Aan wie gee jy die eer? In die Reformasie het die Pous oor die kerk en op sekere tye selfs oor die staat geheers. Om die Pous teen te staan was so goed as jou eie doodsvonnis onderteken. Luther is ook as gevolg van sy opstandigheid teen die Roomse kerkstelsel ter dood veroordeel. Die Pous is as die verteenwoordiger van Christus op aarde vereer en saam met al die heiliges was dit ‘n sisteem wat al die eer aan die mens gebring het. Luther het die Bybel weer opnuut bestudeer. Sy enigste gevolgtrekking was: Soli Deo Gloria. Aan God alleen, al die eer! Daarom was dit logies dat die ander 4 Solas ook beklemtoon is – Sola gratia, Sola fidei, Sola Christos en Sola Scriptura. In plaas van Soli Deo Gloria, leef die wêreld: My eie eer staan voorop. My eie eer word nagestreef. Die sonde word in ons tyd verhef en vereer. Sportsterre en sangers word verafgod en God word na die syspore van die samelewing gerangeer. As gelowiges het ons net een pad – Terug na die Skrif. Terug na God in Jesus Christus. Geen mens of beeld in die middelpunt van die erediens en my lewe nie – net God en Sy Woord.
Dit is ons doel, plek en taak in die skepping. Dit is die rede waarom God ons uitverkeis het en deel van Sy verbond gemaak het. Daar kan nie ‘n hoër doel in die lewe wees nie. Enige ander lewensdoel sal te klein of bereikbaar wees. Ons lees dit regdeur die Bybel. Jeremia leer, die Here het die volk Israel gekies: “Hulle moes My volk wees, hulle moes lewe tot my roem en eer en ‘n sieraad vir My wees, maar hulle het nie geluister nie. (Jer 13:11). Die mens wil homself voor God verhef. Nebukadnesar stap in sy tuine en kyk na alles wat hy tot stand gebring het (so dink hy) en sȇ: Kyk net hoe groot is Babel. Deur my groot mag het ek daarvan ‘n koninstad gemaak, tot my eer en roem. Die Here het hom soos ‘n dier laat gras vreet, totdat hy sy fout erken en bely het: Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is reg, sy optrede is regverdig. Hy het die mag om hoogmoediges te verneder (Dan 4: 37) Ons lees dat die mense van Tirus en Sidon vir Herodes kwaad gemaak en op ‘n dag toe hy op die troon gaan sit om die saak aan te hoor, wou hulle hom vlei en het uitgeskreeu: Dit is ‘n god wat praat, nie ‘n mens nie!
Dan lees ons: Op daardie oomblik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Hy is deur wurms verteer en het gesterwe (Hd 12:20-24).Wanneer die eer wat God toekom nie aan Hom gaan nie, steel jy die eer van God. Die probleem vandag is, die mens wil alles wetenskaplik uitredeneer en verstaan. En as dit nie volgens ons maatstawwe en standaarde is nie, sukkel ons om God se waarheid te glo. Daarom roep in Paulus in verwondering die woorde in ons teksverse. Die mens kan nie God se wysheid en sy werk ten volle begryp, verstaan en uitredeneer nie. Die omvang is ver bo ons vermoë.Paulus roep: v 33 – 36. “O” is ‘n emosionele uitroep in verwondering. Dit gaan oor God. Geskryf deur ‘n mens wat die kerk wou uitroei en nou probeer hy om met beperkte mense taal die onmeet-like dieptes van God aan ons te beskryf. Hy ken nou God se genade en liefde. Ps 92:6 leer: Groots is alles wat U doen, Here, ondergrondelik (baie diep) u gedagtes. Wetenskaplikes ontdek nog elke dag hoe die natuur werk. Aardverwarming dwing ons om die balans wat God gestel het, weer raak te sien. Paulus bid in Efesiërs dat gelowiges kan begryp: Hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Hy het dit eerstehands ervaar en geken. Ps 103: Sover as die ooste verwyder is van die weste, sover verwyder Hy ons oortredinge van ons.
Die ooste en weste is twee punte wat nooit bymekaar kan uitkom nie. Verstaan ons God se liefde vir ons, dat Hy ons sonde so ver verwyder? God het volkome insig in alles… Dit is ‘n oorweldigende wete… Die mens weet maar baie min. Dit wat ons weet is wat God ons wil laat verstaan. Ons begrip is te klein, ons insig te beperk. “hoe onaanspeurlik is sy weë”. Die Griekse woord is spoorsny. God laat nie ‘n spoor agter dat ons sy pad kan volg nie. Niemand kan soos hy wees nie. Hy is Soewerein. Hierdie dinge laat Paulus in verwondering 3 retoriese vrae vra in v 34: Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns dat Hy verplig is om iets terug te doen? Die antwoorde is voor die handliggend: Geen skepsel nie – nie in die hemel of op aarde nie. Niemand kan God se bedoeling peil of uitpluis nie. Niemand gee Hom raad nie. Ja, dikwels wil ons hom in ons gebede voorskryf wat Hy ons moet antwoord. Maar raad kan ons hom nie gee nie. Hy is Almagtig en alwetend! Ons bid juis insig en wysheid van Hom af. Nie-mand is in staat om God enige guns te bewys asof God hom iets skuld nie. Ons leef dikwels asof God ons dit of dat skuld. God het nog nooit onder enige verpligting teenoor iemand gestaan nie. Hy is Kurios – besitter van alles. Alles wat ons het kom van Hom af. Ons is in die skuld by Hom… Tog het Hy ons so lief dat Hy sy Seun Jesus Christus in ons plek laat sterf het. Nadat Paulus hierdie dinge oordink het, kan hy nie ander as om in aanbidding uit te roep. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen God is die bron van alle dinge. Hy is die Alfa en die Omega. God het alles. Hy gee alles. Ons kan niks ontvang wat Hy nie eers gegee het nie. Joh 1:1-3 herinner ons hieraan: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom; ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. Hy onderhou alles en almal. Hy het ons elkeen se geboorte- en sterfdag bepaal. Hy is die motief vir alles – “tot Hom is alle dinge” Hy is die rede waarom ons steeds almal op aarde bestaan.
Hy is God en nie jy nie. Die grootste fout wat ons kan maak is om te dink dat God daar is om ons te versorg. Ons is hier in 2020 om tot sy eer te leef! Die Heilige Gees lei ons as kinders om God te ken en te verheerlik. Hy moet in die middelpunt van alles wees. Daar is twee dele van God se eer wat ons mooi moet hoor en duidelik moet onderskei: 1. Intrinsieke eer – die eer wat Hy as God besit. Niks en niemand kan dit van Hom wegneem nie. Hy is die Almagtige, die Ganzandere, gevul met eer, roem en glorie. 2. Eer van buite – Dit is die eer wat mense, engele, die skepping aan God gee. Dit maak nie God se intrinsieke eer meer of minder nie. Dit gee iets van die eer wat Hom toekom.
Die Bybel roep ons op: 1 Kron 16:23-25 Sing tot eer van die Here, almal op die aarde! Ver-kondig elke dag sy reddingsdade! Vertel die nasies van sy mag, al die volke van sy magtige dade. Die Here is groot, al die lof kom Hom toe, ontsagwekkend is Hy bo alle gode” Hier is dit waar ons ter sprake is. Jou hele lewe; jou denke, jou optrede, jou ver-houdings, jou hele jy – moet God eer en verheerlik. By Christus se wederkoms sal ons saam met die 24 ouderlinge in die troonsaal van God kniel en Hom wat op die troon sit aanbid. Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang… (Op 4:10-11)
|