir alles waarmee hy hom vermoei?” Dit klink vreeslik pessimisties. Maar, dit is nie. Dit is werklik hoe ons die lewe ervaar. Ons is werklik aan tyd gebonde. Dink maar hoe baie keer beplan ons dinge, maar dan werk dit nie volgens ons beplanning nie. Kyk hoe het die Covid-virus ons jaarprogram verander. Wat is dan nou eintlik die verskil tussen my en diere?
Diere is tydgebonde. Diere is sterflik. Ek is ook tydgebonde en sterflik. Wanneer hierdie gevoel tot ons deurdring, begin ons erg wonder oor die sin & betekenis van ons lewens. Prediker 3 openbaar aan ons dat die Here die tyd gemaak het en dat Hy ons in hierdie tyd geplaas het. Maar: Hy is bokant die tyd. Dink vir ‘n oomblik: Indien ‘n mens die Here ken, is jy (wat aan tyd gebonde is) in verhouding met Iemand wat verhewe is bokant tyd! Die Here staan buite die tyd. Hy is baie groter as tyd. Dit is wat die woorde “bepaalde tyd” en “onbepaalde tyd” in Prediker 3 beteken. “Bepaalde tyd” beteken dat die hele skepping aan tyd onderworpe is. “Onbepaalde tyd” (ewigheid) beteken dat die Here verhewe is bó die tyd. Hy is nie self vasgevang in die tyd waarin ons leef nie.
En nou sê vers 11 die wonderlike ding dat die Here aan ons ‘n besef vd onbepaalde tyd (ewigheid) in ons harte gegee het! Ja, ons is vasgevang in die tyd. Maar, diep in ons harte is daar ‘n groot misterie. Die Here het iets van Sy eie verhewenheid-bo-tyd aan ons gegee. Nie aan diere nie. Aan ons. ‘n Besef vd tydlose/ewige is aan ons gegee. Daarom weet ons dat daar iets meer moet wees as die tyd waarin ons vasgevang is. Die Here het ons ‘n ewige wese gemaak. Ons het dit verloor met die sondeval. Jesus Christus het die gebondenheid aan tyd deurbreek met Sy opstanding uit die dood. Die Heilige Gees wek deur die geloof die besef dat ons die ewige lewe besit.
Prediker 3 wil vir ons wys dat die ewige Verbondsgod tyd gemaak het, maar dat Hy groter as tyd is. En daarom laat Hy ons vreugde in hierdie lewe ervaar terwyl ons dikwels voel asof die tyd onder ons weghardloop. Jy is vandag jonk en meteens is jy oud. Dan is jou tyd verby. Op die oog af lyk dit of die mens en dier maar dieselfde lot het. Ons is sterflik. Dinge gebeur met ons wat ons nie kan verstaan nie.
Maar: Daar is iets wat die diere nie het nie. Die Here het nie aan hulle ‘n besef vd onbepaalde tyd (ewigheid) gegee nie. Die Here het aan ons aan Hom verbind. Ons is oppad na die ewige Vaderhuis. Die gelowige besit ‘n ander dimensie wat die ongelowige nie ken nie. Ons het reeds die grens oorgesteek na die tydlose lewe waar God lewe (Joh 5:24).

Vers 14-15. Wat is, sal weer gebeur. Beteken: Die Here verander nie in Sy houding teenoor Sy kinders nie. Hy bemoei Hom met mense. Hy roep na Adam terwyl hy skuldig wegkruip. Hy praat met Kain voordat en nadat hy sy broer vermoor het. Hy roep Abraham uit die heidendom. Hy seën vir Jakob al het hy vir Esau en Laban bedrieg. Hy lei die volk deur die woestyn al kla en kerm hulle. Hy bly aan Sy kudde verbind, al wyk die volk af. Jesus verkondig lewende water aan die vrou by die put. Hy bemoei Hom met die duiwelbesetene. Hy probeer nie Sy onskuld bewys teenoor Sy opponente nie. Hy kom nie van die kruis af nie, maar Hy red sondaars met dieselfde moordwapen: die kruis. Dit is die God wat ons mag ken deur Christus Jesus. Daarin vind ons sin en doel in hierdie lewe.
Daar is ‘n tweede saak wat van die mens ‘n ware méns maak – in onderskeid van alle diere. Vers 17: Die lewende God gaan die skepping oordeel. Hy gaan reg en geregtigheid laat geskied. Dis die tweede dimensie wat bo ons aardse lewenstyd uitstyg. Daar is ‘n tyd om gebore te word en om te sterf. Wanneer jy besef dat jy verantwoording gaan doen, verander die manier hoe jy jou tyd op aarde leef. Dit gee aan jou aardse lewe betekenis en gewig en ‘n stuk verantwoordbaarheid. Jy is nie soos ‘n dier wat sterf nie. Al die dinge wat met jou gebeur – die onreg wat jy ly, die verlies, kry skielik ‘n stem in God se teenwoordigheid. Wat verby is, is verby, ja, maar dis nie verby in God se teenwoordigheid nie. By die wederkoms sal ons die volledige prent sien. Dan sal ons verstaan hoe ons binne die groter prent ingepas het. Dit is waar dat die ongelowige die realiteit van Christus se koms met siddering moet vrees.
Daar is vir ons ‘n blye dag van verlossing. Watter verskil maak dit in hoe jy elke dag lewe?