015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | In die vrug van die Gees proe ons Christus

In die vrug van die Gees proe ons Christus

Sunday, 13 June 2021 - 9:30am
Dominee: 
Teks: 
Johannes 15, Galasiërs 5: 22
Skriflesing

Johannes 15

Galasiërs 5: 22

Liedere

Psalm 84: 1, 4

Skrifberyming 12-3: 1, 2

Skrifberyming 9-3: 1, 2

Skrifberyming 9-4: 1, 6

Psalm 134: 4

An apple a day keeps the doctor away’ sê die Engelse spreekwoord. Dit is woorde waarmee die meeste van ons bekend is. In Galasiërs 5:22 gaan dit ook oor ʼn vrug – ʼn baie besondere vrug. Dit groei ook aan ʼn baie besondere vrugteboom. Dit is die mooiste en heerlikste vrug op die hele wêreld: die vrug van die Gees. Kom ons bekyk hierdie vrug ʼn bietjie nader. * Van gawes na vrug Om in tale te spreek, die gawe van genesing of die gawe van profesie trek aandag. Ons hoor nie so dikwels van gawes wat minder aandag trek nie. Dink hier maar aan onderrig gee, om te vermaan of om te dien. Maar al hierdie gawes is iets heel anders as die vrug van die Gees. Gawes verskil van persoon tot persoon. Ons lees in die Bybel oor een en dieselfde vrug by almal. Dit groei by elkeen in wie die Gees woon en werk. Wanneer ons die vrug met die gawes vergelyk, is dit duidelik dat die vrug die gawes ver oortref. Die vrug is mooier as enige gawe. In 1 Kor 13 lees ons van Liefde! Liefde is belangriker as enige gawe. ʼn Mens kan oor die mees voortreflike gawes beskik, maar as jy nie liefde het nie, beteken dit niks. Waarom die woord vrug en nie werk nie? Christus is die wingerdstok. Die vrugte groei aan die lote wat aan Hom geheg is. Die Gees neem dit uit Christus en plaas dit in ons. Hy laat die vrug groei, deur jou met Christus te verbind, en jou op Hom te laat vertrou. Kom ons bekyk eers die woord vrug. Dit is eintlik nogal leersaam. Dalk het jy ‘n vrugteboom in jou tuin: maar wat kan jy eintlik bydra tot die groei van vrugte? Jy kan die boom bemes, snoei en natlei. Maar om vrugte te laat groei, is nie binne ons vermoë nie! Nie die begin van die proses of die verdere ontwikkeling nie.

As vrugte begin groei, kan jy dit nog bespuit teen peste. Jy kan die plant beskerm, sodat dit mooi groei en nie beskadig word nie. Maar dit is alles werk van buite af. Jy kan nie die proses self aan die gang sit nie. Ook nie die groei beïnvloed nie. Alles kom van God. Die hele begrip vrug beteken dit is nie afhanklik van ons prestasie nie. Die hart van ons Christelike geloof is immers: Dit is genade van God af. Hy doen alles vir ons. Die Gees kom hernu en verander jou hart, jou wil, verstand en gevoelens. In die ’53 AV lees ons in Gal 5: 19 oor die ou mens en lees ons oor die werke van die vlees. Dan volg daar ʼn hele lys van sondes: owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid ... vyandskap, twis, jaloersheid ... ens. Dit is eie werke, waarmee ons elke dag worstel. Teenoor hierdie werke van die vlees staan nou die vrug van die Gees! Vir hierdie vrug sorg God en die Gees laat dit groei. * Die gesindheid van Christus groei in ons: Hoe groei hierdie vrug? In Johannes 15 beskryf die Here Jesus hoe dit werk wanneer Hy vertel oor die wingerdstok, lote en vrugte. Christus is die wingerdstok. Die vrugte groei aan die lote wat aan Hom geheg is. Die Gees neem dit uit Christus en plaas dit in ons. Hy laat die vrug groei, deur jou met Christus te verbind, en jou op Hom te laat vertrou. Jy glo nou in Hom, in wie Hy is en wat Hy in jou doen en hoe Hy dit doen. Deur jou geloof begin Christus binne-in jou leef. Dink aan die sap wat uit die wingerdstok na die lote vloei. Dit het dan ʼn resultaat: ʼn vrug begin groei. Watter vrug? Oor hierdie vrug sien ons hierbo nege woorde: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Opvallend het dit alles met ‘n nuwe gesindheid te doen. Die gesindheid wat in Christus is, begin in jou groei. Die eerste drie woorde is: liefde, blydskap en vrede. Wanneer ons Johannes 15 lees, kry ons: liefde (Joh 15:9): ‘Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook lief. Bly in hierdie liefde van my.’ het Jesus gesê. Liefde kom van die Vader. God is liefde. Blydskap (Joh 15:11): ‘Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.’ Blydskap kom van Christus en die Vader. Vrede (Joh 14:27): ‘...my vrede gee Ek aan julle.’ Vrede kom van Christus en God. Hy is die God van vrede. By elke woord kom ons uit by Christus; en so by God. ‘Lankmoedigheid’ of geduld - so is God. God is ʼn Vader met groot geduld. Vriendelikheid. In 2 Kor 10:1 staan daar: ‘Ek ...bid julle by die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus ...’ Dit is hoe Christus is en só is God. By elke woord is dit duidelik van welke boom die vrug afkomstig is. Die vrug van die Gees groei slegs aan die boom: Christus. Aan die vrug ken ons die boom (Mat 7:15 ev.). Hier het ons te doen met die kern van die werk van die Gees. Hy leer ons om te glo in Christus en om in en deur Hom te leef. Hy hernu ons na Sy ewebeeld. Vanaf Pinkster het dit ʼn werklikheid geword, wêreldwyd. Oral oor die hele aarde begin mense om soos Christus te lyk. Sy beeld word oral sigbaar.