Gelowiges het mekaar se offers nodig

Kyk Video opname hier

 

Skriflesing

Romeine 12 : 1 – 8

Romeine 12 vs 4, 5 Fokusteks

Liedere

Psalm 100: 1, 4

Psalm 37: 2, 3

Psalm 42: 5, 7

Psalm 61: 4, 6

Die wȇreld sal nooit kerk word nie, maar die kerk kan soos die wȇreld word. Ons leef in 2 wȇrelde wat onversoenbaar is. Jy gee jou tyd, geld, gawes, maar gee jy jouself? Waar kerk en wȇreld in mekaar invloei kan die kerk nie meer haar roeping uitvoer nie. As kerk moet ons duidelik weet wie en wat ons is. Die duiwel wil ons aandag van die Here en van mekaar aftrek. Ons kan as individue leef of as die liggaam van Jesus Christus. Die totale Westerse ingesteldheid is materialisties en individualisties. Baie mense offer hulle gesondheid op twv hulle werk en ekonomiese voorspoed. Sportsterre offer letterlik hulle liggame op vir eer en roem. Waarvoor offer jy jouself op? Familie, vriende, werk, tydelike genot en eer? Wat gee sin, rigting en doel aan jou lewe?
Die Here het aan ons geloof geskenk en ons deel van ‘n groter geheel gemaak. Nadat die Here vir Adam geskep het, het Hy gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. En toe skep Hy vir Eva om saam met Adam te leef en om ʼn hulp te wees wat by hom pas. Die Prediker het onder leiding van die Heilige Gees geskryf: Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? (Pred.4:9 – 12)
Toe die Here Jesus baie jare later sy kerk op aarde met sy apostels kom vestig, bid Hy vir hulle: Heilige Vader, bewaar hulle in U Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos ons een kan wees. (Joh. 17:11).

Hierdie eenheid, samewerking en onderlinge verbondenheid waarvoor ons Here gebid het, word op verskeie plekke deur die apostel Paulus beklemtoon. Onder andere in die teksverse: Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en elkeen afsonderlik lede van mekaar (Rom. 12:4 & 5). En dit word gedra deur onderlinge liefde. Christus se liefde was ‘n werkende liefde. Sy offer bring ons versoening. Hy gee Homself, nie ‘n iets nie.
Die volgende sake is daarom baie belangrik vir die kerk: ons is deel van mekaar ; ons ondersteun mekaar; ons aktiveer en motiveer mekaar , want ons het gawes ontvang. Ons is van mekaar afhanklik. Die een kan nie sonder die ander nie. Paulus sê: Ons is, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Die ledemate in ʼn mens se liggaam, is van mekaar afhanklik. Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind. As Paulus in 1 Kor. 12 weer presies hierdie selfde beeld van die liggaam gebruik om die gemeente te beskryf sê hy: Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar ʼn liggaam kon wees. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie”. Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie”. Julle is die liggaam van Christus en afsonderlik is elkeen ʼn lid daarvan. Het jy al ooit na die mens voor jou, agter jou en langs jou gekyk en gesȇ: Ek het jou nodig! OF Julle het my nodig! Ons kan nie sonder mekaar as gelowiges lewe nie. Ons mag nie sonder mekaar wees nie. ʼn Mens dink miskien dat jy in die lewe alleen kan regkom totdat jy in jou lewe by siekte, dood en beproewing kom! Die dag waarop jy seerkry en plat teen die grond lê. Dan eers verstaan jy wat dit beteken as ʼn medegelowige sy/haar hand in broederliefde uitsteek om jou vas te hou. Dan weet ʼn mens eers wat jou mede broer en suster se liefde en gebede vir jou be-teken. Die dag wanneer iemand jou bystaan en verseker van die Here se krag en liefde.
Daarom lees ons in Galasiërs 6:2: Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. Die liefde wat werk is ‘n opdrag van die Here. Dit gebeur dat die werk wat ons in die Here se koninkryk doen op ʼn stadium te veel word. Dan ondersteun ons mekaar. Prediker het gesê: Twee vaar beter as een, hulle inspanning kom tot iets.
Om werklik diensbaar te wees, het ons mekaar se ondersteuning nodig. U ken die beeld van die passasierskip en die oorlogskip. Die gemeente is nie gaste op ʼn passasierskip wat ontspan terwyl die bemanning rondskarrel en ons bedien op die skip wat oppad is na die hemel toe. Nee die kerk is ʼn oorlogskip. Elkeen het ‘n taak, doel en funksie om die vyand se aanslag nie net af te weer nie, maar om die oorwinning te behaal. Ons werk is dat God se koninkryk in die see van volkere kan kom.

Paulus roep die gemeente in Filippi op om: in volkome eensgesindheid standvastig saam te stry vir die geloof in die evangelie (Fil. 1:27). Dit is regtig hartseer as ʼn mens sien hoeveel mense deesdae sommer van die kerk af wegraak. Mense wat op ‘n stadium aktief was en saamgewerk het. En wat nog meer hartseer en ontstellend is, is die feit dat dit dikwels jongmense is. Wat is die probleem? ʼn Groot deel van die probleem is dat ons ander hulle nie genoeg vasgehou en bygestaan het nie. Hulle kon nie alleen regkom nie. Die onafhanklikheid en die indiwidualisme van die moderne samelewing het sy tol ge-eϊs en hulle het weggedryf, hulle het geval by die gebrek aan belangstelling en liefde.
Hoor die oproep van die Heilige Gees vir ons in Heb. 10:24: Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Dit is elkeen van ons se taak om na die persoon langs ons, voor ons of agter ons om te sien. Ons is vir mekaar verantwoordelik! As die Here vir enige een van ons vra: Waar is jou broer? of Waar is jou suster?, mag ons nie soos Kain destyds antwoord: Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas? (Gen. 4:9) Dit is ons werk. Ons moet mekaar voortdurend aktiveer en motiveer, want ons moet mekaar bystaan midde in die stryd. Die satan, die wêreld en ons elkeen se eie sondige natuur is voortdurend besig met aanvalle. En nie een van ons moet dink ons is op ons eie sterk genoeg om staande te bly nie. Ons het mekaar nodig! Kom ons vra maar net elkeen vir onsself die een vraag: Wat doen ek om my broer of suster aan te spoor tot liefde en goeie dade? As elkeen net vir homself lewe en net sy eie belange beskerm, gaan ons die oorlog verloor. Om as ware gelowiges in Christus te kan lewe, gee die Here gawes van profesie, om te dien, onderrig te gee, bemoediging, leiding te gee, ander te help, sonder bybedoeling te gee. Ons is lede-mate van dieselfde liggaam wat onsself moet opbou. En ons kan dit net doen as ons Christus se gesindheid in ons dra.
Net so min as wat ‘n liggaam nie net uit ‘n oor, voet of oog kan bestaan nie, maar al die verskillende organe nodig het om optimaal te funksioneer, net so kan jy nie op jou eie ʼn gelowige wees. Om werklik ‘n verskil in die omgewing te wees, waar ons woon en werk, moet ons hier by ons begin en vra: Is ons wat ons moet wees? Ons is die liggaam van Jesus Christus om uit te gaan om God se koninkryk te verkondig en te leef. Eer God in jou offers.