Ons Here het 503 jaar gelede ‘n terugkeer na Sy woord gewerk na ‘n lang tyd van kerklike verval. Ons gedenk dit vandag met groot dankbaarheid. Daar het vinnig 5 sake van belang na vore getree tydens die Reformasie. Vandag staan dit bekend as die 5 Solas – Sola Scriptura, Sola gratia, Sola fide, Sola Christus, Soli Deo gloria. Die Skrif alleen, genade alleen, geloof alleen, Christus alleen en aan God alleen die heerlikheid. Hierdie jaar was daar ook ‘n groot omwenteling in ons kerklike lewe. Ons eredienste en ander aktiwiteite is ontwrig deur die wȇreldwye pandemie. Ons moes as Kerke nuut dink en doen.
Toe Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het hy die hart van die Evangelie van Jesus Christus opnuut beklemtoon. Dit is ‘n boodskap vir alle Christene, ‘n boodskap wat oor alle grense van tyd, streek, land, verdeeldheid, rassespanning, liefdeloosheid en haat strek. Lukas beklemtoon juis die saak in sy beskrywing van Jesus se lewe en werk. Die kernboodskap van die reformasie was ingrypend en dit is gebou op die waarheid van God se Woord. Die vreugde van die gelowige is in die Here. Jou verhouding met God bepaal jou verhouding met jou medemens.
Ons lees twee keer van Jesus wat praat oor ‘n groot geloof by mense. Hy praat elke keer van ‘n heiden. Die Kanaänitiese vrou en ‘n Hekatontarg – Hoofman/Centurion oor 100 soldate. Die vrou se dogter is in die mag van ‘n demoon en die offisier se slaaf is besig om te sterf. Die vrou kom na Jesus en smeek Hom om hulp. Die Romein ken nie vir Jesus nie, maar vra Joodse kennisse wat familiehoofde was. Hulle was gemeenskapsleiers of dan senior lede van die samelewing. Die oudstes stem in om die heiden te help. Hy het die Jode so lief dat hy vir hulle ‘n sinagoge op eie koste gebou het. Hy was ‘n man van deernis, iemand wat goed doen aan ander.Hulle stel dit aan Jesus: hierdie man is dit werd om gehelp te word. Die Griekse woord wat die oudstes gebruik, beteken: om te weeg, om te balanseer of om in ewewig te bring. Hierdie man is deur die Jode geweeg en is nie te lig bevind nie. Sy versoek het meriete. Hulle het sy deugde opgeweeg en dit op hulle skaal gebalanseer om na Jesus met die versoek te kom. En Jesus volg hulle. Sonder enige kommentaar stap hy na die offisier se huis. En terwyl Hy stap kom ‘n volgende afvaardiging die Here tegemoet met die versoek om nie verder moeite te doen nie, want hy is dit nie werd om die Here in sy huis te laat inkom nie. Die Griekse woord van die Romein verskil van die eerste en beteken: om opgewasse te wees, om groot genoeg te wees of om geskik te wees.
Die Romein erken dat hy te klein en te nietig is om in die tenwoordigheid van die Here te wees. Ek is onwaardig en te sondig. Hy ontdek sy eie sonde. Hy bely God se Almag: Praat net en ek weet dit sal gebeur. Gestroop van enige waarde voor God weet hy dat alles net genade is. Die Here kan alles doen. Hy genees deur woorde. En dit is ‘n ware geloof: kennis en vertroue. Antw 21 van die HK.
Kennis gebou op God se openbaring, vertroue op God se Almag as enigste ware God wat die Heilige Gees in jou hart werk. Hierteenoor staan die manier van die Fariseërs en later die Pous en die Roomse Kerk in skrille kontras. Hulle het hulleself geweeg en gedink dat hulle baie waarde voor die Here het. Hulle goeie werke was hulle paspoort na die ewige lewe. Hulle tradisies het guns voor God verdien. In hulle eie oë was hulle waardig en dit werd om kinders van God genoem te word. Die Pous was die verteenwoordiger van Christus op aarde. Ons Kerkvaders formuleer die antwoord so mooi: dat God nie net aan ander nie maar ook aan my uit loutere genade slegs op grond van Christus se verdienste vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.
Die opregte gelowige ken genade, want ons het geen waarde in onsself nie. Ons is in onsself totaal verlore. Ons waarde is in Christus. Hy het Homself van die hemelse heerlikheid gestroop om na die wȇreld te kom. Hy het aan mense gelyk geword. Hy hang in ons plek aan ‘n vervloekte kruis om volledig versoening te bewerk. Daarom het ons vandag ‘n dankdag om aan God alleen die eer te bring.
Reformasie is om vraag 22 van die HK te hoor en seker te maak dat ons dit ken: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer. Ons belydenis wat leer dat God die Skepper, Verlosser en Herskepper is, dat die Bybel die enigste waarheid is en dat daar geen heiliges is nie, net begenadigdes. Dat ons een God aanbid wat Homself openbaar as Vader, Seun en Heilige Gees. Die belydenis dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is, geen mens nie. Die belydenis dat niks in of van die wȇreld ons kan verlos of ons toekoms kan bepaal nie. Alles is in God se hande en word deur Hom op koers gehou na die wederkoms van Jesus Christus.
Sk 12 – 3: 1 en 2 wat die beryming is van die NGB art 1, klink so: Enigste Here, enkele Wese, ons glo in U met ons hele hart. Heerlik bely ons, vry uit getuig ons: U is vir ewig God en Heer. U onbegryplik, U is onsienlik, altyd dieselfde, oneindig groot. U is almagtig, wys en regverdig – U is die bron van alle goed.
Die Reformasie het die landskap van die wȇreld verander. Ons word geroep om te meet, onsself te meet aan God se Woord. Mag die Here in Sy troue liefde en genade aan ons die geloofsmoed en durf gee om die verandering in ons verhouding met Hom, uit te leef deur Skrifgetrou te bly. Mag die Here ons as Gereformeerde kerke bewaar om deur die geloof al-leen in Christus se Naam alleen aan God die eer te gee en elke dag te bring.
Ons het baie uitdagings wat ons in die gesig staar. Ons grootste roeping is om Christus se genade aan ongelowiges te bring, sodat hulle die liefde van God kan ken en voor Hom alleen sal buig. Mag die Here ons elke dag be-waar teen die aanslag van die Bose en dat Hy ons in die geloof sal bewaar om aan Hom altyd getrou te bly.
|