Skriflesing | Gen 41: 25 – 44,
Rom 8: 18 – 30 |
Liedere | Psalm 8: 1, 3, 4
Skrifberyming 12-4: 1, 2, 3 Psalm 119: 39, 40 Skrifberyming 14-1: 1, 2 Skrifberyming 14-2 |
Ons lees in Spreuke 16: 9 en 33 die volgende: “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom”. So het Josef dit in sy lewe ondervind. Hy word as jong seun as ‘n slaaf deur sy brooers verkoop. Vir ongeveer 16 jaar in sy lewe beleef hy swaarkry. Hy word in die tronk gegooi vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Op 30 word hy die onderkoning van Egipte. Op daardie stadium die magtigste land in die bekende wêreld. Hoe moet ons dit verstaan? In Romeine 8:26 sê die apostel Paulus dat die Here ons helper is. Hy praat oor die bystand wat die Heilige Gees aan ons in die gebed gee, en sê dan: “Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” Ons kan hierdie woorde net reg verstaan, as ons onthou dat Paulus dit sê in ’n gedeelte waar hy praat oor die swakheid en gebrekkigheid wat deel is van ons aardse bestaan. Ons is wel kinders van God, maar duskant die graf smaak ons nog nie die volle verlossing wat Christus vir ons aan die kruis verwerf het nie. Ons is losgekoop tot die ewige lewe, maar ons is nog steeds saam met die hele skepping aan lyding, verganklikheid en agteruitgang onderworpe. Ons word oud, ons word siek, ons lewe word gekenmerk deur leed, ons word daagliks deur talle dinge geïrriteer en gefrustreer, ons ly saam met die ganse skepping onder die gevolge van die sonde. Ons beleef dinge waarvan ons die sin op geen enkele manier kan ontdek nie.En ons ou sondige natuur het nog steeds soveel houvas op ons, dat ons lewe as kinders van God tot die einde ’n lewe van aanmekaar stryd met baie nederlae bly. Dit is van hierdie swakheid waarvan die apostel praat as hy sê dat die Gees ons daarin bystaan. Dit doen die Gees enersyds deur ons te herinner aan die beloftes van God dat die hele kosmos alles eenmaal totaal nuut sal word. Trouens, die Gees self wek in ons harte die verlange op na die koms van die koninkryk wanneer die tydelike met die ewige beklee sal word (Rom 8:23). Maar die Gees doen dit ook deur in die gebed vir ons te pleit met woorde wat nie uitgespreek kan word nie. En die rede waarom die Gees dit doen, is dat ons nie self weet wat ons moet bid nie. Ons weet nie wat ons moet bid nie, omdat die lewe so onuitspreeklik ingewikkeld is. Ons kan nie eers na ons eie klein lewetjie omsien en onderskei wat goed of sleg vir ons sal wees nie. Met die pandemie wat deel van ons lewe is, kan ons op die oomblik amper net van week tot week beplan. Hoe kan ons met ons beperkte verstand en insig die toekoms sien en reg bid vir die gebeurtenisse in die wêreld met sy strominge en tendense? Ons bid in kortsigtigheid dikwels verkeerd. Wat vir ons reg lyk, is nie altyd reg volgens Gods wil en raad nie. As alles sou gebeur soos ons dit van God vra, sou dit chaoties kon wees. Juis daarom hoor ons vandag die troos dat die Gees pleit vir die gelowiges volgens die wil en raad van God. Met en in ons gebede kom ook Sy stem voor God. Hy bid vir ons op ’n wyse wat van ’n totaal ander orde as ons gebede is. Dit skenk ’n onberekenbare waarde aan ons gebed. Hy pleit by God op ’n wyse wat ons tong en taal te bowe gaan. En God wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, en laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet. Ons moet dit duidelik hoor – Ons is en bly in God se hande. Hy beheer die pandemie en ook die verdere gevolge. Alle mense op aarde is in God se hand en kan slegs doen wat Hy toelaat. Hy beskik alles ten goede elke dag. Vertrou die Here: Hy sien die einde van alles. Mag die Vader van genade ons bewaar en ons aan Hom die eer bring. |