015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | God se belofte is ons lewenslange waarborg

God se belofte is ons lewenslange waarborg

Sunday, 13 December 2020 - 9:30am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Galasiërs 3: 21 - 4: 7

Kyk Video opname hier

Skriflesing

Galasiërs 3 vs 21 - 4 vs 7

Fokusvers Galasiërs 3: 27

Liedere

Psalm 146: 1, 2, 8

Skrifberyming 12-3: 1, 2

Psalm 130: 1, 2

Psalm 105: 5

Lied 188: 1, 2, 3

Ons wil graag verstaan wat dit beteken om gedoop te wees. Die mens word te maklik in die sentrum van die doop geplaas in plaas van God. Baie glo dat die doop iets sê oor die geestelikheid wat binne-in die mens teenwoordig is terwyl die doop in werklikheid iets sê oor dít wat God aan die mens toesê terwyl die mens nog innerlik bankrot is! As 'n mens mooi na die verskillende dooptekste in die Bybel kyk, sien jy hoe die doop elke keer die mens vasbind aan die werk wat alleen Christus aan die kruis afgehandel het en dat dit vír die mens tel. Die doop sê presies dit: Ek is by Christus se heilswerk in-gesluit! Geloof vólg daarop. Nie vooraf nie! Die doop red nie, dit versterk en hou ons geloof in stand. Voorbeelde: 1 Petrus 3:21 – die doop knoop jou aan die opstanding van Christus vas Kol 2:12 - Die doop knoop jou daaraan vas dat jy ingesluit is by die begrafnis van Christus en die Heilige Gees werk dit in ons. Hand 22:16 - Die doop knoop jou aan die afwassing van jou sondes vas – Paulus se preek oor sy bekering. Die doop is ‘n teken en ‘n seël genoem. 'n Waarmerk/waarborg van iets. Ons sê ons plak 'n seël op 'n brief. Daardie posseël is 'n waarborg/waarmerk. Dit is die waarborg/versekering dat iemand ten volle vir die versending van die brief betaal het. Op grond daarvan moet die brief sy bestemming bereik. Dit is wat 'n seël is. In die Bybel word die besnydenis 'n seël genoem (Rom 4:11). In die OT het dit be-teken dat die besnydenis iets aan die besnedene gewaarborg het – aan die besnedene 'n versekering van iets gegee het. Wát het die besnydenis aan daardie mens gewaarborg? Waarvan was dit 'n seël/waarmerk? Dat die Messias se bloed vír hom/haar sal tel. Al was die persoon wat besny is net 'n pap babatjie van 8 dae oud, was die besnydenis 'n seël/waarborg/versekering van hoe ingesluit hy/sy alreeds by die toekomstige Messias se verlossingswerk is. Die besnydenis was nié 'n teken en seël van iets ('n geestelike deug soos geloof of wedergeboorte) wat reeds binne-in die babatjie teen-woordig is nie, maar iets wat buite die baba teenwoordig is (Messias se kruisbloed wat sou vloei) maar wat absoluut ten volle vír die baba tel. Nou kan u verstaan waarom die apostoliese kerk onmiddelik besef het dat presies dít die betekenis van die doop is. Omdat Jesus se bloed nou klaar gevloei het, is die bloedvloeiing van die besnydenis nie meer nodig nie (net soos die bloed van diere-offers nie meer nodig was nie), maar verander dit in water wat afwas/skoonwas. Waarom? Omdat die bloed van Christus aan die kruis die sondes van die mens se siel weggewas hét (Joh 1:29; 1 Joh 2:2). Aan die kruis het 'n universele volmaakte wassing plaasgevind. Wat is weggewas? Die sonde en sondeskuld van elke mens wat ooit gelewe het. Dít word persoonlik aan die dopeling op sy/haar naam gewaarborg. Dis 'n teken en seël = sakrament. Die doop waarborg nie die geloof wat in die dopeling is nie.

Dit waarborg aan die dopeling dat die bloed van Christus aan die kruis sy/haar sondes weggewas hét (volkome afgehandelde realiteit). Dit staan vas. Elke kind is ingesluit by Jesus se kruisdood en dit moet vir hulle geleer word. Daarom is die doop 'n seël. Die seël waarborg: Daar is ten volle betaal – dis 'n feit! Die brief sal sy bestemming bereik. Ons betaal ook seëlreg by die opstel van ‘n kontrak. Wanneer 'n mens 'n kar koop, ontvang jy ook so 'n seël – 'n waarborg. Die waarborg verseker jou van twee goed: 1) Die kar sal werk soos wat dit gemaak is om te werk en 2) Die vervaardiger sal instaan vir alle foute indien dit nié werk soos dit moet nie. Belangrik: Dit moet 'n fabriékswaarborg wees. Dis al wat regtig tel. Slegs die vervaardiger kan die waarborg wees! Slegs die máker kan instaan vir foute wat mag opduik.
Die ouers staan nie vir die kind in nie. Die ouers wy ook nie die kind aan God nie. Dit is God wat gee, nie die mens nie. Watter ouers kan die waarborg wees? Die doop is nie 'n kinderwyding nie. Die doop is nie die toewyding van kindertjies aan die Here nie. Kinderwyding beteken: Jý gee die kind aan die Here. Jý dra die kind aan die Here op. Die vraag is egter: Wie is die waarborg? Is dit die ouers? Nee. Daarom mag daar nie so iets soos kinderwyding in die kerk van Christus plaasvind nie. Die ouers mag nie kom en sê: “Ons is die waarborg en ons gee vir God die teken dat ons vir die kind sal instaan” nie. Geen mens kan instaan vir ander se sondes en sondeskuld en ewige verlossing nie.
Maar waarom het ons die gebruik dat die ouers op vrae moet antwoord? Ouers sȇ daarmee dat hulle getrou hulle kind sal bring sodat die evangelieboodskap aan hulle bedien sal word. Die doop het absoluut níks te make met die ouers se beloftes nie. Die doop verseël Gód se belofte aan die kind. Die ouers be-lowe om haar te leer en te laat leer. Sy kry ook nie haar naam deur die doop nie. Sy het haar naam gekry 'n paar dae ná haar geboorte toe haar pa haar by Binnelandse Sake gaan registreer het. Die doop verseël nie 'n sekere naam aan die dopeling nie. Die doop verseël God se belofte aan die verbondskind. Wat is daardie belofte nou weer? “So seker as wat hierdie water jou was, só seker het Jesus Christus se bloed jou sondes aan die kruis weggewas. Dit is totaal wég!” Die doop is 'n versekering. Die Here bevestig Sy belofte met 'n eed (Hebr 6:17) om alle twyfel uit die weg te ruim. Die doop funksioneer soos 'n eedswering van God se kant af - “Ek sweer in my eie Naam dat jóú sondeskuld aan die kruis afgeskryf is. Dus is daar niks wat jou verhinder om My te glo nie.” Ons moet versigtig wees vir allerlei sake wat die ware betekenis van die doop versluier sodat mense dit nie kan verstaan nie. En as dit nie verstaan word nie, beroof dit ons van al die troos, versekering, die blydskap. En al wat oorbly is leegheid. Belangrik is ook om te sien dat die dopeling sélf ook nie die waarborg is nie! Dat sý die waarborg moet wees van haar geloof of die regmaak van foute nie. Sy mag nooit die indruk kry dat die onus op háár rus om haar saak met die Here reggemaak te kry nie. Die kar wat jy koop kan tog nie sy eie waarborg wees nie! Die doopwater is die teken/ versekering daarvan dat haar sondes aan die kruis weggewas is. Dit is/word nie weggewas omdat sy eendag sal glo of op grond van haar keuse vir Jesus of haar bekering nie. Dit is deur Jesus se dood totaal weggewas. Dit is juis waarvan die doop haar verseker. Geloof en beker-ing beteken dat jy die genade van die Here hoor en glo. Dat jy ontdek wát eintlik nog al die tyd joune was en en dit met jou hele hart glo. Jesus se bloed stel jou blaamloos en sonder skuld voor God! Jy wórd 'n bekeerde mens! Die doop waarborg/verseker dus nie die feit dat jy glo nie. Dit waarborg/verseker/verseël wat jy glo – die inhoud van wat jy glo, naamlik die Bybel se belofte dat die bloed van Jesus jou sondes aan die kruis weggewas het. Ons sou daarom kon sê 'n mens glo op grond van dit wat jou oop afteken. Jy word nie gedoop op grond van jou geloof nie. Die water wys nie op iets wat binne-in jou teenwoordig is nie, dit wys op die bloed van Christus aan die kruis. Daarom mag jou doop lewenslank jou anker en versekering wees. Elke kind moet geleer word om aan die inhoud vd geloof vas te hou: Jesus se kruisoffer – dááraan mag sy lewenslank vashou. Sy moet van die waarborg leer. Oortuig uself uit Galasiërs 3:27: “Wie in Christus gedoop is, is met Hom aangetrek”. Nie die doop opsigsélf verenig ons met Christus nie (geen uiterlike ritueel of muni-sipale water het sulke mag/vermoë nie), maar die doop gee ons die versekering daarvan dat Gód ons by Christus ingesluit het toe Hy aan die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het. Die Heilige Gees werk die geloof deur die verkondiging van die Woord van die Here. Daarom hoor ons Sola gratia - genade alleen.

Die doop is soos 'n pand wat versekering gee. Dis op daardie versekering wat ons vertroue/sekerheid gebou is. Die doop is 'n versekering nie en juis daarom so kosbaar. Dis soos 'n handtekening onderaan 'n testament. Die handtekening gee vir die erfgenaam die heerlike sekerheid dat sy pa hom regtig ingesluit het by R10 miljoen erfenis – al kan hy sy ore nie glo nie en al was hy nog 'n baba toe sy pa die testament opgestel het. Presies so werk die doop. Die beste beste nuus beteken absoluut niks as jy daarvan uitgesluit voel nie. Iemand kan op en af spring van vreugde omdat hy R2 miljoen gewen het. Goeie nuus, nie waar nie? Nee nie vir jou nie, want jy deel nie daarin nie. Goeie nuus is nie goeie nuus indien jy nie daarby ingesluit is nie. Wat maak die goeie nuus van die Evangelieboodskap die beste nuus? In hoe Gód sake sien, word jý ten volle deur Jesus Christus verteenwoordig. Jy is ingesluit. En dit is wat die doop aan jou verseël/waarborg. Die doop verseker jou dat jy ingesluit is. Juis daarom mág jy God onvoorwaardelik glo en uit Sy ewige beloftes lewe, dat jy reeds deel in die ewige erfenis wat vir jou gewaarborg is en in die skat-kamers van die nuwe Jerusalem beskikbaar is.