Liedere |
Psalm 107: 1, 10
Psalm 25: 2
Psalm 119: 7, 14
Psalm 33: 5, 6
Skrifberyming 18-7: 3, 10, 12
|
Filippus is deur die Here gestuur. Daar was twee paaie wat van Jerusalem na Gasa gelei het. Hy moes nie na die hoofweg gaan nie, maar na die eensame pad waar daar min verkeer was. Op daardie eensame pad was daar iemand wat na Jesus Christus gesoek het.
Ethiopië van daardie tyd was geleë waar die huidige Soedan is, net suid van Egipte (Kus van die OT). As Minister van Finansies van die koningin, was die mens ‘n eunug of ontmande persoon (sien NAV), en hy sou nie, al het hy in God geglo, tot die gemeente van Israel kon behoort nie (Deut 23:1). Hy was ‘n ernstige soeker na die diens van die ware God. Vir hom sou die profesie in Jes. 56:4-5 daardie dag in werking tree: “So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie”. Hy sit op sy wa en lees hardop uit Jesaja 53 en Filippus vra vir hom: “Verstaan u wat u lees?”. Op sy antwoord word die Evangelie aan hom verduidelik. Sy oortuiging was duidelik toe hy sê: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is” (v 37). Die feit dat hy ‘n ontmande en ‘n buite-lander was, het hom nie verhinder om deel van die Christelike gemeente te word nie. (In die oudste tekste van Handelinge verskyn daar nie ‘n v 37 nie. Die ’53 Vertaling het vers 37 en volg die meerderheidsteks. Die ’83 en die 2020 vertaling volg die oudste tekste).
Dit was seker vir Filippus moeilik om te begryp waarom die Here hom uit Samaria, waar hy met ‘n groot werk besig was, weggestuur het na ‘n eensame pad. Hy het egter nie gehuiwer nie en het die wa tegemoet gehardloop toe die Here aan hom sê dat hy daarheen moes gaan. Stap vir stap het dit vir hom duidelik geword waarom hy moes gaan, en wat hy moes gaan doen. Met die doop van die minister was sy taak afgehandel.
Hoe goed ken ons die Bybel om iemand in ‘n sendingsituasie te leer? Soms wonder ons oor die werk van die apostels. Hulle praat met vrymoedigheid, hulle maak gesond, wek op, spreek sonde aan en nog meer. Maar hier het ons met Filippus te doen, ‘n diaken van die kerk van Jerusalem. Eintlik “maar net” ’n gelowige. Hoe weet hy dat hy moet gaan, en hoe kan hy seker wees dis die Gees van God? Dit kom uit die beloftes van Jesus tydens sy hemelvaart, dat Sy volgelinge krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. En so kragtig werk die Gees dan dat ons eintlik van die Handelinge van die Heilige Gees moet praat.
Om op die Gees te vertrou vir leiding en krag, was vir die vroeë kerk nie vreemd nie, want dit is hoe Jesus belowe het dat Hy by hulle sou wees. Dit mag vandag ook nie anders wees nie. Wanneer ons waarlik dissipels (volgelinge) van Jesus is, moet ons Hom so intiem volg dat dit die mees natuurlike ding is om te gaan waar die Heilige Gees my stuur. Dan sal dit nie uitgesonder word as “tekens van die Gees nie”, maar wel gehoorsaamheid aan die Gees. Die vraag is: Is ons verhouding met ons die Here Jesus Christus so volkome dat ons sal weet as die Gees ons stuur? Dat dit die mees natuurlike ding vir ’n kind van God sal wees? Mag jy die opdrag duidelik hoor: GAAN! Doop en leer die nasies.
‘n Paar gedagtes vir selfondersoek: Wanneer ek swaarkry, kla ek of verkondig ek die Woord? Die apostels het in Jerusalem agtergebly. Dit was dus gewone lidmate wat in hulle omstandighede die evangelie versprei het. Wat doen ek? Is ek bly wanneer die Evangelie grense (Samaria en Ethiopië) deurbreek? Onthou: Deur God se genade het vlugtelinge sendelinge geword.
|