015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Jesus Christus, die Logos, is die oorwinnaar.

Jesus Christus, die Logos, is die oorwinnaar.

Sunday, 23 August 2020 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
Openbaring 19: 11 – 21 , Johannes 1: 1 – 4 Fokusteks: Openbaring 19: 11, 13

VIDEO OPNAME

Liedere

Psalm 107: 1, 10 ;

Psalm 110: 1, 4

Jesus Christus die Bruidegom, die Lam kom in heerlikheid na die wêreld as die oorwinnaar. Toe Hy voor die kruisiging die stad Jerusalem gesien het, het Hy gehuil en op die rug van ‘n donkie die stad binnegery. In ‘n staat van vernedering het die Christus sy werk tot volle uitvoering gebring. Hy sterf aan ‘n vloekhout.
Maar nou sien Johannes ‘n oop hemel met die Logos – die Woord van God – op ‘n wit perd. Hy is die Oorwinnaar. Christus se voorkoms, optrede en hoe Hy sy vyande oorwin staan in die middelpunt. Hy is op die oorlogspad met ‘n kop vol krone - Christus het onbeperkte mag, majesteit en heerskappy. Die draak wat die kerk direk aanval, saam met die vals profeet en die antichris gaan vernietig word. Die aasvoëls gaan hulle lyke eet. Die Betroubare kom vervul God se belofte van Gen 3: 15. Die laaste vyand, die Duiwel, is vir ewig in die poel van vuur en swael gegooi. Glo jy dit? Lees HK vr 35.
Dit is elke gelowige se troos. Toe God die openbaring aan Johannes gegee het, het die kerk geweldige vervolging onder die Romeinse keisers ervaar. Elke keiser wou die vorige uitstof om nuwe tegnieke uit te werk om die skare te vermaak op die manier waarop christene in die arena vermoor is. Dit het gelyk asof die bose magte die oorhand kry en die kerk uitgeroei gaan word. Die jong kerk het gesteier onder die aanslag van Satan. Onder die inspirasie van die Heilige Gees het die woord deur gelowiges na die uithoeke van die ryk versprei. Mense het die Lig gesien in ‘n wêreld wat in Rome se donkerte vasgevang was. Die verleidingsgees van Rome kon die kerk nie oorwin nie.
Wat leer die Here ons vandag? Ons beleef nie in ons land openlike vervolging van die kerk nie. Ons beleef wel die subtiele planne van die bose magte om die inwoners van God af te trek.

Politieke byeenkomste en Kabinetsvergaderings gebeur op Sondae. Om die Here te dien en Sondag in erediens saam met medegelowiges bymekaar te kom word as oudmodies en uitgedien beskryf. Om gelowig te leef en om openlik te getuig van dit wat God leer, maak van jou iemand wat sogenaamd onverdraagsaam is en nie ander se gevoelens in ag neem nie. God word openlik teengestaan in die skole, waar godsdiens verbied is. Die kerk word ‘n plek waar politiek bedryf word. Die stryd tussen goed en kwaad kom al meer na vore. Die ligdraers van Jesus Christus word as die leuenaars voorgehou en dit wat in stryd met God en Sy woord is, word as waar en reg voorgehou. Jy mag nie meer verkondig dat daar iets soos sonde is nie. Jy is dan “intollerant”. Die lewe word ‘n grys vlakte waarin alles goed gepraat word. Die oortreders van God se gebod – Jy mag nie steel nie – word deur die regering beloon met nuwe, groter en beter aanstellings. Wêreldwyd is korrupsie die grootste gevaar vir lande se ekonomiese groei en ontwikkeling. Die mensdom is vasgevang in ‘n stryd tussen goed en kwaad, tussen lig en donker. In SA letterlik so vir ons skole, danksy al die ongerymdhede by Eskom.
Maar die stryd gebeur nie net daar buite in die samelewing nie. Dit gebeur binne-in ons. Ons beleef daaglikse aanvalle van die Satan. Versoekings neem toe, veral wanneer die effek van die pandemie groter word. Ons mag nie laks word en dink dat ons nie meer ‘n verantwoordelikheid in hierdie land het nie. Ons is die lig vir mense rondom ons. Jy is die steunpilaar vir jou mede broer en suster wat in die tyd swak word in die geloof. Bid vir mekaar. Bid dat ons nie afvallig word en op verkeerde paaie beland nie.
Ons word hier getroos en gewaarsku. Die tyd is besig om uit te loop. Die goeie oorwin. Die waarheid oorwin die leuen. Die swaard van die Woord sal die nasies verpletter. Sommige sal buig in eerbetoon, ander sal huil omdat die tyd op is. Dien die Here en bly getrou aan Hom. Hy is in beheer van die magte van hierdie wêreld. Hy is oppad met al Sy uitverkore kinders na die nuwe Jerusalem. Neutraliteit in die stryd bestaan nie. Waar staan jy vandag en wat doen jy elke dag? Aanbid God. Jubel saam met die hemelkoor: Halleluja. Prys Jahwe.