015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Jesus Christus is ons Lig

Jesus Christus is ons Lig

Sunday, 7 February 2021 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
Johannes 8: 12-20 en Jesaja 42: 6 en 49: 6
Teks

Johannes 8: 12-20

Jesaja 42: 6 en 49: 6

Liedere

Lied 184 : 1, 3, 4

Psalm 47 : 4

Psalm 99 : 4, 5

Skrifberymimg 18-7 : 1, 7

Die tempel in Jerusalem het bestaan uit verskillende vertrekke. Die éintlike tempel was maar klein en het slegs bestaan uit die “Heiligdom” en die “Allerheiligste” van mekaar geskei deur die voorhangsel. Vóór die ingang tot die heiligdom, was die binnehof vir die priesters en vóór dit nog binnehof, genoem die binnehof vir die vroue. Die heel buitenste area was die “buitehof”. Die buitehof was die area waar die nie-Jode – heidene - kon kom. Hulle kon nie verder gaan nie. Die binnehof vir vroue was weer die enigste area waar vroue kon kom. Toegang tot die binnehof vir vroue is verkry deur die “Mooipoort”. In die binnehof vir vroue was die tempelskatkis gemonteer. Dit was ook in die binnehof vir vroue waar die finale seremonie van die Loofhuttefees gebeur het. Die fees van 7 dae was 'n verpligte fees waartydens die woestyntog herdenk is. Die water wat uit die rots gekom het toe Moses dit met sy staf geslaan het, is uitgebeeld in die “water seremonie” waar die Hoëpriester water uit die Bad van Siloam op die altaar gestort het. Dit gebeur die 7de dag van die fees. Dit was ten tye hiervan wat Jesus uitgeroep het: “Drink van Mý en strome lewende water sal uit jou binneste vloei.” Die aand van die 7de dag van die Loofhuttefees, ná afloop van die water-seremonie, was daar nog ‘n aksie wat die “verligting van die tempel”, genoem is. Dit was 'n herdenking van die vuurkolom/verligte wolk wat tydens die woestyntog voor die volk uit gegaan het om te lei en te verlig. Bedags was dit 'n wolkkolom, snags vuur – beelde van God se genadevolle teenwoordigheid. Tydens die ligseremonie is 'n reuse kandelaar opgerig en die lig daarvan het Jerusalem letterlik die hele nag verlig. Dit was skouspelagtig. Die binnehof het nie 'n dak gehad het nie en het die ligglans die hemel verlig. Met hierdie inligting in gedagte, verstaan 'n mens Johannes 8: 12-20 beter.

Jy kan die impak voel. Vers 20: Jesus het by die skatkis in die tempel gestaan terwyl Hy gepraat het in die binnehof vir die vroue. En volgens vers 2 was dit die dag ná die Loofhuttefees. Die reuse kandelaar wat die vorige nag gebruik is vir die verligting van die tempel seremonie, het nog lewensgroot in die binnehof gestaan. Die ligglans was nog in almal se gedagte. Die Jode sou tydens die ligseremonie die woorde van Jesaja 42:6/ 49:6 in hulle koppe gehad het. Dit is twee groot Messiaanse profesieë waar God beloof dat Hy 'n lig vir die nasies gaan stuur. Dit dui op die Messias wat sou kom. Teen hierdie agtergrond sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal sekerlik nie in duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” – v 12. Dink aan die impak wat dit moes gemaak het. Hý is die vervulling van die “verligting” seremonie. Hý is die vervulling van Jesaja en al die ander profete se profesieë. Hý is die langverwagte Messias. Hý is die Son van geregtigheid waarvan Maleági gepraat het. Dit is die boodskap van Jesus se koms. Sy aansprake laat geen ruimte vir neutraliteit toe nie. Soos die kandelaar tydens die seremonie die nagtelike hemelruim bo Jerusalem verlig het, só is Jesus van Nasaret die lig wat die duisternis van die mens se bestaan op aarde verlig! Die wêreld waarin ons leef is middernag-donker. Ons beleef die gevolg van die sondeval - onreg en korrupsie, diefstal, moord ens. Die ou mens is aanhoudend besig om te sondig/'n lewenstyl van sonde te handhaaf en homself meer en meer van God vervreem. Dit is ‘n doolhof waarin miljoene mense vasgedraai sit en probeer oplossings buite God vind. Gedurigdeur dryf die mens se innerlike aptyte en luste hom verder die duisternis in. Sonder om dit ooit te vind, soek die mens die “goeie lewe” dáár waar dit nie te vinde is nie. Sommige vlug weg van die duisternis van sonde/ droefheid/ hopeloosheid/ doelloosheid/ eensaamheid/ verwydering en gaan verdrink in die dieper duisternis van die sonde-oseaan. 'n Mens sou dink dat as die mens hoor dat daar Lig is en dat dit Jesus Christus is, die mens na Hom sal hardloop. Jesus het gesê die mens het die duisternis méér lief as die lig - Joh 3:19. Ons sien dit duidelik in die reaksie van die Fariseërs & Skrifgeleerdes op Jesus se uitspraak dat Hý die lig is. Hulle reaksie wys hoe lief hulle die duisternis het. Hulle is bang vir die lig, want God se Lig ontbloot hulle harte stel hulle ware toestand aan die kaak. Hulle het hulleself meer lief as vir God. Daar is 'n beginsel in die OT – Deut 19 & Num 35 – dat 'n belangrike uitspraak bevestig moet word deur 2/3 getuies. Nou haak die Fariseërs daarby aan en sê: “Hoe kan u – sonder enige getuies – só 'n uitspraak maak. Dis ongeldig.” Hulle sê hulle kan nie die Here Jesus op Sy woord neem nie: Waar is die getuienis? Na al die wonders. Sou hulle regtig oortuig kon word? Nee. Die mens is daarop uit om die Here Jesus te betwyfel, Hom af te kraak, foute in Sy Woord te soek, Hom te kritiseer en te spot en kan NOOIT die waarheid ontdek nie! Wat antwoord die Here hulle? “Al sê ek dit sonder getuies, is dit die waarheid – op grond van 3 redes: No 1: Ek weet waar ek vandaan kom. Ek ken myself. Ek is God. Julle verstand is verduister deur die duiwel. Julle kyk na die uiterlike. Julle oordeel o.g.v die uiterlike. Julle oordeel kom by die wederkoms, maar nou is Ek nie hier as Regter nie, maar as Redder. No 2: Dit is die waarheid omdat Ek dit nie op my eie sê nie, maar die Vader is saam met my, want Ek en die Vader is één. Saam met Hom, is ek God. God die Vader praat altyd die Waarheid en Ek en Hy is één. Ek praat nie op my eie nie. No 3: Ja, dit staan in die OT geskryf dat die getuienis van 2 waar is. Ek en My Vader is die 2 getuies wat die Wet vereis. Daar is die 3 redes: 1 Jesus weet alles, 2 Jesus en die Vader is een, 3 Jesus en die Vader is die twee getuies wat vlgs die OT vereis word. Nooit kon die Fariseërs só 'n antwoord verwag nie! Dit bevredig hulle ook nie. “Wáár is jou Vader?? Ons kan Hom nie sien nie. Bring Hom, dat ons Sy getuies kan hoor. Waarop Jesus dan sê: “As julle Mý geken het, sou julle Hóm geken het. Maar selfs al sou Hy hier voor julle kom staan en sê “DIT IS EK” sal julle Hom nie ken nie. Dit is die tragiese. Julle spandeer julle lewe om die Vader te ken en die OT-Bybel te bestudeer, en tog ken julle Hom nie, omdat julle MY nie ken nie.” Ons moet baie mooi na hierdie woorde luister, want daar is 'n algemene idee in omloop dat dit wel moontlik is om God te ken al ken jy nie vir Jesus 100% nie.

Mens hoor mense wat sê: “Ek praat met God wanneer ek probleme het..” Of: “ek glo net in gebed.” Wel, 'n Boeddis kan dit ook sê. Teoloë wat sê: “Waaroor so besorg wees oor die Moslems, Hindoes, Boeddiste? Hulle dien almal vir God – net op hulle eie manier. Dis net verskillende paaie na een en dieselfde plek.” NEE!!! Niemand ken die Vader behalwe deur JESUS nie! Dalk moet baie meer besorg wees oor wat WAARHEID is en wat leuens en misleiding is. Omdat Jesus en die Vader één is, sê Hy: “Ek is die lig van die wêreld. Wie my volg, sal nie in duisternis wandel nie, maar sal die lig vd lewe hê.” Kyk mooi na hierdie belofte: Die oplossing vir die chaotiese duisternis is nie iets nie, dis iemand! Dis 'n Persoon. Dis Christus. Net soos die vuurkolom voor die volk Israel uit beweeg het en hulle dit gevolg het, so ook die Here Jesus. Hy beweeg – dag en nag. Die mens wat Hom volg, moet ook bereid wees om te beweeg en te volg waar Hy lei. En as jy Hom volg, sal jy nóóit weer in die duisternis leef soos die tyd voordat jy 'n kind van Jesus geword het nie. Nooit weer nie. Dit is Sy belofte. Inteendeel: Jy sal léwe hê. Die duisternis is vir ewig verby. Sy lig is die lig vd léwe. Wat 'n verskil! Maar wat presies beteken dit om Hom te vólg? Waarvan praat ons as ons praat van vol-gelingskap van die Here Jesus Christus? Die Griekse woord vir “volg” wat hier in v 12 ge-bruik word, kan 5 betekenisse hê (ryk, soos die Griekse taal is). En daardie 5 betekenisse sê presies wat dit beteken om Hom te volg: 'n Soldaat wat sy offisier volg. Wanneer die offisier 'n sekere bevel gee, sal die soldaat nooit in die teenoorgestelde rigting gaan nie. Nooit. Die offisier dink vir die soldaat se part. 'n Slaaf wat Sy eienaar/meester bedien/dien en volg. En wat 'n wonderlike meester is Jesus nie! Om Hom te volg beteken om Hom met blydskap te dien/bedien. Om Jesus te volg beteken om Sy advies na te speur in die Bybel. Om noukeurig te lúíster. Nie jou eie kop te volg nie. Bereid te wees om te volg en te dien. En deur die Heilige Gees inwendig verander te word na Sý beeld.