015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Pinkster is om van Bo-af nuutgebore te word

Pinkster is om van Bo-af nuutgebore te word

Sunday, 23 May 2021 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
Johannes 3: 1 – 21 ; Eseg 36: 25 – 27; Gal 5: 22 - 26
Tema: 
Skriflesing

Johannes 3: 1 – 21 ;

Eseg 36: 25 – 27;

Gal 5: 22 - 26

Fokusteks:  Joh 3: 5,  6

Liedere

Psalm 2: 1, 6 ;

Skrifberyming 12-3: 1, 2 ;

Psalm 130: 1, 2, 4 ;

Skrifberyming 8-1: 1, 2 ;

Skrifberyming 14-3: 1, 4

Ons herdenk die uitstorting van die Heilige Gees op die 50 ste dag na die opstanding van ons Here Jesus Christus en 10 dae na die hemelvaart. Jesus het vroeg in Sy bediening met Nikodemus oor die saak van wedergeboorte gepraat. Om die koninkryk “te sien”, beteken om dit te ervaar, te beleef, daaraan deel te hê (kyk Joh 3:36; Luk 9:27). En dit is dieselfde as om in die koninkryk “in te gaan”.

Bloot taalkundig gesproke is daar uiteraard ‘n betekenisverskil tussen sien en ingaan. In vers 3 en 5 word “sien” en “ingaan” as sinonieme gebruik. Mens sou hoogstens kon sê dat “sien” die gedagte tuisbring dat mens die verband tussen die koninkryk van God en die openbaring daarvan in die persoon van Jesus Christus moet kan sien, d w s begryp, aanvaar. Maar dit is in wese dieselfde as om deur Christus die koninkryk in te gaan.

Vers 5 verduidelik breër wat dit beteken om “weer gebore” te word (v3). V 5 sê dat om “weer gebore te word” beteken om “uit water en Gees” gebore te word. Om die verband tussen hierdie twee verse te verstaan, moet ons eers iets sê oor die “weer” van weer gebore. Die Griekse woord (anōthen) wat in v3 met “weer” gebore (1953 Vertaling) of met “opnuut” gebore (1983 Vertaling) vertaal word, is dubbelsinnig en kan ook met “van bo-af” gebore vertaal word. Die Johannes is bekend daarvoor dat hy soms doelbewus begrippe gebruik wat dubbele betekenisse het. Beide betekenisse van “weer” en “van bo-af” is moontlik en waar: as jy “weer” gebore word, word jy terselfdertyd “van Bo-af” gebore, dws deur God se Gees nuut gemaak. Dan is dit asof jy weer soos ‘n kind van vooraf moet leer dink, praat en loop; jy moet leer hoe om te leef in God se koninkryk. En dit is dieselfde as wat Matt 18:3 sê: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” Wedergeboorte dui op die werk van God se Gees wat mense nuut maak, sodat hulle soos God kan begin dink en kan verstaan hoe God se koninkryk werk. Jy kry hemelse insig en wysheid.

Waarom die Leermeester se “onkunde” oor die wedergeboorte? Johannes lei ons dmv die “onkunde” van Nikodemus om ons van ‘n aardse na ‘n geestelike werklikheid te lei. Voorbeeld - Die dissipels vra Jesus oor die plek waarnatoe Hy gaan in hfst 13:36-14:14. Daarom vra/versoek hulle: Waarheen gaan U?; toon ons die Vader. Johannes gebruik die vrae om Jesus aan die woord te stel oor Sy tuiste, Sy verhouding met die Vader, en oor die dissipels se eintlike plek en toekoms. Hulle “onkunde” lei dus tot dieper onderrig van Jesus oor sy – en hulle! – ware identiteit. Jesus lei hom van die letterlike fisiese geboorte na die geestelike geboorte wat God deur sy Gees bewerkstellig.

Nikodemus moes as Fariseër geweet het van die OT beloftes dat God in die laaste dae Sy volk deur die Gees sal vernuwe. Jes en Joël profeteer van die Gees wat in die eindtyd van Bo uitgestort sal word. In Eseg 36:25-27 word die verband tussen die reinigende krag van water en God se Gees gelê: Hy sal sy volk reinig met suiwerende water, ‘n nuwe gees in hulle binneste gee wat gewillig is om God se gebooie te doen, en sy Gees in hulle gee. Die gedagte vervat in Joh 3:5 dat iemand uit water en Gees gebore moet word, is dus nie onbekend vanuit die OT nie. Ook die gedagte van kinders van God te wees, d w s om deur God “verwek” te word, kom in die OT voor. Israel word God se seun genoem (Eks 4; Deut 32; Hos 11); in die huis van Dawid word die konings seuns van God genoem wat deur God “verwek” is (Ps 2:7). Nikodemus het dalk nie kennis gehad van die spesifieke manier waarop Jesus oor ‘n geestelike hergeboorte praat nie, maar sou en moes hy vanuit sy kennis van die OT verstaan het waarop Jesus dui toe Hy oor die saak gepraat het. Die gesprek oor die wedergeboorte deur water en Gees, naamlik die nuwe bestaan waar God jou deur sy Gees sy kind maak, jou reinig en geskik maak vir sy koninkryk sodat ons vandag die vrug van die Gees in Gal 5: 22 – 26, kan leef.

Nikodemus se onkunde is nie misplaas nie, en is binne die groter geheel van die Evangelie ‘n aanklag teen die Joodse geestelike leiers van Jesus se tyd, waarvan Nikodemus ‘n verteenwoordiger was, dat hulle nie die tyd van Israel se vernuwing deur Jesus se werk kon herken nie. Die Heilige Gees gee alleen toegang tot die geestelike ryk van God. Danksy die Gees weet ek dat Jesus van Nasaret die Seun van God is en die Redder van die kosmos is. Danksy die Heilige Gees is ek verseker dat God al my sondes vergewe het. Die Heilige Gees bring my by ware belydenis en soeke na vergifnis.

Ons weet nie of Nikodemus tot geloof in Christus gekom het nie. Ons lees 2x van hom verder. Hy waarsku die Raad dat hulle Jesus nie sonder verhoor kan veroordeel nie en vat 50 liter geurolie om Jesus se liggaam te behandel en in ‘n nuwe graf te plaas. Maar glo hy werklik?

Glo jy werklik? Is jy van Bo-af gebore?