015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Kerfees is vir almal wat glo

Kerfees is vir almal wat glo

Sunday, 6 December 2020 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
Matteus 1: 1-17, Lukas 3: 23-38 en HK Son 14

Kyk video opname hier

Skriflesing

Matteus 1: 1-17,

Lukas 3: 23-38 

Heidelbergse Kategismus Sondag 14

Fokusteks:

Die geslagsreigter in Matteus 1 en Lukas 3

Liedere

Psalm 18: 1, 14

Psalm 71: 4, 9

Skrifberyming 14-1: 2, 3

Skrifberyming 5-4: 5, 6

Jesus Christus is die vervulling van God se beloftes aan Adam in die paradys. Hy kom om as die Gesalfde, daarom is Hy die seun van Dawid, die seun van Abraham. Die name in ‘n mens se voorgeslag sȇ nie regtig vir jou iets oor jou as persoon nie. Maar met Jesus se geslagsregister is dit anders. Mat en Luk leer vir ons dat Jesus gebore is deur die werking van die Heilige Gees in Maria. Die mense was verkeerd om aan te neem dat Hy die seun van Josef was (Mat 13:55, Joh 1:46). Josef sou Hom natuurlik as sy eie aangeneem het, maar biologies was Jesus die maagd Maria se seun. Omdat Hy op dié manier gebore is, kan ons sê dat Hy volkome God en volkome mens is: twee nature in een Persoon (Gal 4: 4, Fil 2: 6-8). Die feit dat Hy ‘n geslagsregister het, wys vir ons dat Hy regtig volledig mens was. Hoe verstaan ons die verskille tussen Mat en Luk se weergawes?
Volgens Lukas was Eli Jesus se oupa, en volgens Matteus was dit Jakob. Net so verskil die name van Dawid af tot by Josef in die twee rekords. Lukas volg die bloedlyn van Dawid af deur Natan, terwyl Matteus dit van Dawid af deur Salomo volg. Hoe moet ‘n mens hierdie verskille verstaan?

Twee moontlikhede:

1. Moses het die swaershuwelik ingestel in Deut 15: 5 – 6. Hierdie reël mag miskien die rede wees hoekom die name in Matteus en Lukas se rekords verskil. In een of meer gevalle het iemand met sy broer se weduwee getrou en kinders in sy naam gehad. Lukas sou dan die biologiese pa’s se name weergee het, terwyl Matteus die oorlede broers se name opgeteken het.

2. Dit mag ook wees dat Matteus vir ons Josef se stamboom gee, terwyl Lukas op Maria s’n fokus. Indien ‘n man net dogters gehad het, kon hulle nie buite hulle eie stam getrou het nie. Die pa sou ook heel waarskynlik sy skoonseun as sy eie aangeneem het, sodat sy familienaam nie uitsterf nie. As dít die geval was, dan was Josef Eli se skoonseun en ook sy aangenome seun, en nie sy biologiese seun nie. Jakob en nie Eli nie, was dan Josef se regte pa, terwyl Eli Maria se pa was. Die implikasie is dat Luk 3 Maria se stamboom is, terwyl Mat1 Josef s’n is. Daar is nog name in Luk 3 wat met die Ou Testament rekord ver-skil. Sommige van die name word net anders gespel, terwyl ander nie met die geslagsregisters in 1 Kronieke ooreenstem nie.

Enige goeie kommentaar kan vir jou ‘n oplossing vir hierdie ‘probleme’ gee. Lukas sê tog vir ons dat hy hierdie dinge noukeurig ondersoek het. En Matteus was een van Jesus se apostels wat by Hom geleer het (Mt.10:3). Verder is die woorde van beide outeurs deur die Heilige Gees geïnspireer en daarom ook foutloos. Maar ons doel is nie om só op mense se name te fokus dat ons die saak mis nie. Buitendien leer die Bybel vir ons om nie oor die detail van geslagsregisters te stry nie (1 Tim1:4, Tit 3:9). Alles staan onder God se vrymagtige genade. Jesus is God. By Lukas het almal ‘n pa gehad – behalwe Jesus en God. Niemand het die Here gemaak het nie, maar Hy het die mens gemaak. Verder ook dat Jesus in sy Goddelikheid nie ‘n begin gehad het nie, maar dat Hy as mens deur die krag van die Heilige Gees uit ‘n maagd gebore is. Hy is die God wat vir Adam gemaak het, maar ook die mens uit Adam se nageslag. Adam was die seun van God deur direkte skepping: God het hom na sy beeld gemaak. Jesus was egter van ewigheid af die Seun van God. Adam was ‘n seun wat teen die Here gesondig het, maar Jesus ‘n Seun wat God die Vader se hart bly gemaak het. Selfs die duiwel het geweet dat Jesus die sondelose Seun van God is. Die Jode het dit egter ontken (Luk 22:70-71), en vandag nog ontken mense dit – bv die Jehowas. As Jesus nie God is nie, kan jy nie tot Hom bid nie, kan Hy jou nie help nie, en is jy besig om sonde te doen as jy Hom aanbid. Hy kan ook nie die Middelaar tussen jou en God wees nie, omdat ‘n mens nie na God toe kan kom nie: Ons het iemand nodig wat God en mens is, sodat Hy die Een by die ander een kan verteenwoordig. As Jesus nie God is nie kan Hy jou ook nie red nie, omdat geen mens ‘n ander een se siel uit die hel kan loskoop nie – net God kan dit doen – Ps 49: 8-10, 16. As Hy nie waarlik God is nie, het Hy gelieg toe Hy Homself in Joh 5 gelyk gestel het met die Vader. Daarom is dit belangrik is om te glo dat Jesus volkome God is.
Jesus is volkome mens. Jesus se geslagsregister sê vir ons waar dit alles begin het, en gee ook vir ons die oplossing. Die frase wat deurlopend in hierdie geslagsregisters voorkom is “die seun van”. Die feit is dat die geslagte kom en gaan: ons word gebore en ons sterf weer. Die mens se geboorte en dood is onder ‘n vervloeking (Gen 3). Juis daarom het Jesus aarde toe gekom om as mens gebore te word en dood te gaan. Hy het as mens gekom om ons van ons vervloekte bestaan te verlos. Dié wat in Hom glo hoef nie onder die vloek te lewe en die dood te gaan nie. Vir hulle is die dood ‘n wins (Fil 1:21) en het dit nie meer ‘n angel nie (1 Kor 15:55). Hulle hoef die dood nie te vrees nie, omdat Jesus dit deur sy kruisdood en opstanding oorwin het (Heb.2:15, Op.1:18). Wanneer dit húlle beurt is om te sterf sal Jesus by hulle wees (Ps 23:4). Hy is die opstanding en die lewe. Wie dan in Hom glo sal lewe al het hy ook gesterf (Joh 11: 25-26). Wanneer Jesus weer terugkom sal Hy ook ons liggame uit die dood uit opwek (1 Kor.15).
Jesus is die Messias. Ons lewe in ‘n land waar daar baie bedrog plaasvind. ID saamdra, dokumente waarmerk, bewys van adres hê ens. As ons nie Jesus se stamboom gehad het nie, kon mense maklik gesê het dat Hy nie regtig die Messias is nie. Lukas sȇ dat Jesus die Goddelike Messias is. Hy sê dat koning Dawid een van Jesus se voorvaders was. Vir Matteus was dit die fokus: Jesus is die Seun van Dawid en die Koninklike Gesalfde. Dawid begin sy koningskap op 30; Jesus Christus begin ook bedien op 30. Jesus is die Leeu uit die stam van Juda - Op 5:5. Hy is die een wat gekom het om die slang se kop te vermorsel. Hy het reeds in Luk 4:1-13, 33-36 begin om die duiwel te oorwin en het dit aan die kruis voltooi. Omdat Hy die Koning is, moet jy die knie voor Hom buig. By die wederkoms sal jy op jou knieë gedwing word soos iemand wat ‘n aardbewing beleef en nie anders kán as om te buig nie. Jou knieë sal lam word en onder jou meegee. Hy stort vandag Sy genade en liefde oor jou uit. Hy veg vir jou en beskerm jou deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees fokus ons aandag op God en rus ons toe om die wapens van die geloof in ons daaglikse stryd te gebruik. Hy regeer jou vir jou beswil om uiteindelik saam met Hom te regeer (Op.5:10).

Jesus is die Verlosser. Jesus se geslagregister en die res van die Bybel gee vir ons die doel: God het by die wêreld begin en toe na die Jode toe gedraai. Hy word gebore om die wêreld te red: Jode sowel as heidene. Lukas was die enigste nie-Jood wat ‘n boek in die Bybel geskryf het. Hy het sy Evangelie vir ‘n nie-Jood geskryf: Theofilus. Daarom vat Lukas sy rekord van die geslagsregister terug tot by Adam, die eerste mens en die voorvader van die mensdom. Sy doel was om te wys dat Jesus die Verlosser van alle mense is – ook die Verlosser van nie-Jode. Hy is ons Hoëpriester wat gekom het om die finale offer vir ons sondes te bring. Hy is die Hoëpriester wat bid dat dié wat in Hom glo in God se teen-woordigheid kan inkom (Heb 7). Hy is die laaste Adam. Die eerste Adam het ons in die sonde gedompel, maar die laaste Adam kom red - 1 Kor 15. Hy red ons nie net van die sondige dinge wat ons dink, doen en sê nie, maar ook van die sondige natuur wat ons by Adam geërf het (2 Kor 5: 17, Ef 2: 1-10). As die hele mensdom die kinders van Adam is, beteken dit dat Jesus nie net Verlosser vir die Jode is nie, maar ook van die heidene. Daarom is daar nie-Jode in sy voorgeslag. Daar is groot genade vir almal. Christus se bloed vloei vir almal. Hy is Verlosser vir alle mense – almal wat in Hom glo (1 Tim 4:10). Ons ken ook die belofte van Joh 3: 16.
Is daar ‘n sonde wat Hy nie kan vergewe nie, ‘n sondaar so groot dat Jesus hom nie kan red nie? Abraham het afgode gedien. Dawid het egbreuk en moord gepleeg. Juda het kinders by sy skoondogter gehad. Jakob het bedrieg. Adam het die hele mensdom in sonde laat val en hulle dood veroorsaak. En wat is jóú sonde dat Jesus dit nie kan vergewe nie? Kyk met die oë van geloof na die spykermerke in sy hande en voete, en na die wond in Sy sy. Was dit tevergeefs? Jy is vandag reeds mede-erfgenaam van die Koningkryk van God. Broer en suster van Jesus, die Seun van God. Wat ‘n genade!!!