015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Ons het steeds 'n vaste hoop

Ons het steeds 'n vaste hoop

Sunday, 16 August 2020 - 9:00am
Dominee: 
Teks: 
Heb 6: 13 – 20; Gen 22: 1 - 12 Teks: Heb 6: 19, 20

VIDEO OPNAME

Liedere

Psalm 89: 1, 2 ;

Sk 18-7: 1, 12

In Hebreërs lees ons van hoop. Die apostel Paulus stel dit duidelik in 1 Kor 13 dat ons lewe uit geloof, hoop en liefde bestaan. Vir baie mense is hoop iets twyfelagtig. Die pandemie waarin ons tans verkeer veroorsaak baie twyfel in mense se lewe. Ons weet nie wat en hoe ons lewe verder geraak gaan word nie.
In die Bybel is hoop ‘n vasstaande saak. Abraham word as voorbeeld gebruik om dit konkreet aan ons te verduidelik. Die Heilige Gees is die geestelike hande wat aan God se belofte vasgryp. Abraham kry ‘n belofte en die opdrag om te trek na ‘n plek wat God vir hom sal wys. Hy het niks wat konkreet is nie, net God se woord. En hy trek in die geloof. Hebreërs 11 leer dit vir ons. Sonder geloof is daar niks.
Die Here gee vir ons ‘n vaste belofte dat Hy vir ons ‘n plek voorberei het waar daar geen pyn, siekte, pandemie, bekommernis, depressie of hartseer en teleurstelling sal wees nie. Oppad na daardie huis, sal Hy saam met ons wees van ons geboorte tot by ons sterfdag. Te midde van al die gebeure op aarde, waarin die mense se sondige natuur deurslaan, sal Hy ons dra in Sy Vaderarms tot in die ewige lewe. Ons hoop staan in Hom vas en seker. Die Bybel noem dat dit veilig en onbeweeglik agter die voorhangsel vas is. Dit beteken dat die anker buite onsself is. Ons het geen onsekerheid nie. Die voorhangsel was die swaar gordyn wat tussen die heilige en allerheilige in die tabernakel en later die tempel in Jerusalem, gehang het. Toe Jesus aan die kruis uitroep: “Dit is volbring”, het die gordyn van bo na onder geskeur as bewys dat die sonde versoen is. Jesus Christus hou ons emosioneel stabiel wanneer alles om ons wankel. Hy is ons anker. Hy hou ons veilig. Ons anker van hoop keer die kleingeloof en moedeloosheid wat ons geestelik kan laat sink. Ons word op die sekerheid gewys: Ons anker is in die hemel. ‘n Skip se anker val na onder om op die bodem vas te hou en die passasiers veilig te hou. Gelowiges se anker is in die hemel in Christus, waar ons ewige en volmaakte toekoms is. Alles op aarde is tydelik en verganklik. Alles breek en gaan tot niet. Ook ons liggame gaan uiteindelik tot niet. Die skrywer druk ons dit weer op die hart: God is onveranderlik, ewig en onverganglik. Hy kom elke belofte na en kan nie vergeet nie. Ons lewensskip is in 2020 aan baie veranderlikes onderworpe. Die uitwerking van die pandemie kan nog jare ‘n effek op ons lewe hê. Ons kry vandag weer die belofte: Jou bestemming staan vas. Jou tuiskoms is verseker in die geloof dat Jesus opgestaan het en opgevaar het. Hy is Priester en Koning tot in ewigheid. In al ons vrese en pyn dra God ons belange in Sy barmhartige Vaderhart. Niks kan ons van Hom losskeur nie. Hou aan om ander na die lewensanker van hoop te lei.