015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Die Here ken jou Naam

Die Here ken jou Naam

Sunday, 12 July 2020 - 9:00am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Openbaring 7: 9 – 17
Tema: 

VIDEO OPNAME

Lees: Openbaring 7: 9 – 17

Brs en srs, ons lees van dramatiese gebeure wat vir ons in hierdie profesie beskryf word. Verlede week het ons van die perde gehoor wat een na die ander uitstorm in die stadion van die geskiedenis. Johannes is steeds in die Gees en die Gees is die eintlike skrywer van die brief.

In die gedeelte sien Johannes na die visioen van die 144 000 ‘n feesvierende menigte wat voor die troon palmtakke swaai. Hulle is in die direkte teenwoordigheid van God en die Lam. Dit beteken dat daar geen sondesmet aan hulle is nie. Ons lees dat hulle beklee is met wit stolas – Grieks vir lang kleed. Die kleed beeld uit – reinheid en heiligheid. Dit is deel van die belofte aan Abraham dat sy nageslag ontelbaar sal wees. Menigte beteken gewoon te veel om te tel. Hierdie mense kom van oral op aarde. Al die etnisiteite is hier teenwoordig. Die verlossing is universeel. Dit is nie beperk tot ‘n sekere volk of ras nie. Almal wat Christus as die enigste en ware Verlosser bely, deel in hierdie hemelse fees.

Die fees verwys heel moontlik na die fees wat die uittog uit Egipte herdenk het. Die Sukkot- of tabernakelfees. Die fees het gefokus op God se Verlossing, die insameling van die oes en die dankbaarheid wat daarmee saamgegaan het. Ons lees in 1 Kor 15: 20 dat Christus die eersteling van die oes is, en dat almal wat in Hom glo, Homs sal volg na die ewige Vaderhuis. En dit is presies waar die visioen ons plaas. In die hemel, voor die troon. En die verlostes jubel dat dit werklikheid / realiteit is.

Die Lam het die voorhangsel geskeur en alle verhindering is weggeneem. Daar is ‘n nuwe pad na die troonkamer van God. Hier is geen kommer oor die sonde en die verskriklike gevolge daarvan nie. Die hemelinge se fokus is volledig op 1 plek – God.

Die wat hier bymekaar is, is almal wat deur die groot verdrukking gekom het. Die verseëling van God se kerk gebeur. Elke seël is die bevestiging dat die intensiteit toeneem namate die tyd vorder. En almal wat hier is, het hulle hoop op God geplaas. In die storms van die lewe was Jesus Christus hulle lewensanker. In tye van swaar en seer het hulle troos gesoek en die HG het hulle bygestaan en gedra. Die Here het hulle trane afgedroog en Sy krag – dunamis – aan hulle gegee om te volhard.

Omdat die Here hulle rots op aarde was, en Christus groter as die grootste aanslag was, kan hulle jubel en juig. Die trane van die ou gebroke bedeling is verby. En ons hoor ‘n 7voudige lofroep voor die troon. Die lied word omarm met Amen, Amen.

Alles tussenin gedenk God se liefde en trou, die oorwinning wat Hy deur die Lam bewerk het. Dat Sy plan so radikaal ander is, as wat mense kan maak en bedink. Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie. En defnitief is Sy weë, nie ons weë nie. Sy plan loop deur donker en dood na ewige lig en lewe. Die Here slaan met ‘n krom stok ‘n reguit hou. Hoe kan ons nietige mensies ooit genoeg dankie sê?  

Kyk terug op jou lewenspad, sien almal wat saam met jou op die pad was, en sien God se genadige beskikking en leiding. Van skepping tot herskepping kan ons net God se plan besing. Selfs die anti-goddelike magte op aarde het meegewerk om die Here se plan te laat gebeur. Babel, Rome, Assirië en Egipte was almal rolspelers in God se plan. En so kan ons dit weer opnoem aan die einde van die 20ste eeu – Rusland, China, Amerika ens is almal meewerkers om God se doel te bereik. Niks is toevallig nie.Ook nie die Covid-pandemie nie.

Eer aan God as Alleenheerser.  Sy mag en sterkte beteken dat Hy onstuitbaar in vermoë is. Wat jy hoor is vas, waar en seker, geliefde broer en suster.

Die HG beklemtoon die Amen. Diegene wat vashou aan die woord van die Here kan alleen hoor deur die HG wat krag gee, Hy wat ore, harte en verstand open. Nie almal ontvang dit nie. Die getal van die uitverkorenes is vas. Bring jou dankoffer sonder ophou aan Hom wat vir altyd lewe. Die hemel is ons tuiste waarna ons nou verlang en uitsien. Die bedreiginge sal ophou. Die Herder sal ons beskerm, voed en versorg. Hy gee vir ons Jesus Christus, die lewende water.

Ons teks help om dit stil in ons binneste te maak en rustigheid in ons gemoed te bring. Ons kan tevrede wees soos ‘n kind by sy moeder. Ons troos is: Die Here ken jou naam. Dit is in Sy handpalms gegraveer. Ons weet verseker: na die stormnag kom Hy op die wolke. Die sekuriteit vir die kerk van die afgelope 20 eeue is en bly in God, ook vir die toekoms. Ons sukkel om alles te verteer en in te sien, maar kom ons jubel en juig, al is ons aardse woorde te min. Ons tydelike en ewige lewensmiddele sal altyd uit God se hand kom en nooit ophou nie.