015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Bly Staan in die Here

Bly Staan in die Here

Sunday, 1 November 2020 - 9:30pm
Dominee: 
Teks: 
2 Tessalonisense 2: 1 — 17

Kyk Video opname hier

Skriflesing

2 Tessalonisense 2: 1 — 17

Fokus teks vs 13 - 17

Liedere

Psalm 92 : 1 , 6

Psalm 9 : 7 , 12

Psalm 45 : 9 , 10

Psalm 128 : 1 , 4

Die tweede brief van Paulus, Silas en Timoteus hak aan by die eerste brief se laaste tema, die wederkoms, en probeer veral misverstande daaroor uit die weg ruim. Hy waarsku hulle om vas te staan ten spyte van vervolging en om hulle selfstandigheid in die werksituasie te behou, en nie leeg te lê weens ’n verkeerde wederkoms verwagting nie, moontlik op grond van ’n brief of profesie wat valslik aan hom toegeskryf word. Let op hoe hy Sy outeurskap van die brief bevestig in 3:17. Paulus is op grond van valse aanklagte uit die stad verjaag. Hy skryf sy brief vanuit Korinte in 50 nC. Volgens Hd. 17:5-9 en 1Tes 2:14 is die Tessalonisense deur die Jode en die heidene vervolg. 2 Tes 2:1-12 het verdere vervolging voorspel. Hoe moet gelowiges staande bly in sulke tye?

1. Dank die Here vir jou voorregte (v.13-14)

Wanneer dinge om jou sleg gaan, moet jy die Here vir jou voorregte dank. Wat is hierdie voorregte?

[a] Jy is Jesus se beminde, of geliefde. God het almal lief, maar Hy het ‘n besondere liefde vir sy bruid. Betwyfel jy vandag Sy liefde? Sy liefde hang nie af van hoe lieflik jý is nie, maar van hoe genadig Hý is. Daarom bly Sy liefde vir jou konstant. Toe Jesus aan die kruis gehang het, het God se liefde vir sondaars helder geskyn, terwyl Hy Sy Seun op dieselfde oomblik vir biljoene mense se sondes gestraf het. Verstaan jy hoekom v 13 jou die beminde van die Here noem?

[b] God het jou uitverkies: Verlossing is nie iets wat by die mens begin het nie. God het ons gekies voor die Skepping. Die verlossing was altyd deel van die plan dat Jesus vir ons aan die kruis sou sterf (1Pet. 1:20). A.g.v. ons sonde verdien ons die hel, maar God het besluit om ons nie ons verdiende loon te gee nie.  Hy het ons uitverkies om gered te word. Christus het gekom om die Vader se plan uit te werk, sodat Hy ons kan red van die mag van Satan, ons eie sonde, die dood en die hel. Omdat God ons gekies het om redding te verkry, kan ons nie sê: ‘God het my uitverkies en daarom kan ek lewe soos ek wil’ nie. God het ons juis gekies om heilig te lewe (Ef. 1:4). Glo in Jesus en groei in heiligmaking deur die Heilige Gees se werking. Onthou dat die uitverkiesing in die Bybel is, sodat jy getroos kan lewe. God wil jou verseker dat jy Syne is en dat niks jou van Sy liefde kan skei nie.

[c] Sy Gees het jou geheilig: Heiligmaking verwys na die proses waardeur die Heilige Gees ons meer en meer soos Jesus maak. Die Heilige Gees vat wat Jesus aan die kruis gedoen het en maak dit ‘n realiteit in ons harte. Die Heilige Gees verseker ons van die volgende: Wedergeboorte en reiniging van sonde, aanneming in God se huisgesin (Gal. 4:5-6), verseëling om te wys dat ons aan die Here behoort en dat die hemel ons erfdeel is, geestelike groei en hulp om God te gehoorsaam, God se liefde, blydskap, vrede, hoop, wysheid, genade, ens. Gemeenskap met die Vader en die Seun, voorbidding as ons swak is en nie weet hoe om te bid nie; hulp om reg te bid (Rom. 8:26-27), eenheid met die liggaam van Christus – medegelowiges (Ef. 4:3-4), hulp in ons verhoudings, hulp teen die duiwel en sy magte (Ef. 6:18).
Die Heilige Gees is God se Agent in ons verlossing. Sonder Hom sou Jesus se kruisdood en opstanding vir ons maar net geskiedenis gewees het. Sý werk verseker egter dat Jesus se verlossingswerk ons bevoordeel. Omdat die Gees so ‘n groot werk vir ons doen, moet ons Hom liefhê. Ons moet Hom nie as ‘n derderangse god beskou nie. Hy is God soos die Vader en die Seun, en daarom moet ons Hom eer en aanbid.

[d] Jy glo die waarheid (v.13) Om gered te word, moet jy geloof hê. As God ons deur ons werke moes red, sou ons in onsself roem (Ef. 2:9). Nou red Hy ons deur geloof - kennis en vertroue - sodat ons kan roem in die Een in wie ons glo, naamlik Jesus Christus. Die waarheid is ‘n Persoon en sy Naam is Jesus. As jy op enigiets of -iemand anders vertrou, glo jy ‘n leuen en kan jy nie gered word nie. Moet dus nie toelaat dat enigiemand jou oortuig dat alle godsdienste gelyk is, of dat alle paaie hemel toe lei nie.

[e] God het jou geroep (v.14) Uiterlike roeping gebeur wanneer iemand die evangelie preek. Innerlike roeping gebeur as die Here jou geestelike ore oopmaak om Sy stem agter die evangelie prediker s’n te hoor. Het jy dit al gehoor? As dit regtig Sý stem was, dan sal jy nie meer dieselfde persoon wees nie. Jy sal ‘n nuwe mens met ‘n nuwe hart en nuwe begeertes wees. Jy sal soos ‘n verliefde jong meisie wees wie se droomman haar sopas gevra het om te trou: jy sal nie kán ‘nee’ sê nie en sal ook nie wíl nie. Lees weer Ps 45 – die loflied oor die Koning en Sy bruid. Vgl Heb 1: 8 – 9 waar die psalm aangehaal word.

[f] Hy het jou bestem om verheerlik te word (v.14)

Dit is hoekom God jou gered het, naamlik om die heerlikheid van ons Here Jesus Christus te verkry. Volgens Paulus sal Sy heerlikheid deur ons skyn. As Hy weer kom, sal jy weet dat enige goeie ding in jou, eintlik van Hóm af kom. Jy sal Christus se lig weerkaats. As Christus se heerlikheid dan jou bestemming is, moet jy nie aardse rykdom, roem en heerlikheid najaag nie. Alles op aarde gaan tot niet en die nuwe gaan na vore kom.

Hou vas aan die Woord (v.15)

As Protestante glo ons in die gesag van die Bybel. Die Roomse kerk hou vas aan die gesag van die Bybel (met ‘n paar ekstra boeke), die Pous en kerklike tradisie. Hulle gebruik tekste soos 2 Tes 3:15 om die gesag van hulle tradisies te verdedig. Hier gaan dit egter oor Jesus se lering wat Hy deur die apostels se briewe en prediking oorgedra het. Om staande te bly teen die Man van Sonde, moes die gemeente nie daarvan afwyk en vreemde leringe glo nie; hulle moes vasstaan in die leer van die apostels. Dit is ook die lering waaraan ons moet vashou (2 Tim 3:14 - 17). Bly by die Woord van God: bêre dit jou in hart, lees dit, memoriseer dit, oordink dit, bestudeer dit, luister na preke; laat die Woord van Christus ryklik in jou woon.

Bid vir mekaar (v.16-17)

In die teks het ons weer ‘n voorbeeld van hoe Paulus vir die gelowiges gebid het. Hy het die Vader en die Seun gevra om hulle deur die Gees te vertroos. Die eerste troos is dat God óns Vader is en dat Jesus óns Verlosser is. Ons is God se kinders en Hy het ons lief, ook wanneer ons deur moeilike tye moet gaan. Verder is dit ‘n bemoediging dat Jesus ewig daar is om ons te troos. Soms voel dit of Hy ver weg is, maar volgens v16 is Hy persoonlik betrokke in ons lewens. Hy het ons lief. Die Vader en die Seun het dit bewys toe Jesus aan die kruis vir ons gesterf het.
God bewys ook sy liefde deur die ewige troos en goeie hoop wat Hy ons gegee het. Die ewige troos verwys na die hemel waar Hy ons trane afvee. Die goeie hoop is die vaste sekerheid wat ons het dat ons vir ewig by Hom sal wees. Dit is ‘n goeie hoop, omdat Jesus ons hoop is; dit is ‘n lewende hoop, omdat Hy opgewek is en omdat ons saam met Hom elke dag kan lewe .
God se troos en hoop kom deur Sy genade na ons toe. Ons kan dit nie verdien nie, maar ons kán en móét daarvoor bid. Ons het hierdie troos nodig om deur ons beproewings te kom. God se troos werk tot in die diepste deel van ons wese. Al is daar trane in jou oë en geen glimlag op jou gesig nie, is jy baie bewus van hierdie troos. Jy wéét dat daar mense is wat vir jou bid en dat die Here hulle gebede ver-hoor. Laat ons dan nie nalaat om vir mekaar te bid nie. Wanneer ons deur ‘n beproewing gaan, voel ons só swak dat ons nie die krag het om mekaar te bedien, of te bemoedig nie. Laat ons daarom saam met Paulus bid dat die Here ons sal versterk in alle goeie woorde en werke. Staan vas in die Here.