015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Wat sien jy vandag?

Wat sien jy vandag?

Sunday, 9 May 2021 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
2 Konings 6: 8-23 , Openbaring 3: 14-22
Tema: 
Skriflesing

2 Konings 6: 8-23 ,

Openbaring 3: 14-22

Liedere

Psalm 31: 1, 5, 12

Psalm  9: 5, 7

Psalm 19: 5

Psalm 20: 1, 2

Psalm 115: 7, 8, 9

Ons God het alle mag in die hemel en op die aarde. Die hemelvaart van die lewende Christus bevestig dit. Wat sien ons vandag? Is ons so beangs en bevrees dat ons net die slegte kan raaksien? Bid dan vandag saam met Elisa dat die Here ons oë sal open om die Koning van alle konings raak te sien op Sy troon. Toe Jesus vir Pilatus gesê het dat Hy ‘n ander soort Koning is, het Hy dit letterlik bedoel. Baie keer gebeur daar dinge rondom ons, maar ons sien dit nie raak nie. Hoeveel keer gaan daar dinge by ons verby wat ons moes raaksien?
Soos Elisa se slaaf, is ons soms siende blind. Bendes van die Arameërs val die beloofde land in en maak die inwonders bang. Hulle het gedink hulle veg teen mense. Wat is besig om te gebeur wat hulle nie kan sien nie? Toe Ben-Hahad, die koning van die Arameërs, uiteindelik uitvind dat Elisa elke beweging van hulle ken, wou hy die man van God dadelik uit die weg ruim. Hy vind uit waar Elisa is en stuur in die nag ‘n groot mag om die stad te omsingel. Toe Elisa se slaaf die groot getal ruiters en soldate rondom Dotan sien, skrik hy groot. Vandag sal hulle verseker sterf. God se vyand kom altyd met groot getalle en geweld.

Kyk maar die Joodse Raad wat die apostels dreig, in die tronk gooi en laat slaan. Maar Elisa sien die onsienlike: die vuur op die berge as teken van God se teenwoordigheid. Hy weet: die Here regeer, Sy hand is oor ons. Die Here se leër is baie groter as enige ander aardse koning of regering s’n. Die slaaf se oë moes daarvoor oopgemaak word (6:17). Eintlik is die Arameërs omsingel. Al lyk alles vir Israel hopeloos, is God in beheer. Hy regeer mense, die natuur, omstandighede en gebeure van die dag. Niks gebeur wat God nie toelaat nie, selfs nie ‘n haar kan van jou kop val sonder God se toelating nie- HK So 1 vr 1. Hy het Christus opgewek en die Heilige Gees na ons gestuur. Die Here is die Almagtige Koning wat lewe en dood en die toekoms in Sy Vaderhande vashou! Ons Here Jesus Christus self maak ons oë oop. Dink maar aan die Emmausgangers. Die Here laat hulle sien dat Hy die dood oorwin het, en dat Hy eers moes ly aan die kruis voordat Hy in sy heerlikheid ingaan. Wat die Emmausgangers nie ingesien het nie, laat die Here hulle sien: “Toe gaan hulle oë oop …” (Luk. 24:31). Die Heilige Gees hou ons oë op ons Koning gerig, maak nie saak wat om ons gebeur nie! Is ons oë oop? Die Here sê vir die gemeente in Laodisea dat hulle by Hom oogsalf moet kry. Stephanus sien die oop hemel en Christus wat aan die regterhand van God staan.
Ons is erderkruike wat breekbaar is. As ons gegooi word deur die lewe, wil ons radeloos en terneergedruk word. God se belofte is dat Hy oor alles en almal regeer. Die Here gebruik die situasie waarin ons is, sodat ons weer kan vra: Wys ons die onsienlike. Wys ons die ewige dinge wat regtig saak maak. Die Heilige Gees gee vandag weer vir ons perspektief. Kom ons hoor en sien die regte dinge raak. Bid vir God se duidelike beeld in ons huidige situasie.