015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Sout en lig om God in ons samelewing te verheerlik

Sout en lig om God in ons samelewing te verheerlik

Sunday, 18 October 2020 - 9:30am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Matteus 5: 1 - 16

Kyk VIDEO OPNAME hier

 

Skriflesing

Matteus 5: 1 - 16

Fokusteks: Matteus 5:16

Liedere

Psalm47: 1, 4;

Psalm 145: 1, 10;

Psalm 45: 9, 10;

Psalm 33: 6, 10

Die pandemie se impak is groot en word by die dag groter. Werkloosheid is besig om ons land lam te lȇ. Rassespanning, korrupsie, moord en geweld is op almal se lippe. Op politieke gebied was ons nog nooit in so ‘n duistere en chaotiese toestand nie. Op finansiële gebied hang ons letterlik aan ‘n draadjie oor ‘n onseker donker afgrond. Misdaad is besig om buite beheer te raak. Wat moet ons doen? Ons moet God se wysheid in ‘n dwase wȇreld bring. As ons nie meer God se wysheid in die wȇreld indra nie, verloor ons ons roeping. Sommige mense meen dat ons maar net kan hoop en bid dat ‘n ander politieke party so gou moontlik aan bewind moet kom. Hoe moet ons die situasie beoordeel? Hoe ‘n mens ook al na die huidige situasie kyk, oor een ding moet ons saamstem: Iemand moet die leiding neem. Ons Here Jesus Christus gee in die gedeelte, wat ons saam gelees het, die antwoord as Hy sê: Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.
Hierdie woorde is gerig aan eenvoudige vissers en meestal werklose mense. Hy het daar teen die berghang langs die see van Galilea met ‘n skare mense gepraat. Dit was gewone mense wat in donker tye geleef het. Hulle was polities onder die juk van die Romeine en op godsdienstige gebied het hulle swaar gedra aan die las wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes op hulle gelê het. Ons Here Jesus sȇ vir hulle: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word”. Hy bemoedig mense wat in ‘n donker tyd leef. Maar juis aan hulle rig Jesus sy bekende woorde: Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.
Wat beteken dit in ons omstandighede om sout en lig te wees? 3 Sake vra ons aandag:
* Wat doen sout en lig?

* Hoe maak ons seker dat ons sout en lig is?

* Wat is die regte manier om sout en lig te wees?

Wat doen sout en lig? Met die beeld van sout en lig verduidelik ons Here Jesus presies wie ons is en wat ons moet doen. Jy moet jou sout werd wees, kom uit die antieke gebruik om met sout betaal te word. Die Romeinse soldate het sout as betaling ontvang. Ons woord salaris kom van die Latynse woord vir sout. Sout gee smaak aan kos en is ‘n ontsmettingsmiddel. Lig verdryf donker en laat jou sien wat gebeur. Lig word met waarheid geassosieer en ons moet met smaak aan standpunte en lewenswyses wysheid gee. Daarom sê Jesus: “ ‘n Mens steek ‘n lamp op en sit dit op ‘n lampstaander en dit gee lig vir almal in die huis”. Sout verdwyn in die proses om te geur. Olie in die lamp raak op om lig te gee. Vgl die gelykenis van die 10 meisies. Dit is opofferende werk om sout en lig te wees. Sout en lig beklemtoon gelowiges se optrede in die openbare lewe. Sout/kerk is daar vir die kos/wȇreld. Egte liefde kan nie weggesteek word nie.
Om sout en lig te wees is ‘n lewe van opoffering en selfverloëning. Christen-wees en diensbaarheid is gelyk aan mekaar. Om die rede noem Paulus homself ‘n slaaf van Christus. Is ons regtig bereid om slawe te wees, om diensbaar te wees? Ja, is ons bereid om mekaar en die wȇreld se voete te was? Ons moet sigbaar en hoorbaar wees. Ons moet die liefdesgebod uitleef in ‘n samelewing wat al vrotter en donkerder word. Ons Here Jesus sȇ dit baie duidelik: “ ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie”. Almal sien dit raak! Maar, as sout verslaan het, of smaakloos geword het, beteken dit niks meer nie. En ‘n lamp onder ‘n emmer is nutteloos. Dit versmoor en gaan dood! Verstaan u die beeld wat die Here hier gebruik? ‘n Naam-Christen is nutteloos. ‘n Christen wat nie soos sout en lig werk nie maak ‘n bespotting van God se koninkryk.
Hoe moet ons seker maak dat ons sout en lig is? Die enigste manier hoe ek en jy sout en lig kan wees, is as ons deur ‘n ware geloof in Jesus ingelyf is. Hy is die enigste lig vir die wêreld en gehoorsaamheid aan Hom, maak ons ligkaatsers. Deur die vernuwende werk van die Heilige Gees is Christus deel van ons, kom sy ware lig in ons lewe in. Dit verlig ons hele lewe. Dit hou ons lewend en gee vir ons geloof en liefde. Dit gee ons krag om toegewyd en diensbaar te wees. Soos ons verlede week gehoor het in Tes 1 dat ons ‘n model en klankbord moet wees, hoor ons vandag dat ons Christus se lig moet weerkaats.
‘n Weerkaatser aan ‘n voertuig het mos geen krag of lig in homself nie. As ‘n mens egter in die donker met ‘n lig op daardie weerkaatser skyn, maak dit lig. Ons Here Jesus is die lig vir die wêreld en ons is sy weerkaatsers. Christus is ons onuitputlike bron van lig. As mense na ons kyk, sien hulle die Here Jesus wat die lig is! Ons kan net lig maak omdat die Here Jesus sy lig op ons laat skyn. Hierdie lig kry gestalte in ons geloof deur liefde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing. Ja, die Heilige Gees lei ons om in hierdie wêreld ‘n radikale verskil te maak.

Die lewe op aarde is die lewe van ekstreme: tussen armoede en rykdom (Matt. 5:3), dood en lewe (5:4), sagmoedigheid en arrogansie (5:5), geregtigheid en diskriminasie (5:6), genadeloosheid en barmhartigheid (5:7), onreinheid en reinheid (5:8), oorlog en vrede (5:9) en vervolging en hemelse beloning (5:10-12). Daarom beteken sout vir die aarde dat gelowiges betrokke moet raak by die aarde en sy lewe, omdat hulle hulleself moet beskou as die mees belangrike bestanddeel van hierdie lewe. Die voorwaarde is dat sout sy soutgehalte moet behou. Ons mag nie die kwaad van die wêreld met kwaad vergeld nie. Ons oorwinning is in Christus. Op die manier is ons sout en lig. Op die manier, sien ander mense ons goeie werke. Mense sien wat ons doen, hoor wat ons sê en kom agter wat ons gesindheid is. Hulle verstaan dat ons burgers van God se koninkryk is en dan kry ons Vader wat in die hemel is al die eer. Omdat ons in ware geloof saam met ons Here Jesus leef, skyn Sy lig op ons. Ons is sy weerkaatsers. In hierdie wêreld en hierdie land waarin ons ons tans bevind, is dit die enigste ware lig. As ons niks doen nie, is ons die naam Christen nie werd nie. Dan is ons sout wat verslaan het en lampe onder emmers. Hoor ons opdrag: Wees sout en lig en straal jou identiteit uit!!