015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Soos klein in die Pottebakker se hande

Soos klein in die Pottebakker se hande

Sunday, 17 January 2021 - 9:30am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Jeremia 18: 1 - 17

Kyk Video opname hier

Skriflesing

Jeremia 18: 1 - 17

Dat ons soos klei in die hande van die goddelike Pottebakker is, maak baie gelowiges óngemaklik. Ons beleef dit nie altyd as ‘n troos en sekerheid nie! Inteendeel dit klink vir sommige na ‘n inperking van ons vryheid. Dit is vir ons gevoel te beklemmend en benouend - ons kan nie wees wat ons graag wil wees nie, ook nie doen wat ons graag wil doen nie. Weerloos – uitgelewer aan die grille en giere van die Pottebakker, vasgekeer in die handpalms van die sterk, drukkende hande van die Pottebakker. In hierdie beeld van die pottebakker en die klei skuil ‘n ernstige waarskuwing, gevul met goddelike genade! Jeremia kry opdrag om na ‘n pottebakker se huis te gaan. By die huis, sien hy dat die pottebakker juis besig is om met sy hande iets uit die klei op sy skyf te vorm. Hy wil iets bruikbaar maak, iets waarop hy trots kan wees! Maar dinge wil nie uitwerk soos hy wil nie. Die klei wil eenvoudig nie die vorm kry wat hy beplan nie. Soms druk en hulle skaaf daaraan – maar sonder sukses. Die klei bly hard en bros - brekerig! Dit misluk. Dit beantwoord nie aan sy verwagting nie! En dan sien Jeremia hoedat hy die halfgevormde “ding” weer inmekaar gedruk word tot ‘n hoop vormlose klei... en oorbegin. Hy begin iets anders maak – “soos hy dit wou hê”, sê ons teks. Wat beteken dit?

Die pottebakker is God en die klei is die Here se volk, Israel. Dit gaan dus om die genadige God en Sy begenadigde (verloste) volk. Sy kinders wat Hy tydsaam en sorgvuldig vorm en skaaf tot ‘n heilige volk, tot ‘n kunswerk, wat só moet leef dat Hy geëer en geprys sal word! Sy kunswerk wat iets bruikbaars kan wees – wat ‘n doel op aarde het! Maar in hierdie pottebakkersbeeld laat die Here vir Jeremia sien dat hulle nie wil wéés en dóén wat die Here met hulle beplan het! Daarom vra die Here: “Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in My hand...”. Met dié vraag sê God dat Hy vry is om te maak met die klei, sy volk, wat Hy wil! Immers, sy volk maak dan wat húlle wil. Hulle wil nie dat God hulle vorm nie. Hulle wil eerder ander gode vorm – self beelde maak waarvan hulle hou en dink vir hulle sal sorg. En dan het hulle nog die vermetelheid om spottend te vra wat kan die Here tog aan hulle doen! (Hy praat net van oordeel, maar doen dit nie - 17:15). Ja, dit is slegte klei.

Die oersonde van die mens, sedert Eden, is ‘n eiewillige lewe! Ek sal maak soos én wat ek wil. Ek laat my nie voorsê of keer nie – deur niks en niemand nie! Daarom moet ons eerlik op die vraag vanoggend antwoord: is jy goeie, werkbare klei? Is ons vormbare klei in die hande van die Pottebakker? Of is ons bros en brekerig? Anders gevra: dink jy dat jy beter as God sou kon doen? En dan, eiesinnig en hardkoppig, aan jou lewe vorm gee, dit beplan en uitwerk – soos dit jóú pas en soos jy wil? God vra: Kan Ek nie met julle maak soos hierdie pottebakker in sy huis nie? Ja, Ek kan met julle maak net wat Ek wil. Ek het eintlik genoeg rede om julle weg te gooi. Inderdaad, die boodskap dat ons soos klei in die hande van die Pottebakker is, herinner ons, waarsku ons dat God Gód is. Hy is soewerein (= vry en magtig). Hy kan skep en breek soos Hy wil! En weer uit die ruïnes bou...

Is daar genade vir mislukte klei!? As God ongeduldig was en niks vir die klei gevoel het nie, dan was daar vir bros klei soos ons geen hoop nie. As ons sou dink dat die Pottebakker met mening, uit frustrasie, die klei inmekaar sou druk... en dit summier sou weggooi, sien Jeremia egter iets anders. Hy sien hoedat die pottebakker weer water by die klei voeg en van voor af begin vorm. Geduldig bly Hy daarmee besig - om dit te vorm soos Hy wil. Hy is die genadige God, die geduldige wat, wat in Sy vryheid besluit het om iets van ons te maak! En dié God is die Een wat skep. Die Een wat nuut maak – wat klei totaal omvorm tot ‘n asemrowende kunswerk!

Eers by nadenke onder die leiding van die Heilige Gees besef ons dat die Here iets totaal anders maak as dit wat ons in gedagte gehad het. God het iets baie groot in gedagte. Hy sien nie ‘n hoop klei nie. Hy sien ‘n paleis waarin Hy wil woon. God is elke dag besig om ons om te bou tot paleise (tempels) waarin Hy in Sy reddende teenwoordigheid en seëninge in oorvloed woon, waaruit goedheid en heerlikheid vir almal kan straal, waaruit lof en dank aan Hom weerklink, van waar ons ons medemens dien! God is nie ‘n koue klipgod of houtgod wat met goud of silwer oorgetrek is nie. Hy is die lewende God wat in ‘n lewende verhouding met ons lewe! Hy is vrymagtig, maar nooit wispelturig nie. Hy gebruik nie sy vryheid om mense summier af te skryf nie. Daarom kan Hy oordeel aankondig... en weerhou! Nie dat Hy die weerbarstige klei sommer maar oorsien nie. Ons weet dat die oordeel voltrek is. Weens sy onbegryplike liefde vir ons het Hy die liggaam van sy Seun aan die kruis gebreek! Die kruis is die plek waar God se regverdige oordeel weggelei word van diegene wat dit wel verdien het. Aan die kruis is hande deurboor. En nou, as ons Christus se deurboorde hande sien, kry ons God se hande te sien. Dan verstaan ons dat Sy hande deernisvolle hande is, hande waaruit ons ‘n nuwe lewe ontvang het. Hande wat ons nie wil slaan en straf, of beklem en benou nie. Maar hande wat ons in liefde toevou, hande wat ons lei op die pad van die ware lewe – tot in ewigheid! Deur die Heilige Gees het Sy Vaderhande ons binneste aangeraak – die koue, harde klipharte uitgeruk... en aan ons nuwe harte gegee - ‘n nuwe lewensingesteldheid, vry van eiewilligheid wat so sterk in ons gewoed het. En met sy deernisvolle hande bly Hy besig met die klei. Voortdurend druk en skaaf Hy aan ons om ons al meer te vorm na sy Beeld – sodat elkeen van ons, soos Hy, in geduld en liefdesdade en reg doen en regverdigheid sal begin lewe – teenoor man/vrou, ouers/kinders, vriend/vyand, en Hy geëer word!

Op hierdie oomblik en in hierdie pandemietyd is Hy besig om ons te vorm, hier waar ons na Sy Woord luister! Elke keer as jy sy genade-Woord van verlossing vir jou hoor, Sy wil soos Hy in sy wet gee, ‘n vermaning, ‘n gewete wat jou aanspreek en skaam en skuldig laat voel. Ja, God gebruik krisisse, teleurstellings, siektes en swaarkry - alles om ons te vorm! Sien daarom sy Woord en beproewinge – nie as verwoestende hande nie, maar as vormende hande – omdat Hy so besorg is oor jou lewe en iets wonderliks daarvan wil maak! Is jy sagte werkbare klei, wat gevorm wil word?

Onthou, dié klei wat hard en bros bly – ten spyte van die Lewende Water (Jesus Christus Self – Joh.4); en aanhoudend op die pottebakkerswiel uitmekaar breek, sal uiteindelik inmekaar gedruk word... en weggegooi word aan die einde van die tyd soos Israel wat soos ‘n kleipot stukkend geslaan is in ballingskap... (19:10) Daarom vra die Here: Bereik jou lewe die doel wat God daarvoor in die oog het? As ons lewens net om onsself gaan, oor ons belang, ons toekoms, ons voorspoed en gemaklike lewe... en nie meer oor Hom nie – dan het ons klaaglik misluk! Miskien, volgens wêreldse maatstawwe, kan dit suksesvol wees. Suksesvolle mense is mos, na ons mening, mense wat iets groot en skouspelagtig in die lewe bereik het, wie se naam met eer genoem word, groot deurbrake gemaak het. Maar, tragies, die mees suksesvolste lewe kan ‘n mislukking wees, as dit nie ‘n God-gevormde lewe was, wat diensbaar in sy Koninkryk was nie. Die Bybelse beeld van sukses is nie wat ek en jy bereik nie, maar hoe ons ander se lewe bereik en verryk met bevrydende en versorgende genade van Jesus Christus!

Om aan die Goddelike Pottebakker gehoor te gee, ontneem ons nie ons vryheid en vol lewe nie! Mense se optrede teenoor ons kan ons laat voel dat ons ‘n mislukking is. Onthou, God het ‘n beter plan met my en jou lewe as wat ons ooit sal kan uitdink of sal kan waar maak! En, inderdaad, binne Sy hande vertrou Hy ons met vryheid van keuse en moet ons besluite neem. Die verskil is net dat, as ons ons oorgee aan Sy vormende hande en daarvolgens besluite maak, kan ons weet dat ons in beter hande is as ons eie! Sekerlik is ons nie altyd tevrede met Sy handewerk nie - dikwels selfs geskok oor siekte en ander swaarkry wat Hy toelaat, selfs teleurgesteld en opstandig daaroor - maar ons kan weet dat dit ewig beter is om deur hierdie Pottebakker gevorm te word..., as om ons eie vormpies te wees! AMEN