015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Strome lewende water

Strome lewende water

Sunday, 31 January 2021 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
Johannes 7: 37-39
Skriflesing

Johannes 7: 10 – 19, 37 – 44;

Handelinge 11: 4 – 18;

Openbaring 22: 17

Teks: Johannes 7: 37-39

Ons is soos kinders. Ons verstaan beter en leer beter as daar ’n beeld of metafoor gebruik word. In Jesus se bediening gebruik Hy konkrete dinge wat mense ken om hemelse waarhede aan ons te leer. Hy sien die mossies. Hy sien die sout buite op die grond. Hy sien die skaapherder en die verlore skaap wat teruggedra word. Hy sien die saaier wat loop en saai. Hier gebruik Hy die bekende gebeure op die Sukkotfees om ‘n groot waarheid te verkondig.
Israel het die Jordaanrivier goed geken. Dit was hulle lewensaar. In SA is ons bewus van hoe droog dit kan word. Waar die water nie is nie, is die wêreld sterwend en paniekerig. Jesus sluit by die fees by die tempel aan: “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep…” Die Huttefees bind die volk aan die Here se sorg tydens die woestyntog oppad na die Beloofde Land. Nie net tydens die woestyntog het die Here vir hulle voorouers gesorg nie, tot op hede het die Here vir hulle in die land gesorg. Daarom is dit ook ’n oesfees.
Mense het in ‘n feestelike luim vir hulself buite hutte opgeslaan en as’t ware uitgekamp soos ons met ons tente in die vakansies gaan uitkamp. Oral is die hutte, meestal van blare gemaak, opgeslaan, daarom is daar van die “Huttefees” gepraat. In die strate, op die plat dakke van huise – selfs in die tempelterrein, oral was die hutte. Maar ook in die tempelterrein is daar fees gevier. Op die laaste, die sewende dag, het die priester water gaan skep uit die Siloambad. Dan is die water in ‘n goue kan met ’n seremoniële optog na die tempel teruggebring. Daar is dit sewe keer om die altaar gedra en dan uitgegiet. Gelyktydig is ’n kan met wyn aan die ander kant van die altaar uitgegiet. Dit het die volk herinner aan die sorg deur die woestynreis, maar ook aan die oorvloed van die aankoms in Kanaän. Daar was volop water … en wyn. Die Here sorg vir die nodige water, maar ook vir die oorvloedige van die wyn. In Joh 2 is die eerste wonder die water wat in wyn deur Jesus verander word.
Hierdie fees het die karakter gedra van ’n gebed tot God dat Hy die komende jaar lewe en vrugbaarheid mag gee. En dan vind die verrassende plaas: Jesus, wat tot nou ’n lae profiel op die fees gehandhaaf het, staan op en leer die skare. Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. Kom ons begin by die laaste opmerking oor die Heilige Gees: Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. Bykans 50/60 jaar na hierdie gebeure kyk Johannes terug na hierdie uitspraak en dan besef hy dat hierdie uitspraak met die Heilige Gees te doen het. Die Heilige Gees sou eers uitgestort word na Jesus se verheerliking, m.a.w na sy sterwe, opstanding en hemelvaart.

Op Pinksterdag breek die nuwe bedeling aan! ‘n Nuwe tydvak, die tyd van die Gees word ingelei. Dit is die wonderlike tyd waarin ons ook nou kan leef. Terug na die uitnodiging: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Dors mense! Kom drink by my! Ek gee verkwikking. Ek gee lewe! Ek gee die vrugdra. Hiermee sluit Jesus aan by die droogtetyd van die ballingskap toe die Here vir Israel sê: Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk - Jes 55: 1. Openb 22:17 - Wat doen die Heilige Gees? Eerstens is dit die Heilige Gees wat ons dors maak. Die Gees laat ons verlang na dit wat beter is. Die Gees laat ons besef wat ons huidige nood en armoede is. Wanneer laas het jy gesmag na iets wat geestelik beter is? As jy dit nie ken nie, is dit waarskynlik omdat jy jouself tevrede stel met oppervlakkighede wat nie regtig ’n diep geestelike dors kan les nie. Moenie tevrede wees met vlak watertjies nie.
Moenie tevrede raak met die tweede en derde beste nie. Die Gees verkondig ’n oorvloed wat beskikbaar is. Petrus se gesig verduidelik vandag weer aan ons hoe dors die mensdom is. En hoe die dors geles kan word. In Christus Jesus! Deur die Heilige Gees. Daarom moet die Gees ons help om die woord van Jesus te hoor.
Om te sê: “Here, sê weer! Want ek hoor dit nie altyd so mooi nie.” “Here, sê weer en bevestig vir my U woord!” Laat die Gees jou help om jou dors te erken! Laat die Gees jou help om elke dag die stem van God te herken! Gee jou lewe vir die Gees en vra Hom om jou geloofslewe sinvol vir jou te help beplan. Maar dan moet jy ook kom en kom drink. Die water is by Jesus. Hy is die bron van sinvolle en ware lewe. Dit is gratis tot ons beskikking soos Openb dit stel. En dit is nie vanselfsprekend nie. Ons leen partykeer ons ore uit vir baie stemme – en dit om soms te wys hoe oopkop ons is. Moenie by onbekende en onbetroubare bronne gaan drink nie. Partykeer is die vlak water troebel gemaak dat jy moet dink dit is diep. En dit is die Gees wat jou dan trek na Jesus en Sy Woord. Dit is die “Kom!” van Jesus waarop die Gees jou laat reageer. En dit is die Gees wat jou help om met ’n openheid dieper te kyk. In die volgende sin word die “Kom!” gelykgestel met “Wie in My glo”. En dadelik besef ons dat dit die Gees is wat ons nie net laat hoor nie, maar ook trek. God werk deur die Heilige Gees die wedergeboorte in my. Die eerste vrug van die wedergeboorte is geloof. Geloof is die eerste geskenk van die Gees. Dit is daardie vasgryp aan God met jou swak hande wat deur die geloof sterk hande word in voorspoed en teëspoed. Geloof is om nuwe ore en oë te kry om die Here se genade raak te sien. Geloof is om God te alle tye te vertrou. Soos die Seun die Vader vertrou het - onvoorwaardelik.
Daarom sê Jesus: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Wat se “strome lewende water” is dit wat die Gees gee? Die drinkende persoon het self verkwik geraak van die lewende water. In die gesprek met die Samaritaanse vrou in Joh 4, het Jesus al gesê : “Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Ja, dit dui op die vernuwingswerk van die Gees. Hy maak nuut. Hy gee die ewige lewe. Maar die dorstige drinker word meer as net self verkwik. Hy word die bron en die fontein van waaruit die l ewende water oorvloei na buite. Die Heilige Gees maak van ons die kanaal vir lewende water na die hele omgewing. Jou hele familie, jou hele buurt, jou werk- en leefkring, jou hele gemeenskap, die hele wêreld. Waar jou water van liefde en omgee uitmond, daar sal die wêreld anders begin lyk. Daar sal hoop en vrede, blydskap en diensbaarheid begin blom. Dit is in al die leefkringe waar ons die Gees se liefde en oorvloed moet laat deurvloei… uit ons oorvloei! Soos van die riviere en damme die afgelope week hier in Limpopo oor hulle walle gestroom het. Oorvloei die genade na die etnisiteite – nasies.

Ons praat van ’n missionale kerk wat gestuur is met dieselfde konsentriese sirkels rondom ons soos wat die Gees ook in Handelinge uitgestort is om mense getuies te maak in Jerusalem, Judea, Samaria, na die uithoeke van die wêreld. Ek en jy skuld hierdie oorvloed vir die wêreld uit dankbaarheid om deel van Christus se stroom te wees. Laat die Gees jou gebruik as die kanaal wat die oorvloed van God se genade laat deurvloei. Dat dit in nuwe kringe lewe kan bring. Ons beleef ‘n pandemie en inperking wat vir almal moeilik is. Niemand is onaangeraak nie. Maar die Here roep ons almal: Kom! Luister, hoor en reageer!! Ons het die Heilige Ges as ander Trooster ontvang.
Die Gees lei ons weg van selfgerigtheid, selfsugtigheid en selfbejammering en gee liefde en positiwiteit soos Hy vra Die Gees beweeg ons van selfvertroue (swakheid) na Geesteskrag en oorvloed Die Gees bevry ons van vasgevang in sonde en gee eenvoud in belydenis en lig van verlossing Die Gees neem ons weg van vrees en dra ons na vertroue en verwondering oor ons wonderbare versoening Die Gees maak ons los van isolasie en draai ons koppe en harte na omgee en uitreik na mekaar
Bid vir mekaar en wees ‘n stroom van lewende water vir almal rondom jou en gee lewe deur jou eie ek te kruisig en God in alles te eer, te loof en te prys. Jy lewe in die tyd van die pandemie om die lewende water van God na ‘n geestelike dor en dorstige wêreld te bring.