015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Geen ander pad vorentoe as Jesus nie

Geen ander pad vorentoe as Jesus nie

Sunday, 14 March 2021 - 9:30am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Johannes 14: 1-14

Kyk videoopname hier

Liedere

Psalm 146: 1, 8

Psalm 25: 2

Psalm 33: 5, 6

Psalm 115: 8, 9

Skriflesing Johannes 14: 1-14

Na 3 jaar van intiem saam met die dissipels lewe, gebeur die 1ste nagmaal. En terwyl hulle aanlê, daar was geen tafel nie, sê Jesus: Petrus gaan My hierdie nag verloën, een van julle gaan My vannag verraai. Maar moenie ontsteld wees nie. Dis deel van My lyding en verheerliking wat moet gebeur. Jesus is besig is om Sy dissipels voor te berei vir die voltooiing van God se raadsplan met Sy koms na die aarde. ‘n Naglange marteling wag op Hom. Hy weet dat die kruis die uiteinde gaan wees, maar hulle verstaan nog nie regtig Sy missie na die aarde nie. Hy wil nie hê dat hulle ontsteld moet wees oor wat gaan gebeur nie. Wat voorlê is inderdaad ontstellend.
Jesus roep die dissipels op om in God te glo. Dit wat hierdie nag en more gebeur, is van so ‘n aard dat die wat nie in God en in Hom glo nie, nie staande sal kan bly nie. Net geloof sal hulle staande kan hou. Hulle lewe gaan vannag ingrypend verander. Sonder geloof is alles vergeefs en sonder geloof kan ons nie anders as om onsteld te word deur alles wat gebeur nie. Sonder geloof kan ons nie lewe nie. Glo in God; glo ook in My. Jesus sê vir hulle dat Hy na Sy Vader gaan, vir hulle plek sal berei en hulle dan kom haal. Met enkele penstrepe skets Hy die toekoms van die wêreld vanaf die versoening tot by die wederkoms. Tipies menslik sê Thomas dat hulle nie weet waarheen Jesus gaan nie en dus ook nie die pad ken nie. Dan antwoord Jesus: Ek is die weg en die waarheid en die lewe.
Hiermee sluit Jesus aan by die wêreldbeeld wat destyds algemeen bekend was. Toe is daar nie net geglo dat die aarde ‘n plat vierkant is wat op pilare rus, met die hemel bo en die see onder die aarde nie, maar ook dat die hemel die plek van volmaaktheid was. Daar was geen duisternis nie, net lig. Daar was geen pyn of lyding nie, net oorvloed en vreugde, daar was nie dood nie, net lewe. Dit is waar God gewoon het. Van die aarde kon geen mens by of in die hemel kom nie. Die hemel was as’t ware ‘n geslote ruimte vir die mens. Die Grieke het geleer dat jy moet vorder in denke om by die godheid uit te kom.

In die Evangelie van Johannes, waar hierdie wêreldbeeld sterk na vore kom, word iets radikaal nuut bely. Jesus kom van die hemel na die aarde toe. Hy is egter meer as net ‘n gestuurde, Hy is een met die Vader, self God. God stuur Hom na die aarde. Nou voltooi Jesus hierdie prentjie. Hy kom nie net van die hemel na die aarde nie, Hy gaan nou terug hemel toe. Hy maak die pad na die hemel toe oop. Met Sy koms het Hy die een baan geopen; van die hemel na die aarde. Nou gaan Hy die ander baan voltooi en oopstel: van die aarde na die hemel. Dan is die hemel en die aarde nie meer twee geskeie ruimtes nie, maar een. Dan sal die hemelse na die aarde vloei en kan die mens na God toe gaan. Die hemelse, die lig, lewe, liefde, oorvloed, genade en al die ander wonderlike dinge kan deel van hierdie lewe word. Die gelowige se lewe eindig nie sinloos in die graf nie, maar gaan nuut voort in die hemel.
Ek is die weg na die Vader, sê Jesus. Die pad na God is oop. Ons kan God ken, ons kan na Hom toe gaan, nie net na die dood nie, maar vandag in geloof deur gebed. Ons kan Hom loof en prys. Ons kan by Hom kla, ons kan met ons versoeke na Hom toe gaan. Die pad is oop. God se deur staan oop vir wie in Hom glo. Jesus is die poort en die pad. Hiermee sê Jesus dat die aarde nie ons finale bestemming is nie. Ons reis met Hom gaan deur Hom na die hemel toe, na God se woonplek toe. Die Openbaringe getuig daarvan – daar kom ‘n nuwe hemel en nuwe aarde.
Dit is belangrik dat dit nie in die eerste plek wys op ons reis na die dood nie. So asof ons hier op aarde leef en dan na die dood hemel toe gaan nie. Die pad is nou reeds oop. Ons moet daagliks na God toe gaan. Van Hom moet ons elke dag dit ontvang wat ons nodig het om Sy werk hier te doen. Nou moet ons die hemelse na die aarde toe bring en dit hier in ons woorde en werke weerkaats – die vrug van die Gees leef. Dit gebeur as ons soos Jesus leef. In liefde leef en Sy lig laat skyn, Sy werk doen.
Jesus sê ook dat Hy die Waarheid is. Ons dink aan waarheid asof dit ‘n objektiewe en feitelike korrekte stel gegewens is. Jesus sê Hy is die waarheid - ‘n Persoon. In die Bybel word waarheid en lig telkens saam gebruik, geen wonder dat ons ook lees dat Jesus die lig is nie. Waarheid is om in verhouding te staan. In verhouding met Jesus. Vra ons dan wat die regte ding is om te doen, dan kom die antwoord: wat ons in opregte verhouding met Jesus doen. Saam met Hom en tot eer van God. Dis die waarheid. Leef ons in verhouding met Jesus, dan leef ons in die waarheid.
Jesus sê verder dat Hy die lewe is. Buite Hom is die dood en is daar geen lewe nie. Hiermee word nie bedoel dat mense nie kan asem haal en bestaan sonder Jesus nie, maar dat mens nie sinvol kan bestaan buite Hom nie.

Lewe is om aan God gebind te wees deur die Heilige Gees. Om een met Jesus te wees. Elders het Jesus gesê dat die ewige lewe is om aan God te behoort. Dis lewe. Nie sinlose bestaan nie. Hy is die Skepper, en Hy gee aan alles lewe. Deur die verbreking van die band met God, verloor die mens sy lewe, al haal jy nog asem. Jesus se bloed wat aan die kruis vloei is die lewensband met die Vader. Hy sterf om ons aan God te bind en ons so die ewige lewe gee. Sonder Jesus kan ons nie lewe nie. Ek is die weg en die waarheid en die lewe sê Jesus. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. Dit glo ons. Dit is die boodskap wat ons aan almal oordra in die liefde van Christus. Hy is die enigste pad, die volle waarheid en die ewige lewe