Die pandemie en die grendelstatus het baie uitdagins vir die bediening, die versorging en die pastorale werk meegebring. Rondom is baie stukkend – mense, huwelike, verhoudings, gesondheid, werk, trauma, verwerking van verlies, verwerking van verlies aan inkomste. Baie mense is besig om geestelik te worstel, omdat hulle krisis op krisis moet verwerk. Hoe moet ons vorentoe as gemeente en individuele lidmate om mekaar steeds volgens die Here se opdrag en met die gawes wat ons het, te bedien?
Dit was die geval met Israel. Hulle was weggevoer in ballingskap na Babel. Alles wat normaal was het verander. Wat waardevol was, is vernietig en verwoes: die tempel, Jerusalem en hulle land. Hulle het familie verloor en families is uitmekaar geskeur en verstrooi deur die Babiloniese Ryk. Hulle het gedink dat die gode van Babel inderdaad die oorwinning behaal het. Die Babiloniërs het hulle gespot en hulle was op moedverloor se vlakte. Hier kom die Here in groot genade na hulle toe. Hulle het hulle perspektief verloor. Die ballingskap was straf op hulle sonde van afgodediens. Hulle het die Here ingeruil vir die volkere se gode. Hulle het hoop verloor.
Maar die Here bly getrou en hou Sy oog op ons. Regdeur die geskiedenis van die mensdom het God getrou aan elke verbondsbelofte gebly. Israel het hulle rug op die Here gedraai, maar die Here sien om na hulle. Die ballingskap was suiwering. Baie wat weggevoer is, het daar gebly en vermeng met die Babiloniërs. Daar het inderdaad ‘n loot uit die stomp van Isaië oorgebly. In hoostuk 40 het ons die troosboodskap van die Hemeltroon gehoor: “Troos, troos My volk, sê julle God” – ’53 vertaling. In hfst 41 en 42 kom die belofte dat God se verlossing oppad is. In hfst 43 hoor ons dat dit onverdiende genade is. In hfst 44 roep God hulle op die naam – hulle is vir hom waardevol en kosbaar. In hfst 45 volg die versekering dat hulle nie vergete is nie. En nou lees ons die versekering dat die Here dieselfde is. Wat Hy belowe het, bly net so. Daar is by Hom geen verandering nie. Dit moet ons vandag weer duidelik hoor.
Daar is net Een lewende God: ons bely Hom volgens Sy eie openbaring in die Bybel as Vader, Seun en Heilige Gees. Hy het vir Hom in Jesus Christus ‘n volk uitverkies. Bel en Nebo is mensgemaakte afgode. Hulle kan niemand help wat voor hulle buig nie. Daarom verdwyn Babel onder die Meders en Perse. Hulle staan magteloos voor God se Almag. Dink aan Daniël se geskiedenis toe hy in die leeukuil gegooi is. God sluit die bekke van die leeus volgens Hebreërs. Toe die Meders hulle oorwin het, is die pragtige goue beelde van die gode op donkies gepak en weggevoer. Hulle het ‘n misplaaste hoop gehad. Waarop hoop ons vandag? Is daar iets in die skepping waarop jy jou ewige hoop kan plaas. Ps 132 en 1 Kor 4: 7 leer ons dat ons alles uit die lewende God se hand ontvang. Jou verstand, krag en gesondheid kom van God. Loof Hom, eer Hom, prys Hom vir wie jy is en wat jy mag wees. Kind van die Allerhoogste God.
Hy het geskep deur die Woord wat vlees geword het en na ons toe gekom het. Wie anders het ons lief soos die Here? Hy het Sy volk liefgehad ten spyte van hulle sonde. Hy stuur Sy Seun na die kruis op Golgotha ter wille van ons. Wie kan genees, wie kan reën gee. Wie kan dooies opwek en lammes laat loop. Alleen God. Wie gaan vir ons sorg? Wie kan ons bewaar? Ps 121 gee die antwoord – Die Here sal jou siel bewaar. Tot die Baälpriesters op Karmel moes dit bely in 1 Kon 18: 39 – “Die Here, Hy is God, die Here, Hy is God. Ja die ewige en getroue Verbondsgod los ons nie.
In ons teksvers praat die Here met Sy volk. In hierdie teks hoor ons Jesus Christus se woorde in Mat 1: 23 – die maagd se kind sal Immanuel wees – God by ons. Mat 6: 30 se belofte aan ons: Moenie julle kwel oor more nie. Ons Vader weet wat ons nodig het. Die troos in Heb 13: 5 – Wees altyd tevrede met wat jy het. Die here sal jou nie los nie. In 1 Kor 10: 13 verseker die Heilige Gees ons deur Paulus dat alles nie maanskyn en rose vir die gelowige op die lewenspad sal wees nie. Daar gaan swaar tye kom, maar die Here belowe dat Hy ons daardeur sal help en sal bystaan. En dan wanneer ek begin hoop verloor weer die woorde van Rom 8: 28 – Alles werk ten goede mee vir die wat aan die Here behoort.
Wie praat met ons: EK IS – Jahwe. Die ewige God. Hy is en bly dieselfde. Jou lewensgeskiedenis getuig hoe die Here jou vasgehou en gedra het. Leer dit weer vir jou kinders en kleinkinders. Hy het reeds jou toekoms in Christus verseker. Deur die Heilige Gees is Hy besig om ons gereed te maak vir ons plek. Die swaar is ons toets om weer te bely: ek sal nie vrees nie. Nie die son of die maan of iets op die aarde en selfs in die hemel kan my beangs en bevrees maak nie.
God het my gedra van my geboorte af. My toekoms is vas en seker deur my jeug, my volwasse lewe, my grysheid, ouderdom en graf tot ek in die poort van die nuwe Jerusalem staan en daardeur ingaan.
Jesus Christus het as’t ware in ballingskap aan die kruis gehang. Verwerp deur die Jode en met die oordeel van God wat Hy moes dra het Hy aan Sy Vader vasgehou en die beker gedrink. Deur Hom ontvang ons geloof om na more en oormore te kyk en weet dat die Here my die toekoms in dra.
Ons enigste troos is dat ons deur ‘n liefdevolle vader versorg word, deur Hom ver-sterk word en saam met Hom tree vir tree kan loop. Al struikel ek en twyfel ek soms, weet ek: Sy hand los my nie. Soos ‘n baba tevrede in sy ma se arms kan wees, soos ‘n skaaplam tevrede in die herder se arms kan wees, so tevrede mag ek vir more en en elke dag van my lewe in die Almagtige God se Vaderarms wees.
Kom ons troos en versterk mekaar met die woorde en doen ons werk in die Koninkryk van die hemel na die beste van ons vermoë. Reik uit na jou buurman, jou familie en jou geloofsgenote. Bid vir mekaar en staan mekaar by met raad en daad.
|