Iemand wat swaarkry omdat die samelewing jou uitstoot of teen jou diskrimineer verloor maklik perspektief en hoop. Luister maar na ons gesprekke met vriende en familie. Omtrent elke huishouding in SA word op een of ander manier geraak deur die impak van die pandemie en die gepaardgaande onbevoegtheid van die regering wat dit moet bestuur. Dit wek frustrasie, ongeduld en ‘n gevoel van hopeloosheid by baie op. Sommige wil die reg in eie hande neem, veral waar vrouens en kinders aan die korste ent trek. Ander gee boedel oor en verloor belangstelling, ook in God.
1 Petrus is daarom baie belangrik om ons weer op ons taak en doel te wys. Hierdie brief is aan mense geskryf wat baie swaar gekry het in ‘n nie-Christelike wȇreld. Hulle wou tou opgooi en hulle geloof prys te gee. Hulle het nie meer kans gesien om anders as diegene rondom hulle te wees nie. Die skrywer is Petrus, een van die oorspronklike 12 dissipels. Hy is in Babilon – 1 Pet 5: 13. Dit is die skuilnaam vir Rome. Die brief aan die gelowiges in Klein-Asië gee ou waarhede wat hulle nuut moet toepas in hulle omstandighede. Hulle is geroep om hulle gedrag deur Christus te laat bepaal. In Babilon is die kerk irrelevant. Gelowiges is eintlik ‘n groot irritasie vir ongelowiges. In Babilon gee niemand om of jy glo of wat jy glo nie. En as jy in Christus glo, kan dit jou duur kos … vriendskappe, jou werk, en selfs jou lewe is op die spel.
Hoe lewe jy dan in Babilon vir die Here? Hoe moet jy dan nou hier doen? Dit is baie belangrik om te weet wie jy is. Jy weet as gelowige wie jy in die Here is. Jy is ‘n uitverkorene, maar tog vreemdeling. In maar nie van of soos die wȇreld nie. Jy het God se genade en vrede in oorvloed ontvang. Jy is deel van God se koninklike priesterdom – 1 Pet 2: 9 – 10. Ons is Sy volk. Ons waarde is in God se oë onberekenbaar groot, want ons behoort aan Hom. Op Babilon se skaal is ons nikswerd nie. Op God se skaal het ons ewige waarde wat nie in geldwaarde gemeet kan word nie.
In 3 stellings gee die apostel Petrus vir ons ons doel op aarde. Verse 1 – 3 stel dit duidelik dat ons die suiwer melk van die Woord moet drink – persoonlike groei. In verse 4 – 10 is ons opdrag om opgebou te word as ‘n geestelike huis vir die Here – ons word as lewende stene opgebou in die gebou van God veral in erediens. Verse 11 – 17 sȇ ons moet dit wat ons leer prakties toepas in ons omgewing.
Jy kan nie groei sonder die Woord nie. Die Woord moet suiwer in die erediens bedien word, sodat die gemeente saam kan opgroei en ons ‘n impak op ons omgewing/samelewing kan maak. Jy kan nie groei sonder ‘n persoonlike verhouding met Christus nie. Daarom moet jy ingemessel word in God se gebou. Eers dan kan jy gestuur word, met die ondersteuning en voorbidding van jou mede-lidmate.
In vers 12 som die apostel ons optrede tussen die heidene/nie-gelowiges op met die woord: GOED. En ons doen dit in die Here se naam. Die nie-gelowige moet ons goeie werke raaksien, ook al praat hulle kwaad van ons. Goeie werke is dit wat ons doen om God se eer voorop te laat staan. Die HK vra in So 32: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antw: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word. Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen. In vers 15 word die goed doen herhaal.
Petrus verbind dit direk aan God se wil. Op die manier sal ons ‘n einde bring aan al die kwaad wat mense uit onkunde praat. God se wil gebeur op hierdie aarde wanneer ons aan ander goed doen. Die goed doen word in vers 17 gekwalifiseer: respekteer alle mense. Wees lief vir jou mede broer en suster in die gemeente. Aanbid God alleen en wees onderdanig aan die menslike instelling – destyds het die Keiser homself die seun van God geag en geen teenstand geduld het nie. Die versoeking is daar om ook dwaas of boos soos die ongelowige op te tree. Mens maak nie iets reg deur self kwaad te doen nie. God het Sy wet in ons harte geskryf deur die Heilige Gees, daarom moet ons wys dat ons anders dink en kan doen.
God roep ons in Rom 8 om die werke van die vlees in ons eie lewe dood te maak. Ek verwonder my dat mense grense wat God stel, regdeur die Skrif, relativeer, asof hulle kan bepaal wat ons van God moet aanvaar en wat nie. Omdat die gemeenskap ‘n sonde toelaat, beteken nie dat dit vir God aanvaarbaar is nie. Jy kan nie kies wat jy van God se wil, wil doen of nie. Hy duld nie mense wat sonder heilige ontsag vir Hom lewe nie.
In Babilon is ons nie geroep om bekend te wees vir alles waarteen ons is nie. Ons is geroep om God se koninkryk te verkondig. Lees die Bybel, groei saam met medegelowiges in jou geloof en verhouding met God en mekaar. Hier moet ons bekend wees vir ons goed-doen aan ander buite die gemeente of vriendekring. Hier moet ons geloof en ons praktyk die aangename geur van Christus versprei.
Vra jouself die vraag: Waarvoor is jy voor God, die gemeente en die gemeenskap bekend?
|