…herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang…

Met ʼn ekonomie wat druk moet ʼn mens jou lewe en lewensstyl ook daarby aanpas. Ons kan nie maar net soos vroeër aangaan nie. Tog moet die fokus van ons lewe dieselfde bly. Met ons oë op God gerig moet ons in sy koninkryk bly dien. Maar in ons oorlewingstryd skuif ons nou dikwels ons nood en behoefte in die sentrum. God en sy saak moet al meer op die kant staan, maar ons verwag nog steeds sy seën oor ons lewe. Kom ons stel die Here eerste in ons lewe. Kom ons leef in afhanklikheid van Hom, gehoorsaam onder sy Vaderhand wat sorg. In Christus bou Hy ons tog op tot ʼn pragpaleis wat Hom eer.