015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Is jy Werklik Gereed?

Is jy Werklik Gereed?

Sunday, 5 July 2020 - 9:00am
Dominee: 
Teks: 
Op 6: 1 – 8, Sag 1: 7 - 17
Tema: 

Lees Op 6: 1 – 8, Sag 1: 7 - 17

 

SIEN VIDEOOPNAME HIERONDER

 

 

Geliefde brs en srs, in hoofstuk 5 lees ons van Jesus Christus wat die boekrol uit God se regterhand neem. Die boekrol bevat die Raadsplan tot by die Wederkoms. Wie is waardig? Die Verlosser Jesus Christus. Hy is die Leeu uit die stam van Juda, maar ook die Paaslam. Hy is die Almagtige uit die nageslag van Dawid wat Sy krag bewys, deur die versoening aan die kruis. Daarom sien Johannes ‘n Lam. Hy is in die hemel, die oorwinnaar, Hy is nie in die graf nie. Hy alleen kan die Raadsplan van God ontvou. Hy is toegerus met die volheid van die Heilige Gees – 7 oë. Hy sien die geskiedenis van die kerk en daarmee saam die mensdom se uiteinde. Alles onder die hemel is deel van sy Koninkryk. Hy regeer tot Hy weer kom! Die 4 lewende wesens laat die feit deur die skepping weergalm.

 

Die eerste 4 seëls vorm ‘n groep wat saamhoort. Die Here beskryf met die beeld wat op aarde gebeur tussen die uitstorting van die Heilige Gees en die werkoms van Christus. Dit beskryf nie chronologiese volgorde nie. Die opening van elke seël begin ‘n reeks gebeure van die eindtyd. Vir die wȇreld is die gebeure verwoestend en vir die gelowige heiligend, opbouend en louterend.  Uit die donderwoord van die 4 wesens kom daar perde te voorskyn. In die stadion van die wȇreldgeskiedenis, storm hulle met trappende pote en skuimende bekke die toekoms in.

 

Die 1ste perd is wit en het ‘n ruiter met ‘n boog wat oorwin. Die boog was ‘n wapen wat oor ‘n afstand die teiken kon tref en ‘n merk laat. Sommige verklaar die wit perd as die verleidingsmag van die wȇreld. Alhoewel die Duiwel en sy trawante groot welslae sal behaal deur hulle tipe evangelie, sal hulle nie die uiteindelike oorwinning behaal nie. Ons kies vir Christus wat die oorwinning behaal en alle mag reeds besit. Die wat die Woord van oorwinning hoor en ter harte neem, sal alleen salig wees – Op 1: 3. Die oorwinning van Christus se woord wat die hartsteiken tref, sal ewig wees. Die oorwinning is sentraal in ons lewe. Wit is rein en heilig – so is elkeen wat gewas is in Christus se bloed.

 

Die 2de perd is vuurrooi en is die simbool van oorlog, wreedheid en hy gaan die vrede verwoes. Hy kom met die swaard van vervolging en twis. Hy het ‘n groot swaard en bring angs en leed. Hy is die teenpool van die swaard van die Gees wat uit Christus se mond uitgaan. Die rooi perd bring daagliks oorlog waarin huise, gesinne en ons samelewing skade aangedoen word. Die pandemie dra nog meer by om die oorlog ernstiger te maak. Die finansiële probleme wat ons tans ondervind is dalk net die punt van die ysberg. Die geveg om die hart neem in intensiteit toe. Kyk na God vir versorging, nie jou eie planne nie. Die rooi perd is op spoed. Lees ook weer Mat 24: 6 wat ons waarsku oor oorloë en die gerugte daarvan. Geweld neem toe.

 

Die staldeur bars nog ‘n keer oop en ‘n swart perd storm ons lewe in. Die keer het die ruiter ‘n skaal in die hand. Die skaal weeg af. Hy is op gallop en maak die gaping tussen ryk en arm, al hoe groter. Die swart perd van inflasie en devaluasie. Die armes word al armer. Swart is ook die kleur van rou, dood, honger, depressie en bekommernis. Die swart perd voer God se oordeel uit, maar soos Hy dit beplan. Ons bely in die HK vr 28 dat ons troosvol die toekoms kan ingaan, aangesien alle skepsele so in sy hand is dat hulle hulle sonder God se wil nie kan roer of beweeg nie.

 

En die 4de perd volg logies op 2 en 3. Die groen-geel-vaal kleur simboliseer siekte en dood. Die Covid-pandemie is een van baie pandemies wat die wȇreld al beleef het – die Swart plaag van die 14/15de eeu, Groot Griep van 1918 - 1920, Voëlgriep, MIV/Vigs en TB is maar van die plae. Gelowig en ongelowig ly saam onder die aanslag. Daar sterf letterlik honderde mense per dag aan kanker. God se Woord kom aan ‘n wȇreld wat doof en blind geword het vir Sy genade en trou. Die gelowige sien uit na die God se vredestyd wat gaan aanbreek. Hierdie perde hardloop vir ‘n beperkte tyd. Moet julle daarom nie ontstel nie, wees gereed. My koms is naby.

 

Die Here se belofte aan die kerk is in Op 3: 10: Ek sal julle vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wȇreld kom. Kyk net hoeveel mense se lewe word daagliks deur oorloë geraak, hoeveel onskuldige bloed word vergiet – diere sterf onnodig oor gierigheid en bygeloof.

 

Openbaring troos. God jaag die perde uit. Hy beheer en neem ons ook deur die huidige situasie. Lewe so naby die Here Jesus dat jy absoluut gereed vir Sy koms kan wees. Is jy werklik gereed? Die tyd vir bekering en geloof is ryper as ooit te vore. Die oes is gereed op die lande, want die mensdom sien net die hier en die nou. Wees Christus se getuie in woord en daad.